Welkom-waterkrisis: Petisie by Vrystaatse wetgewer ingedien

(Foto: pixabay)

Die VF Plus het ʼn petisie in die vorm van ʼn beswaarskrif namens die inwoners van die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) oor die voortslepende waterkrisis by die waarnemende sekretaris van die Vrystaatse wetgewer, adv. Joseph Machaka, ingedien.

Die beswaarskrif is ingedien ingevolge reël 41 van die staande reëls en ordes van die wetgewer

Dié beswaarskrif, wat verlede jaar van stapel gestuur is en deur meer as 900 inwoners onderteken is, volg nadat die VF Plus ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien het om ondersoek in te stel na moontlike menseregteskendings weens gereelde watertekorte.

“Ná jarelange waterprobleme sit sommige dele van Welkom, soos Riebeeckstad, tans weer vir die afgelope twee weke sonder water,” sê Susan Taljaard, VF Plus-raadslid in die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit. Luidens die vorige finansiële jaar se verslag deur die ouditeur-generaal (OG) het dié munisipaliteit meer as R150 miljoen se water verloor weens lekkasies, terwyl slegs 20% van die voorwaardelike toekenning vir waterinfrastruktuur bestee is.

“Die buitengewoon groot hoeveelheid skoon water wat in strate loop, is ʼn duidelike bewys dat herstelwerk aan waterinfrastruktuur nie gedoen word nie. Hierdie beswaarskrif vereis dat die munisipaliteit gedwing word om die fondse tot sy beskikking te bestee om water- en rioolinfrastruktuur in stand te hou en te herstel,” voeg Taljaard by.

Die VF Plus verwag dat die wetgewer gepaste stappe moet doen om oplossings vir die voortslepende waterkrisis in Matjhabeng te vind.

“Die VF Plus staan op teen swak dienslewering en vir die regte van inwoners.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yvonne ·

Geen wonder die howe/regsinstansies kom nie voor met hulle werk nie….alles moet hof toe gaan sodat mense hulle werk kan doen…..dit is mos absurd

Kokerboom ·

Hoekom neem inwoners nie beheer? Koster is ‘n sprekende voorbeeld

jou gewete ·

het Koster geslaag, ek verbeel my dit was deur hof weer in hande van hopelose munisipaliteit gegee

jou gewete ·

hoekom nie munisipale dienste geld in n aparte rekening betaal waaruit munisipaliteit dan betaling kry vir dienste gelewer en inwoners dan self sorg met fondse beskikbaar vir dienste wat munisipaliteit nalaat. hulle sal dan vinnig leer om dinge reg te doen

Mrs H ·

Wonder hoe maak die gaste huise. Ek weet van n fantastiese gaste huis ‘Au Jardin’ in Welkom en hoop hulle het n oorlewings plan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.