Welsynswinkel loop deur onder brand

Die skade aan die Ons Winkel op Rouxville. (Foto: Facebook)

Brandskade is die naweek aan Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel op Rouxville in die Vrystaat aangerig toe boosdoeners vermoedelik by die winkel ingebreek en ’n brand gestig het.

Dit lyk nie in dié stadium of iets uit die winkel gesteel is nie.

Johan Nel, Helpende Hand se operasionele hoof, het Sondagoggend aan Maroela Media gesê die brand moes vermoedelik deur die loop van Vrydagnag uitgebreek het. Personeel het Saterdag op die skade afgekom.

Dit is nie in dié stadium duidelik hoeveel van die welsynswinkel se voorraad nog bruikbaar is nie. Die omvang van die brandskade sal ook in die volgende paar dae bepaal word.

“Dit is vir ons ʼn terugslag, maar gelukkig is ons ywerige mense wat opstaan en aangaan.”

Die winkel het op sy Facebook-blad gesê hoewel die opruimingswerk ’n tyd gaan neem, die personeel nie van plan is om handdoek in te gooi nie.

“Ons sal aanhou om goed te doen.”

Maroela Media het vroeër berig daar is tans byna 80 Ons Winkels landwyd.

Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word – van meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene en sporttoerusting tot tegnologiese ware of enigiets anders wat oorbodig kan wees.

Ons Winkels neem hierdie goedere en omskep dit dan in geld wat, onder meer, vir Helpende Hand se Studiefonds benut word. Die Studiefonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die geld het om dit te doen nie.

Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons Winkels dien ook as werkskepping vir die persone wat die winkel bestuur en vir personeel wat in die winkels werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

If you cannot beat them (Solidariteit, Helpende Hand, AfriForum) then burn them down. Kyk uit dat ‘n Winnie Mandela vuurhoutjie nie in Sol-Tech in gegooi word nie!

LD ·

Hulle wil soveel moontlik van die blankes neem! Dit was nou net ñ voorbeeld en hulle sal meer en meer begin beskadig! Kan mos niks vir ons gun nie en moet als verwoes wat vir blankes is!

Regverdigheid ·

Hoekom dit wil doen…. hul help mense wat swaar kry .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.