Die polisie is op die spoor van twee vroue wat Maandag ʼn agt maande oue babadogtertjie by haar ma gegryp en ontvoer het.
Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die twee vroue is glo na die ma se huis in die Ga-Mogale-nedersetting digby Magaliesburg in Gauteng. Daar het hulle haar meegedeel dat hulle familie van die baba se pa is en dat hulle vir die baba klere wil koop.
Die ma is saam met die vroue dorp toe om klaarblyklik vir die baba klere te koop.
By die winkels het een van die vroue glo gevra of sy die baba kan vashou sodat die ma in die winkel kan gaan om kos te koop. Toe sy uit die winkel kom, was die twee vroue en haar babadogtertjie skoonveld.
Masondo sê die twee vroue is moontlik in hul middel twintigerjare. “Hulle praat Setswana en is albei lig van velkleur. Hulle het blou denimbroeke en swart stewels gedra. Een van hulle het ʼn blou trui aangehad,” sê hy.
Enigiemand met meer inligting wat kan help om die vroue op te spoor, kan kapt. Alex Mafhungo by 082 822 8270 of kapt. Joel Mogoanye by 082 461 4902 bel.
Dit lyk nie vir my soos “weldoeners” nie , maar eerder skelm . Hoop net die babatjie word gou gekry .