‘Welgedaan’ aan IEB-matrieks

Caitlyn Bosch, Devesh Singaram, Darika Ramphal, Saheel Rajnarain, Bella Gosnell en Kayrav Naidoo van Crawford College La Lucia juig oor hul uitslae. (Foto: Sibusiso Ndlovu/ANA)

“Dit is pragtige uitslae.”

Só het dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) Dinsdag gesê ná die uitslae van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eindeksamen vrygestel is.

Volgens die IEB het 98,2% van leerders geslaag, ʼn effense daling van die 98,92% wat die 2018-eksamen geslaag het.

Altesaam 11 818 voltydse en 779 deeltydse kandidate het dié eksamen verlede jaar afgelê. Net meer as 89% van dié leerders het toegang tot graadstudies. Hiervan het 90,65% leerders die eksamen met matriekvrystelling geslaag. Altesaam 7,91% van IEB-leerders kan vir ʼn diploma studeer en 1,4% kwalifiseer om vir ʼn hoër sertifikaat te studeer.

Deacon sê die daling in die IEB-syfer is onbeduidend klein en dat matrieks wat die eksamen afgelê het vir hul uitmuntende prestasie geloof moet word.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), stem saam. Sy sê die IEB-skole handhaaf reeds ʼn uitstekende standaard en dat daar nie noodwendig elke jaar ʼn styging in die slaagsyfer moet wees nie.

“Dit wys die private stelsel is bestendig,” het Buys gesê.

Volgens haar is dit veel makliker om van ʼn lae basis af die slaagsyfer te laat styg.

Die minister van basiese onderwys maak Dinsdagaand die matriekuitslae vir openbare skolebekend, maar leerders sal eers vroeg Woensdagoggend hul individuele uitslae kry. Buys sê hulle het kennis geneem dat die slaagsyfer vanjaar hoër gaan wees. “Ons bekommernis is dat baie kinders slaag en dat die slaagsyfer goed lyk, maar dat dit nie al is waarna jy moet kyk nie. Dit gaan ook oor die vlak van prestasie.”

Sy het gesê daar was reeds beduidende verslappings in die graadstudie-toelatingsvereistes. Maroela Media het vroeër berig al hoe meer aansoeke vir beurse by byvoorbeeld die nasionale skema vir finansiële bystand (NFSAS) word boonop ingedien. ʼn Rekordgetal van 543 268 aansoeke is vir 2020 ontvang.

“Daar word ʼn verwagting geskep dat jy kan gaan studeer [aan ʼn universiteit], maar in werklikheid is sommige studente glad nie toegerus vir graadstudie nie.

“Universiteite keur studente, maar die probleem is die verwagting wat jy by ʼn kind skep,” het Buys gesê.

Sy meen daar moet veel meer alternatiewe vir verdere studie wees en dat instellings soos tegniese kolleges allermins as minderwaardig beskou mag word. “Daar is in die ekonomie plek vir meer as net graadstudies en rigtings soos projekbestuur en logistieke vaardighede word al hoe belangriker.

(Argieffoto)

“Aan die ander kant is vakke soos wiskunde, wetenskap en inligtingstegnologie al hoe waardevoller.”

Die punte vir wiskunde en wiskundige geletterheid is nie ná die matriekeksamen aangepas nie.

Buys meen dit is wel ʼn bron van kommer dat baie leerders wiskundige geletterheid eerder as wiskunde as vak kies, veral omdat baie groot klem op ʼn 100%-slaagsyfer geplaas word. “ʼn 100%-persent slaagsyfer moenie jou enigste maatstaf wees nie; op ʼn mespunt moet jy vir ʼn kind ʼn geleentheid gee.”

Deacon sê ook die skoolstelsel moet aan meer as net die matriekuitslae gemeet word, hoewel dit ter wille van standaardisering ʼn weerspieëling daarvan is. “ʼn Mens moet ook nie net fokus op die negatiwiteit in die stelsel nie.

“Daar gaan vanjaar briljante uitslae wees van kinders wat oor die afgelope dertien jaar [graad R tot graad 12] baie hard gewerk het. Daar is onderwysers wat kliphard werk en leerders wat onder baie moeilike omstandighede uitstekend presteer.

“Vir húlle moet ons sê ‘welgedaan, gaan bekwaam jou verder en maak die land ʼn beter plek’.”

Deacon meen ook Suid-Afrikaners kan die geloofwaardigheid van die uitslae vertrou, veral danksy die valkoog wat die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys (Umalusi) oor die eksamen- en nasienproses hou. “Ek dink die eksamen was ʼn sukses. ʼn Mens het van bitter min skandes en skades gehoor,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ek weet ·

Ja en raai wat is IEB skole se skoolfonds so daar is geld om jou enge hulpbron te gee om te slaag

CN ·

Ek weet, skoolgelde dalk baie duurder, maar ek gaan sonder BAIE nodige en “luxury” items vir my kind om IEB skool te kan bywoon. Die vlak van onderwys kan nie vergelyk word met ons openbare skole nie.

Jennefer ·

My kinders se toekoms is belangriker dan braai, DSTV, vakansies ens.

Ek weet ·

CN dit is mos presies my punt hoekom die slaagsyfer se hoog is en nie die rede van ek maak opofferings nie,

Hanna Hoekom ·

Net n vinnige vragie: met n minimum prestasie van 30% (en selfs 20% in Wiskunde) hoe is dit nog moontlik om te kan druip? Liewe hemel, ek sou mos n uitstekende matriek gehad het as ek nou moes skryf…

Maritza ·

Hanna presies wat ek ook gedink het. Hulle spog met hoer slaag syfers maar as die slaag syfer so laag is, is die werklik ‘n prestasie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.