Wellington-gemeenskap herstel Andrew Murray-standbeeld in ʼn japtrap

Andrew Murray se standbeeld is herstel. Foto: Verskaf

Andrew Murray se standbeeld is herstel. Foto: Verskaf

Twee dae nadat die standbeeld van Andrew Murray op die kerkterrein van die NG gemeente Wellington in die Wes-Kaap deur vandale geskend is, is dit reeds tot sy volle glorie herstel nadat die gemeente, inwoners en plaaslike sakelui ingegryp het.

Maroela Media het vroeër berig die standbeeld is Saterdag geskend in ʼn vlaag van aanvalle op standbeelde en monumente in die land. Die sittende Murray-granietbeeld is met rooi verf geskend.

Dawie Theron, voorsitter van die kerkraad, het gesê inwoners was ná die skending, in samewerking met die maatskappy The Granite Guys wat later vanjaar die beeld sou restoureer as deel van sy 175-jarige viering, dadelik van hulp.

Die standbeeld was teen Maandag ten volle herstel en die gemeenskap asook die polisie het reeds ekstra maatreëls in werking gestel om ander monumente en gedenktekens te bewaar.

“Ons as gemeente is uiteraard ontsteld dat Andrew Murray se beeld beskadig is. Ons meen dit is totaal onnodig dat godsdienstige instansies, wat reeds deur ongekende inbrake en diefstal geteister word, nou ook deur mense met waarskynlik politieke agendas aangeval en bedreig word,” het Theron gesê.

“Murray is een van die grootste Christelike ikone in Suid-Afrika en sy werk het bygedra tot die verbetering van alle gemeenskappe in Suider-Afrika. Dat juis sy standbeeld beskadig is, is onverstaanbaar en totaal onaanvaarbaar.”

Theron het gesê die gemeente, leraars en kerkraad wil graag hê diegene wat hierdie skade aan onskuldiges berokken het, moet weet dat hulle reeds vergewe is. “Hulle word genooi om hul verf te bring, en met soortgelyke geesdrif iemand wat swaar kry se huis gratis te gaan verf. Daar is baie van hulle in ons gemeenskap.”

Hy het gesê die kerk se boodskap vir hul gemeentelede, inwoners van die dorp en alle Christene in ons land is om aan te hou om brûe te bou met liefdesdade tussen alle mense.

“Doen dit soos die Bybel ons leer, deur elke dag goed te doen aan mense met wie jy in aanraking kom, deur mooi te kyk na die mense wat arm, siek en hulpeloos is, want die Here het die mense aan ons sorg toevertrou. En dan moet ons onwrikbaar bly hoop en glo dat die Here vir ons sal sorg. Ons kan Hom vertrou en sy liefde uitleef, al maak mense ons kwaad of doen skade aan dit wat vir ons kosbaar is. Terwyl leiers stry oor wie reg en wie verkeerd is, moet mense op gemeentevlak die nuwe Suid- Afrika bou. Dit is wat Andrew Murray, soos Nelson Mandela, gedoen het.”

Theron het veral Johan van Rensburg, eienaar van The Granite Guys, bedank vir sy bydrae tot die herstel van die standbeeld.

Na wat verneem word, is niemand nog in verband met die daad in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Lees alle vorige berigte oor standbeelde op Maroela Media.

'n Werker is besig om die standbeeld skoon te maak. Foto: Verskaf

‘n Werker is besig om die standbeeld skoon te maak. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Asjas ·

Die beeld lyk beter as voorheen. Ek het regtig nie gedink dit sal moontlik wees nie. Knap gedaan aan almal betrokke!

Drieks ·

Ek stem saam, daar baie huise in die land wat verf kort, gaan help liewer daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.