Weldoeners snel vroue te hulp tydens padwoede-voorval

Leah Msizi, Steve Mojela (geel hemp), Sbusiso Ngidi, Mynie Short, Joey Seyffert en haar dogter Zenobia na die voorval. (Foto: verskaf)

“Ons het geen merke nie, het geen skrape opgedoen nie. Dinge gebeur so vinnig. Agterna dink jy aan ʼn honderd goed, maar in daardie oomblik wys die Here vir jou wat om te doen.”

Só het Joey Seyffert van Groblersdal in Limpopo vanoggend vertel, ná sy en haar ma, Mynie Short (65), en haar kinders Daniëlle (12) en Francois (11) Saterdagmiddag in ʼn onderonsie met ʼn taxibestuurder betrokke was.

Die vierstuks het Seyffert se dogter Zenobia (22), ʼn Tuks-student, na ʼn nuwe blyplek help trek. Hulle was omstreeks 16:30 by die verkeersirkel op Solomon Mahlangu-rylaan in Pretoria en wou net op die N4-hoofweg opwaarts draai, toe ʼn minibustaxi voor hulle ingejaag en stilgehou het.

Seyffert sê die minibustaxibestuurder het uitgespring en met ʼn stok op hul bakkie se motorkap begin slaan. Short, wat die bakkie bestuur het, het haar venster ʼn ent oopgedraai om te hoor wat die probleem is, waarna die man ʼn stok daar ingedruk en die ruit begin oopdwing het. Seyffert beweer die mans het hulle onder meer die woorde “white b****s” toegesnou.

Volgens Seyffert het die man se vriend bygekom en hulle ook met ʼn stok probeer bydam. “Die Here was saam met ons daar. Jy sien die stokke verbyvlieg, maar niks het ons getref nie.”

In die harwar het die twee mans die bakkiedeur oopgekry. Short het verbete aan die handrem vasgeklou sodat hulle haar nie uit die bakkie kon pluk nie. Die mans het die bakkie se sleutel in die hande gekry en is daarmee vort.

Seyffert was teen dié tyd uit haar skoene gestoei en het die bussie kaalvoet agternagesit om die sleutel te probeer terugkry. “Wat doen ons nou sonder ʼn sleutel? Maar ek het ook nie geweet wat ek sou doen as ek die bussie váng nie,” het sy gesê.

In dié stadium het Steve Mojela en sy vriende, Leah Msiza en Sbusiso Ngidi, stilgehou om te help.

Mojela het die taxi agternagesit en die bakkie se sleutel teruggevra. Seyffert het gesê ná ʼn gestribbel het Mojela die sleutel teruggekry, maar hy moes inderhaas laat spaander nadat nóg taxibestuurders stilgehou en dreigend geraak het. Msiza, wat in Mojela se motor gewag het, is boonop met een van die stokke bygedam.

Mojela lag verleë op Maroela Media se vraag oor waarom hy besluit het om wildvreemdelinge te help. “Hulle was gestrand. My hart is seker maar goed,” het hy geantwoord.

“Ek het eers agterna bang geword, nie in die hitte van die oomblik nie. Niemand het hulle gehelp nie en iemand moet vroue verdedig. Daar was ook kinders in die kar wat gehuil het …” het Mojela gesê.

Volgens hom het hulle die insittendes van die minibustaxi beskaafd gevra om die sleutels terug te gee. “Ek weet nie waarom hulle die sleutel in die eerste plek gevat het nie.”

Mojela was vanoggend op pad na ʼn duikklopper om ʼn skadebepaling te laat doen. Sy motor se agterste buffer en die kattebak is erg beskadig. Hy het gesê verskeie mense het aangebied om te help betaal om die skade aan sy motor te herstel, maar dat hy nie van enigiemand verwag om dit te doen nie.

“Ek het net probeer help.”

Seyffert het gesê ander weldoeners het tydens die voorval ook stilgehou om te help en iemand het haar onder meer toegelaat om haar dogter te bel. “Die polisie was ook vinnig daar,” het sy gesê.

Hoewel hulle kort daarna ʼn taxi opgespoor het met dieselfde nommerplaat as die een wat by die voorval betrokke was, was dit nie dieselfde taxibestuurder in die voertuig nie, het sy gesê.

Seyffert het gesê hulle is sedertdien ook oorval deur mense wat Mojela se daad geprys het en hulle het geweldig baie ondersteuning gekry. Daar was ook beloftes van hulp om die skade aan Mojela se motor te herstel.

“Dit was net genade (dat Mojela stilgehou het). Die Here maak mense se harte oop vir mekaar. Ons is hier om mekaar te ondersteun in tye dat ons land nie altyd vir ons daar is nie. Die afgelope 48 uur was ongelooflik en ons het besef hoe mense kan saamstaan. Ons het goeie én slegte mense op dieselfde dag beleef.

“Ons moet mekaar se harte begin raaksien, en nie hulle kleur nie. Dit laat ʼn mens weer glo in die goedheid van die mensdom,” het Seyffert gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Wilma ·

Sou wonderlik wees om die barmhartige samaritaan te nooi vir ete en dalk soma vriendekring begin
Sou wonderlik wees

Jane ·

ag regtig? om sy skuld te help betaal en hom te vereer is mos genoeg? Hulle het ‘n wonderlike daad gedoen maar mense wat ander help om bande om te ruil en hulle uit die vloede gered het maak nie maatjies nie .. dit is net ‘n BAIE DANKIE, handskud en mooi storie??

Bloudrom ·

Dan kan hy mos sommer die aand by jou slaap ook. Jy is n wonderlike mens.

Koos B ·

Natuurlik sal hulle weerlose vrouens en kinders aanrand.Die probleem sou wees indien dit blanke mans was wat kon terugveg was die blanke mans nou al toegesluit en sou dit rasisties wees.

Jr ·

Koos B nooit n meer ware woord deur jou gepraat. Hierdie is die EFF , BLF , ANC se propaganda wat hierdie haat vir ons aanspoor. Maar dis nie haatspraak nie – dis vryheid van spraak

jennefer ·

Na my man se dood, is my swart buurman,die eienaar van die plaas langs myne, my grootste steunpillaar. Snaaks genoeg is daar baie blankes wat weduwees wil uitbuit.

Eunice ·

WONDERLIKE artikel van HOOP MM welgedaan!??
DANKIE Hemelse Vader vir nog WONDERLIKE MENSE soos mnr MOJELA…ons salueer jou,SA het meer van jou tipe mense met goeie harte nodig

GATVOL ·

Ek hoop die owerhede gaan die taxibestuurder en sy trawante soek met die ywer wat wit mense vervolg word wat hulle aan aanranding, motorkaping en rassisme skuldig maak. …… Ek droom seker. Dis mos die nuwe Suid Afrika.

connie ·

Baie bly julle is veilig en die kinderstjie, die Here se Hand was by julle gewees. Baie dankie aan Mojela en sy vriende wat daar gestop het en gehelp het. Wens daar wil meer soos julle uitkom, dankie daarvoor.

B ·

Johan ek het ook daardie gevoel – dat die storie net van ‘n sekere punt af vertel word. Daar is sekere gapings in die storie.

smurfie ·

in die Volksblad word daar gesê, dat die taxi drywer gesê het, hulle het dit gedoen, want hulle het gesien dis net vrouens en om hulle te straf omdat hulle Wit is.

Karin ·

Ai, die media! Elke nou en dan is hier stories wat n mens se hart warmer laat klop, maar met sekere bybedoelings! Party “vang” dit nie! Stem maar reg!

Tina de Lange ·

BAIE DANKIE MNR.MOJELA!
BAIE DANKIE dat jy en jou vriende nog mooi harte het!
DANKIE Vader,U het almal veilig Bewaar

Speedguard ·

Die wet maak voorsiening dat daar beslag gele kan word op die voertuig en dat net die geregistreerde eienaar die voertuig kan afhaal , hy moet dan se wie het die voertuig bestuur , jy as eienaar is ten alle tye verantwoordelik vir wie jou voertuig bestuur sonie is hy/sy verantwoordelik !

Penellope Jones ·

Dit moes angswekkend gewees het en dankie aan die barmhartige samaritane wat hierdie mense te hulp gesnel het.

toy ·

Dankie Here daardie mense het hulle gehelp.
As meer mense so kan wees teenoor mekaar, dink net die vrede wat hier sal heers.

Pieter du plessis ·

N positiewe verhaal en die SA waarin ek wil woon waar die goeie mense heers en die slegte mense verdwyn.

Andre ·

Toe ….wat nou …dit was rassistiese aanval teen wit…maak n geraas…spur/kfc penny ..

PJC ·

Alle taxidrywers moet met groot agterdog bejeen word want die meerderheid van hulle is ń uiters gevaarlike klomp en dan dra ń groot persentasie van hulle nog vuurwapens saam. Ek het persoonlike ondervinding hiervan.

Thank you ·

Thank you kind-hearted soul for what you’ve done this morning. May it be an example for all of us. May it be the beginning of people looking out for each other and helping each other rather than seeing someone’s race first. On a much larger scale than what you perhaps realise you’ve helped South Africa today. God bless.

Michael ·

Mnr Mojela baie dankie vir jou optrede. Julle lewens was ook in gevaar en nog steeds het julle gehelp. Ons weet dat daar nog mense is met goeie harte en wat omgee. Mense moet nou saamstaan en geld insamel om jou te help om jou voertuig te herstel want soos ek verstaan het jy nie versekering nie. Ek het reeds jou bankbesonderhede gekry en gaan n donasie vir jou inbetaal. Jy het gedoen wat baie ander nie eers aan sou dink om te doen nie.

Boerin ·

N mens se kleur is die kleur van jou hart. Ek ken witmense wat swart harte het en swart mense wat wit harte het. Velkleur is net om jou ras te bepaal sodat jy n trots, tradisie, ens saam met jou eie mense kan uitleef.

En nou? ·

Met al die geweld en gemors in die land, waaraan ONS niks kan doen nie….
Vanoggend het ek opgestaan en ek is so bly dat ek is wat ek is en is wie ek is!

Attie. ·

Ons hoor net een storie, maar daar is altyd drie stories…my storie, jou storie en die ware storie. Taxibestuurders het nie die tyd om mense bang te maak nie… ongelukkig bestuur party mense by n verkeerssirkel op so ‘n manier dat selfs ‘n taxibestuurder kan kwaad word. Vrouens moet van die pad af wegbly as dit begin donker raak. Hierdie is ‘n saak van padwoede, nie een van rassisme nie.

IE ·

Baie dankie dat almal veilig is. Hierdie kon baie lelik uitgedraai het.

Jerry ·

Nooit weer moet n Afrikaner homself skuldig daaraan maak om te veralgemeen deur n standpunt in te neem teenoor swartmense of witmense nie. Noem die argitek by die naam, soos in die geval is die weldoener se naam Steve Mojela! Ironies dat ons ook n Steve het, maar een wat veralgemeen! Hoop ons Steve leer n les hieruit!

hercu ·

saluut aan Steve Mojela en sy twee vriende!

dankie HeiligeGees vir jou alom teenwoordige beskerming!

Sputnik ·

….en net een ander person vra die vraag hoe het die held se motor die geweldige skade opgedoen? Is dit ooit in dié voorval opgedoen want nêrens word dit verduidelik nie. Hy ry dalk al 18 maande met daardie duik! Ek wonder maar net….. Nogtans, my dank dat hy opgetree het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.