Weke lank agter tralies vir ‘diefstal’ van boks wyn

(Argieffoto)

Die regspan van ʼn Pretoriase vrou wat vir beweerde winkeldiefstal in hegtenis geneem is, dreig nou om hulle tot die hooggeregshof te wend, nadat sy reeds agt weke lank agter tralies sit sonder dat sy toegelaat word om vir borgtog aansoek te doen.

Sandra Otto (57) word daarvan aangekla dat sy ʼn boks wyn ter waarde van R49,95 by ʼn winkel in die Kolonnade-winkelsentrum in die noorde van Pretoria gesteel het. Haar familie sê sy het wel ʼn kwitansie vir die wyn wat die ondersoekbeampte in die saak nie wou aanvaar nie.

Otto is op 22 Maart in hegtenis geneem en het ʼn dag later die eerste keer in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn, waar die saak teen haar vir sewe dae uitgestel is. Die staat het aangedui dat haar aansoek om borgtog teengestaan gaan word omdat sy twee hangende sake teen haar het.

Die land het kort daarna weens die Covid-19-pandemie in ʼn staat van afsondering gegaan en Otto is sedertdien in aanhouding by die Kgosi Mampuru-tronk in die stad.

Haar prokureur, Robert van Wyk, sê Otto ontvang in dié stadium nie haar medikasie nie en word in ʼn oorvol sel aangehou. Ondanks ʼn landdroshof se bevel dat sy na die hof gebring moet word om te verskyn, weier die departement van korrektiewe dienste (DKD) om haar na die Pretoria-Noord-landdroshof te neem.

Van Wyk sê dit is waarskynlik die geval met baie ander mense wat die afgelope paar weke in hegtenis geneem is en in DKD-fasiliteite aangehou word. “Daar moet honderde ander mense in presies dieselfde bootjie wees,” sê hy.

Duisende mense is die afgelope paar weke vir veral oortredings van die afsonderingsregulasies in hegtenis geneem. In sommige gevalle betaal mense skulderkenningsboetes – wat tot ʼn misdaadrekord lei – óf hulle word op polisieborgtog vrygelaat om later in die hof te verskyn. In die howe word sake weekliks uitgestel omdat die beskuldigdes nie die hofverrigtinge kan bywoon nie.

Van Wyk sê hy kon ook nog nie weer met sy kliënt vergader nie omdat hy nie by die tronk toegelaat word nie.

“As die departement nie binne dae duidelikheid oor die saak gee nie, gaan ek genoodsaak wees om die hooggeregshof te nader om die departement te dwing om my kliënt na die hof te bring.”

Van Wyk voer aan dat Otto nie ʼn vlugrisiko is nie en dat hy met haar volgende hofverskyning gaan vra dat die saak teen Otto van die rol geskrap word. Hy sê ingevolge die Strafproseswet en die Grondwet is ʼn beskuldigde geregtig op ʼn spoedige en billike verhoor. Sy het ook die reg om vir borgtog aansoek te doen.

Hy sê ondanks verskeie skrywes aan die departement van justisie en selfs die nasionale direkteur van openbare vervolging, het hy nog geen terugvoer oor die saak gekry nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die DKD gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jaco ·

Dis niks nuuts nie. dis mos maar hoe dit gaan met wit mense in SA.

Eerlik ·

Vir R50 book hulle haar in by Kgosi Mampuru tussen geharde misdadigers. Daar is 19000 kriminele wat net vrygelaat word maar hierdie tipe van sake kry geen regverdige aandag nie!!

Nie Verbaas ·

Ai, dit is die enigste bietjie mag wat die ou spulletjie het, misbruik hulle. Hoe pateties kan mens wees?

Termiet ·

Blatante diskriminacije en rasisme. Maar ek glo dat die geskiedenis homself sal her haal.

Des ·

Sy is ongevonnis. SAPS se veranteoordelikheid. Nie DKD sin nie. Iemand het nie hul huiswerk gedoen nie.

Niel ·

Des, jy is heeltemal reg. Dit is die Polisie se verantwoordelikheid

Amatambo ·

En sover ek kan onthou is die huidige minister van sogenaamde “JUSTISIE” ook maar bra anti-wit…

Kruger ·

Baie onregverdig maar………watse “twee ander sake”??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.