Wending in mangat-moordsaak

Van links is Estelle Reddy, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst in die hof (16 Mei 2018). Foto: Maroela Media

Die verhoor van vier mense wat aangekla word van die moord op Danie Dreyer (64), ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria wie se liggaam in ʼn mangat gestort is, het Woensdag ʼn onverwagse wending in die stad se hooggeregshof geneem.

Estelle Reddy, Dreyer se voormalige meisie, haar destydse kêrel, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst het weer in die hof verskyn waar hulle tereg staan op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie. Die vier ontken skuld op al die aanklagte teen hulle.

Die verhoor het in Februarie vanjaar begin. Die staat het reeds sy saak gesluit. Die verhoordae moes telkemale vroeër as beplan uitgestel word weens Furst se gesondheid. Hy het na bewering reeds vyf beroerte-aanvalle gehad sedert hy in aanhouding is. Hy kom met tye nie helder voor nie, sukkel om te praat en moet met die hulp van sy medebeskuldigdes na die aanhoudingselle geneem word.

Regter Bert Bam het Maandag, toe die hof weer vroeër moes verdaag weens Furst se toestand, beveel dat ʼn mediese sertifikaat oor sy toestand aan die hof voorgelê word.

Kevin Johnson vergesel Ruvan Regionald Furst (agter) na die aanhoudingselle. Foto: Maroela Media

Die mediese sertifikaat wat Bam egter Woensdag ontvang het, was volgens hom onvolledig en stel bloot dat hy ʼn spraakprobleem het en dat sy toestand sedert Februarie verswak het. “Dit sê egter nie wat presies fout is met hom nie. Ek is nie tevrede met die verslag of sy toestand nie, hy kan skaars met sy verdediging praat,” het Bam gesê nadat hy die verslag gesien het.

Adv. Antonie Viviers, Papenfus se regsverteenwoordiger, het ʼn aansoek gebring dat die verhoor geskei word sodat Furst vir behoorlike waarneming en behandeling moet gaan en sy gesondheid nie verder die verhoor vertraag nie. Die staat, asook die ander beskuldigdes se verdediging, het die aansoek ondersteun.

Bam het die aansoek goedgekeur en gesê dit is in die belang van geregtigheid as Furst van die verhoor verskoon word.

Furst bly in aanhouding en moet vir mediese waarneming gaan. Hy moet weer op 17 September in die hof verskyn.

Die verhoor van die ander drie beskuldigdes is daarna hervat en duur voort.

Maroela Media het vroeër berig Reddy het haarself op 4 April 2016 by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart 2016 in sy kamer in sy huis in Villieria vermoor is. Nadat sy liggaam verwyder is, is Dreyer se kamer aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, langs die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon.

Dit het die brandweer destyds bykans vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Die liggaam is glo met die hulp van Papenfus en Johnson in die mangat gegooi waarna bytsoda oor sy liggaam uitgegooi is in ʼn poging om van bewyse ontslae te raak. Sy liggaam was vir twee dae lank ná sy dood in die basis van sy bed weggesteek. Sy liggaam was vir vyf dae lank in die mangat voordat dit verwyder is. Weens die toestand van sy liggaam kon daar nie met sekerheid vasgestel word presies waaraan hy dood is nie. Van verdediging voer aan Dreyer het ʼn hartaanval gehad, die staat voer egter aan hy is tydens ʼn rooftog vermoor.

Lees die vorige berigte oor die Mangat-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kas ·

In die kol Koos,daar is nie ‘n manier dat hy sal tronk toe gaan nie.Tydens die moord het hy niks makeer nie.Hy is volgens my besig om vir mediese parool te mik.Drie beroertes voorheen,Is die man regtig siek of sit hy aan.Hy moet onthou regter Bam is nie onnosel nie

kas ·

Reddy gee haarself aan die polisie oor,hoekom,Dreyer het dan beswyk aan ‘n hartaanval.Sy wys die polisie waar Dreyer “vermoor” is.Hoekom sy lyk wegsteek en dan later in ‘n mangat gooi?Hoe weet hulle Dreyer het vir 4 dae geslaap.Was die man so uitgeput?Daar kan net een uitspraak wees,skuldig soos aangekla. Hulle lieg soos tandetrekkers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.