Weldoeners se ‘massapoging’ help behoeftige bejaardes weer sien

Dr. MC Niemandt en Piet Ueckermann. (Foto: Verskaf)

Talle behoeftige bejaardes het vandeesweek hul sig asook lewensgehalte herwin nadat hulle ’n pro bono-prosedure in Pretoria, Gauteng, ondergaan het om katarakte van hul oë te verwyder.

Altesaam 45 behoeftige bejaardes is gedurende dié week by ’n dagteater in Hazeldean gehelp om weer te sien deur middel van ’n inisiatief onder leiding van dr. MC Niemandt van die Intercare Mediese Sentrum in dié Pretoriase voorstad.

Dit volg nadat Niemandt hom reeds in 2013 voorgeneem het om elke jaar tydens Ooggesondheid-bewusmakingsmaand ’n week opsy te skuif om katarakchirurgie op ’n aantal behoeftiges uit te voer. Dié week vind gewoonlik tussen 23 September en 18 Oktober plaas.

“In 2013 kon ons tien mense help. Daarna kon ons jaarliks al hoe meer mense help. Ongelukkig kon ons in 2017 niemand help nie weens finansieringsprobleme. Vanjaar kon ons egter met die hulp van Operation Healing Hands, Good Morning Angels, Solidariteit Helpende Hand en talle ander borge dit moontlik maak om 45 mense weer te help sien,” sê Niemandt.

ʼn Katarak is ʼn opeenhoping van proteïen op die ooglens wat visie beïnvloed en kom dikwels by ouer mense voor. Bejaardes word spesifiek deur dié probleem geraak omdat die lens van hul oog mettertyd oorwerk word vanweë jare lange gebruik.

Dr. MC Niemandt en Elize Ferreira. (Foto: Verskaf)

Niemandt se dryfveer agter dié inisiatief is jaar ná jaar bloot die bejaardes wat dit nie kan bekostig om katarakte van hul oë te verwyder nie aangesien koste van dié prosedure tussen R25 000 en R30 000 beloop. Bejaardes is genoodsaak om hul name op lang waglyste te plaas en te wag en hoop op hul beurt om die prosedure in ’n staatshospitaal te ondergaan.

Slegs ʼn bepaalde aantal bejaardes kon vanjaar onder die lem van Niemandt kom. Gekose kandidate is deur middel van talle oogtoetse en ’n spesifieke keuringsproses met behulp van Helpende Hand gekies.

Operation Healing Hands, ’n span dokters in die private sektor wat pasiënte help wat nie in normale omstandighede mediese dienste kan bekostig nie, het vanjaar hand bygesit om Niemandt se inisiatief weer op dreef te plaas. Ook dr. Helene Basson, ’n ortopediese chirurg van Pretoria, het betrokke geraak. Basson staan aan die stuur van hierdie liefdadigheidsorganisasie.

“Ons het ’n massapoging aangepak om seker te maak dat die projek vanjaar nie weer platval nie. Met die hulp van onder meer die Caring Daisies, Round Table, Ossa en die Right To Sight Trust kon ons saam met ander rolspelers hande vat om al hierdie mense te help. Ons sal die poging beslis weer volgende jaar ondersteun. Wat dr. Niemandt vir die mense gee, is lewensveranderend. Dit is iets kleins wat ’n groot invloed op ’n mens se lewe het,” het Basson gesê.

Dr. MC Niemandt en dr. Helene Basson van Operation Healing Hands by van die bejaardes en hul familie. (Foto: Verskaf)

Een van die bejaardes wat vanjaar by Niemandt se inisiatief gebaat het, is die 76-jarige Piet Ueckermann van Witbank in Mpumalanga. Ueckermann het 11 jaar gelede sy sig begin verloor en het 10% visie in sy oë oorgehad voor hy vandeesweek gehelp kon word.

“My dogter het van die inisiatief op Maroela Media gelees en met Helpende Hand in verbinding getree. Ek het vir die toetse gegaan en was oorstelp van vreugde toe ek hoor dat ek gekeur is. Ek is opreg dankbaar en bly om weer te kan sien. Ek sien sommer weer uit na alles,” het Ueckermann gesê.

Elize Ferreira (73) van Kroonstad in die Vrystaat het ook van die inisiatief verneem en aansoek gedoen nadat sy langer as twee jaar op ’n waglys moes wag vir ’n operasie by ’n staatshospitaal.

“Ek en my familie was in trane toe ons die nuus kry dat ek gekeur is. Ek kon dit nie glo nie. Ek kan nou mooi sien en ek sien die meeste daarna uit om weer te lees. Ek is baie dankbaar hiervoor en kan nie al die rolspelers genoeg bedank nie,” het sy bewoë gesê.

Benette Rautenbach, Helpende Hand se projekorganiseerder vir bejaardes, het gesê sy hoop daar is genoeg finansiering om volgende jaar nóg meer bejaardes te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

IS ·

Lekker huil ek nou vir die oumensies! Mag die rolspelers sommer ekstra baie geseën word!!

Lh ·

Ek is SO dankbaar Vir hierdie pragtige omgee mense. . .ek huil saam met jou van dankbaarheid IS!

Celtis Africana ·

Wonderlike werk onder ons oues van dae!
Groot waardering vir die selfopoffering asook die borge!

alida ·

Prys die Here !!! en dankie aan al die borge en Drs betrokke. Duisend dankies!!!

Magriet Hanekom ·

Wonderlike werk. Ek ook op waglys by kliniek wil so graag beter kan sien

Susan de Klerk ·

Dit is nou ewigheidswerk. Watter ongelooflike voorbeeld stel die dr’s nie, gee terug op hierdie wonderlike wyse!!

Alida ·

Doen die Ooginstituut in Pretoria dit nie meer nie? Dit is wonderlik.

Anita (die eerste) ·

Groot dank aan die medici en borge!
Dr. Niemandt en al die borge maak ‘n positiewe verskil aan mense se lewens
Dr. Helena Basson is puik stoffasie as praktisyn met ‘n hart vir haar medemens.
Dit is wat onthou word!

Marius Nel ·

Marcel, Jy sal jou bydrae in oorvloed terug kry. Die Here slaap nooit nie!!!

Elsa ·

Baie dankie aan al die betrokke dokters en instansies vir hierdie wonderlike hulp aan behoeftige bejaardes.

Christo ·

Kan ons Maroela lesers vir Helpende Hand ondersteun deur ‘n R50.00 debietorder veldtog te loods om ‘n bydrae te lewer. Indien moontlik vir ons die nodige bankrekeningnommer ens te verskaf asseblief. Die gesigte van die oumensies is meer as genoeg motivering.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.