Welkome reën in Kaapstad, paaie gesluit

Groot verkeersontwrigting is op sommige plekke aangemeld.

Terwyl dit in groot dele in die noorde van die land so warm is dat die kraaie gaap, het dit Donderdagaand en vandag weer oor groot dele van Kaapstad gesous.

Die Stad Kaapstad se rampbestuurspan sê hy het reeds ʼn hele aantal weerverwante voorvalle hanteer.

Talle paaie op plekke soos Grassy Park, die Paarl en Constantia is onder water en verskeie paaie is gesluit.

ʼn Vragmotor wat vanoggend op die N1 net voor Sableweg geknipmes het, is eindelik verwyder, maar het vroeër vandag reuseverkeersopeenhopings veroorsaak. Verskeie bane was gesluit.

In Kirstenbosch het sterk wind ʼn dak beskadig, maar geen stormverwante kragonderbrekings of ontwortelde bome is tot dusver aangemeld nie.

In dié stadium is geen oorstromings in informele nedersettings aangemeld nie, maar hoërisikogebiede word fyn dopgehou.

Inwoners word gevra om voorvalle (nie noodgevalle nie) by die stad se oproepsentrum aan te meld. Die kontaknommer is 0860 103 089. Noodgevalle kan by 021 480 7700 of 107 (van ʼn landlyn) aangemeld word.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku Kapenaars teen ’n kouefront wat na verwagting dele van die Wes-Kaap teen Vrydag en weer Sondag gaan tref.

Die koue gaan na verwagting tot Dinsdag in die meeste dele van die Wes-Kaap voortduur.

In teenstelling met die koue word ’n hittegolf vir die oostelike dele van Noordwes en die Vrystaat asook dele van die Laeveld, Mpumalanga, Gauteng en Limpopo vir die naweek verwag.

Die hittegolf in Noordwes, die Vrystaat, die Laeveld, Mpumalanga, Gauteng en Limpopo gaan na verwagting tot Maandag duur. Volgens die weerdiens gaan dit Maandag steeds bloedig warm wees, met ’n voorspelling van ʼn maksimumtemperatuur van gemiddeld 36 °C vir die meeste gebiede van Limpopo, die Laeveld en Mpumalanga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gesiggie ·

So Dankbaar… Dankie Jesus, die kaap het dit so nodig, veral die boere wat so swaar kry weens die droogte”’

Boervrou ·

Dis droog hier in ons deel ,nog niks reen gekry nie.Bid dat die Hemelse Vader die sluise van die hemel sal oop maak.

Bess ·

Mense ons moet baie meer damme bou dit sal die lug bevogtig en reenval verhoog.prof carel boshoff het n reeks damme in die oranje voorgestel dis uitstekende idee..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.