Weldoeners maak harte en beursies oop vir klein Juandré

Juandré Gouws. Foto: Verskaf

Die ouers van die tweejarige Juandré Gouws – die jong kankerlyertjie van Vereeniging – sê hulle is oorstelp van vreugde en dankbaarheid nadat weldoeners landwyd genoeg fondse geskenk het sodat dié jong vegtertjie ʼn lewensnoodsaaklike operasie kan ondergaan.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie, het Vrydagoggend bevestig dat genoeg geld tot dusver ingesamel is om vir die eerste operasie te betaal.

Maroela Media het vroeër berig retinoblastoom (oogkanker) is vroeër vandeesmaand by Juandré gediagnoseer in sy regteroog. Die gesin het egter nie ʼn mediese fonds nie, en het ʼn pleidooi aan die publiek gerig om hul seun se lewe te help red.

Schoeman sê hoewel die gesin opgewonde is dat die eerste operasie befonds is, lê ʼn ver pad nog vir die gesin voor.

Eurika Maass van die Gautengse hospitaal waar Juandré behandel gaan word, het bevestig dat hy na dié operasie ten minste nog twee ander ook moet ondergaan.

“Tydens die tweede operasie sal die rekonstruksie van die oogkas plaasvind, waartydens ʼn hidroksie-apatiet-prostese met donorsklera ingeplant word. Die beraamde koste daarvan is R40 000. Die kunsoog sal tydens die derde operasie by ʼn okularis gemaak word, en die beraamde koste daarvoor is R10 000,” het sy in ʼn e-pos gesê.

Al die fondse wat tot dusver aan klein Juandré geskenk is, sal oorgedra word vir die derde en vierde operasie. Schoeman sê egter daar is steeds ʼn tekort aan finansies om die laaste operasies te befonds.

Die gesin fokus egter nou op die eerste operasie wat op 2 Augustus plaasvind, sodat al die kanker verwyder kan word voor dit na die brein en die res van die liggaam versprei.

Juandré is reeds grotendeels blind in sy regteroog en sy aanpassing met ʼn kunsoog sal volgens dokters nie te lank neem nie.

“’n Mens kom nie sommer goedgunstigheid teë soos dit wat baie mense reg oor die land aan ons bewys het nie. Ons was in sak en as, met geen uitweg of antwoorde nie, en mense het net betrokke geraak om te help. Ons is baie dankbaar daaroor, en mense lewer ʼn bydra tot ʼn seuntjie wat weer ʼn kinderlewe in die vooruitsig het. Ons vra weldoeners om ons steeds te help tot die beproewing verby is.”

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak die Child Medi-organisasie by [email protected] of bel Amor Schoeman by 062 266 0486. Besoek ook die Child Medi-webwerf of Facebook-blad. Dié organisasie reik A18-belastingsertifikate vir weldoeners uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daleen ·

Sterkte! Heer hou U hand van genesing, Vrede en Liefde oor die knapie en sy gesin.
Amen

Meegevoel ·

Ek het al verkeie getuienis gehoor van hoe dagga olie mense help wat genees van kanker. Dis redelik duur die olie. Gaan kyk na dit op youtube

Gesiggie ·

Engel kind… Mag Jesus jou eina gou genees…mag als goed afloop, sterkte aan die gesin.. Bid vir n spoedigge herstel… en Wonderwerk… Hy is so n pragtigge seuntjie… Dankie Jesus vir wat U vir die kind sal doen… AMEN

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.