Wending in jagongeluk-saak

Stefan Hepburn tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media

Die verhoor van Stefan Hepburn, die man wat van strafbare manslag aangekla word nadat hy glo per ongeluk ʼn plaaswerker tydens ʼn jagtog doodgeskiet het, het nie Dinsdag begin soos verwag nie.

Hepburn het in die Modimolle-streekshof in Limpopo verskyn waar sy verhoor vandag sou begin. Hepburn se regsverteenwoordiger het egter die hof versoek om die saak uit te stel aangesien die verdediging van voorneme is om vertoë aan die direkteur van openbare vervolging te rig. Die staat het nie hierdie versoek teengestaan nie.

Landdros Peter Manthata het die versoek toegestaan, maar nie voor hy sy misnoeë te kenne gegee het oor die tydsberekening van die aansoek nie. “Dit is ʼn beskuldigde se reg om die direkteur van openbare vervolging (DOV) te nader. My bekommernis hier is dat hulle dit vroeër kon gedoen het. Die staat het aangedui hulle is gereed om [met die verhoor] voort te gaan, die getuies is hier, die verhoor kan begin. As die verdediging vandag hierheen gekom en aangedui het hulle het reeds vertoë aan die DOV gerig, was dit dalk ʼn ander saak.”

Hepburn se regsverteenwoordiger het aan Manthata gesê die verdediging is van voorneme om die vertoë binne die volgende twee tot drie weke tot die DOV te rig. Die DOV sal dan op grond van dié vertoë ʼn besluit oor die saak neem.

Stefan Hepburn. Foto: Maroela Media

Manthata het daarna die getuies wat by die hof teenwoordig was, verskoon en aan hulle gesê indien die verdediging se aansoek aan die DOV onsuksesvol is, sal hulle ingelig word wanneer die verhoor sal begin. Indien die aansoek suksesvol is, sal die staat hulle ook sodanig inlig.

Maroela Media het vroeër berig Hepburn en sy vrou het op 11 Februarie verlede jaar op ʼn plaas buite Modimolle bosvarke gaan jag. Hepburn het in sy verklaring wat aan die hof voorgelê is, gesê hulle het ná sononder in die mielieland gesit en vir die bosvarke gewag.

Volgens Hepburn het hy ʼn donker voorwerp in die land gesien wat soos ʼn groot bosvark gelyk en in sy rigting gekyk het. Hy beweer hy het ook die kenmerkende geluid gehoor van ʼn bosvark wat mieliestronke van die plant afstroop.

Hepburn het gesê hy het na die voorwerp gemik en geskiet. Toe die voorwerp ʼn vreemde geluid maak, het hy besef hy het moontlik iemand raakgeskiet. Die oorledene is later as Jan Railo (23), ʼn werker op een van die buurplase, geïdentifiseer.

Volgens Hepburn het polisiebeamptes, wat eerste op die toneel was, ʼn groot sak vol mielies ʼn paar meter van die oorledene in die land gevind. Hepburn het gesê hy vermoed Railo het daar gesit omdat hy besig was om mielies in die sak te sit.

Hepburn is in Februarie op borgtog van R15 000 vrygelaat. Manthata het vandag sy borgtog verleng tot sy volgende hofverskyning, maar op versoek van Hepburn se regspan is sy borgtogvoorwaardes aangepas sodat hy hom voortaan net een keer ʼn week by ʼn polisiestasie moet aanmeld en nie meer twee keer ʼn week soos voorheen nie.

Hepburn sal op 28 Mei weer in die hof verskyn.

Lees alle vorige berigte oor Stefan Hepburn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Veritas ·

Jou saak is jou saak ou maat. Jy behoort te weet dat jy nie skiet as jy nie seker is waarna jy mik nie.

rollie ·

Dis dan erger as die Oscar Pretorius sage. Hoekom nie moord nie?

Harry ·

Die plaaswerker het waarskynlik sonder ligte onwettig in die donker op die naburige plaas gewerk, waar dit op ‘n ver afstand feitlik onmoontlik sou wees om hom te kon onderskei van ‘n bosvark? Mens het gewoonlik min tyd/kans om ‘n bosvark te skiet en sien gewoonlik net ‘n baie klein gedeelte van die dier se bewegende silhoeet in die donker.

Karolis ·

Dit is wel onwettig om in die aand met ‘n lig te jag.
Die oorledene moes net gelag het dan het die beskuldigde geen rede gehad om die sneller te druk nie.

Joanne ·

Die berig sê die oorledene het na hom gekyk. Hoekom dan nie praat toe hy sien die geweer is op hom nie? Feit bly staan mense jag bosvarke in die nag want hulle is nie doenig in die dag nie. Wanneer anders moes hy dit doen en die oorledene moes nie daar gewees het in die eerste plek nie. Dis n kwessie van op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.
Soos Mnr Hansen so gesê het, sterk staan Stefan, sterk staan.

kas ·

Veritas,wat jy sktyf maak vir my sin.Ek glo nie hy was nuut in die jagbedryf nie.Wat het hy gedoen om seker te maak dit was bosvark se kind.Na sononder beteken nie dit was donker nie oif was dit.Die D O V se besluit gaan iteressant wees.

Kenneth ·

Sterkte Stefan. Dit kan nie n maklike situasie wees om jouself in te bevind nie. Ons is klomp manne en mede jagters wat vir jou bid. Die wat nie weet nie sal nie verstaan hoe maklik so iets gebeur nie. Ons glo en vertrou dat die DOV of die hof dit ook so sal insien.

Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.