Welpie uit Israel nou tuis in SA

(Foto: Facebook/Warriors of Wildlife)

ʼn Jong leeuwelpie wat in Israel gesmous is, het nou ʼn veilige tuiste in Suid-Afrika gevind en het vandeesweek by die Simbonga-wildreservaat in die Oos-Kaap aangekom.

Die welpie genaamd Zion-Neev is op ʼn jong ouderdom van sy ma weggeneem, in Israel gesmous, verskeie kere op sosialemediaplatforms verkoop en van een mens na die volgende aangegee.

Sy uiteindelike redding het gekom nadat beeldmateriaal van sy lot op TikTok verskyn het. Die situasie is onder die aandag van die owerhede gebring en ná goeie speurwerk is Zion-Neev in ʼn woonstel in die land opgespoor.

Hy is daarna in die bewaring en sorg van die Israelse Natuur- en Parke-owerheid oorgeplaas.

Terwyl Zion-Neev hier aangehou is, het die span by Wildlife Warriors hard gewerk om die welpie se oorplasing na die Simbonga-wildreservaat moontlik te maak. En Sondag het die welpie by sy nuwe tuiste aangekom.

(Foto: Facebook/Warriors of Wildlife)

“Zion-Neev kan nou uiteindelik rustig wees en begin aanpas by sy ‘vir altyd-huis’; iets wat hy tot nou toe nog nooit geken het nie,” lui ʼn verklaring van Wildlife Warriors op die organisasie se Facebookblad.

Volgens die organisasie floreer die onwettige handel van diere steeds wêreldwyd.

“Gelukkig vir Zion-Neev kon die regte mense hom van ʼn verskriklike en onsekere toekoms red. Ons is so trots om sy tuiste te word en ons kan nie wag om hom te sien groei in die dapper en moedige leeu wat hy gebore is om te wees nie,” sê die organisasie.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal wat Zion-Neev se reis moontlik gemaak het nie.

“Hierdie pragtige welpie het ʼn moeilike wegspring in die lewe gehad, maar hy het ook soveel goeie mense gehad wat vir sy toekoms veg.”

(Foto: Facebook/Warriors of Wildlife)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

SO bly hy is gered en veilig in SA. Weet regtig nie wat met die mensdom aangaan nie. Skokkend hoeveel wilde diere in dieselfde bootjie is. Dis ONAANVAARBAAR, ons as mense is veronderstel om na die natuur om te sien, nie te verwoes nie

Cherokee ·

En Zion-Neev kan net Joods praat en moet nou geleer word om Afrikaans te verstaan.

Jaco ·

Mag dié welpie SA toe kom? Is hy nie vol sogenaamde Israeli apartheid nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.