Welkom-ontploffing: Slagoffers stabiel, 200 huise beskadig

Foto: Annelise van Rooyen (Foto via WelkomCity Stad se Facebook-blad)

Foto: Annelise van Rooyen (Foto via WelkomCity Stad se Facebook-blad)

Minstens 200 huise is Saterdag erg beskadig in ʼn metaanontploffing in Welkom in die Vrystaat.

Maroela Media het Saterdag berig die ontploffing het omstreeks 17:30 plaasgevind.

“Harmony was besig om die ou skag te rehabiliteer,” het Johan Pieterse, verteenwoordiger van Solidariteit, Sondag aan Maroela Media gesê. “Metaangas het in die skag opgebou. ʼn Vonk het die ontploffing veroorsaak.”

Pieterse het verduidelik metaangas kom natuurlik ondergronds voor, maar wanneer ʼn mynskag aktief bedryf word, word waaiers as ventilasie gebruik om die gas te laat ontsnap. Wanneer ʼn mynskag onaktief is, bou daardie gasse op. “Hulle het klippe in die skag afgegooi wat vermoedelik die vonk veroorsaak het wat tot die ontploffing gelei het.”

Die Checkers-gebou is ook beskadig. Foto: @HESMBC, Twitter

Die Checkers-gebou is ook beskadig. Foto: @HESMBC, Twitter

Ses mense is ook in die ontploffing beseer. “Hulle is almal in ʼn stabiele toestand,” het Pieterse gesê.

Francois Klaassen, hoof van die brandweer van Matjhabeng-munisipaliteit, het aan eNCA bevestig die beseerde persone is konstruksiewerkers en hulle is na die Mediclinic Welkom geneem.

Gerugte dat die ontploffing ʼn gevolg was van onwettige mynbedrywighede, is onwaar.

Konstabel Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het ook Sondag aan Maroela Media bevestig die ontploffing hou nie verband met enige kriminele bedrywigheid nie. “Dit het binne die myn gebeur en die maatskappy sal self ondersoek instel,” het sy gesê.

Een van OFM se luisteraars het die volgende video ingestuur van die ontploffing wat gehoor is. Die persoon was besig om iemand af te neem wat ‘n rugbybal wou skop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Pompies ·

Onwettige myners, geen toilet geriewe, metaangas…. Ek sien in my gedagte hoe trek so ‘n myner uit die ventilasie skag die lug in.. Lol

Charles ·

Bullshitt man julle kan kinders om die bos lui metaan kan nie in n ventilasie skag opbou nie Daar moet geen vent wees nie Harmony het n repitasie ek weet ek het vir die klomp gewerk Killers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.