Wending in regstryd oor ivermektien

Hannes Strydom (Foto: Verskaf)

Dit blyk nou dat ivermektien nog altyd vir menslike gebruik in Suid-Afrika wettig was.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het dié wending in die stryd vir die wettige gebruik van ivermektien as behandeling vir Covid-19 Donderdag aangekondig.

Die organisasie het in samewerking met Hannes Strydom, oud-Springbokrugbyspeler, apteker en eienaar van die Pharma Valu-apteekgroep, onthul dat ivermektien na regte nog altyd wettig vir menslike gebruik was. Dít aangesien die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Saphra) nooit toegesien het dat ʼn kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer word wat registrasie van ivermektien as medisyne vereis nie.

Saphra het dié feit tot dusver van die publiek weerhou.

Daar word daarop gewys dat Saphra in die 30 jaar wat ivermektien al beskikbaar is en die medisyne as skedule 3-medikasie gelys is nooit ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer om dit onwettig te verklaar nie. Ivermektien is dus nie ’n registreerbare medisyne nie, maar wel gelys in skedule 3 van die wet.

Strydom het nou ’n nuwe hofaansoek gebring om dié feite voor die hof te plaas wanneer AfriForum, verskeie ander organisasies en die ACDP se hofaansoeke gelyktydig op 29 tot 31 Maart vanjaar aangehoor gaan word.

Willie Spies (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig AfriForum, ʼn Pretoriase dokter en twee van sy pasiënte het verlede maand ’n dringende hofaansoek gebring teen Sahpra en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, om te verseker dat ivermektien wat vir menslike gebruik ontwikkel is, beskikbaar kan wees sodat dokters dit vir die behandeling van Covid-19 kan voorskryf.

AfriForum sal nou sy hofaansoek wysig om voorsiening te maak vir die nuwe feite en om ’n verklarende bevel te verkry dat ivermektien ’n wettige skedule 3-medisyne is wat nie registrasie by Saphra vereis nie.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van die belanghebbendes in die saak, het vanmiddag gesê dat die Wet op Medisyne en Verwante Middels 101 van 1965 wat die verspreiding van medisyne en mediese produkte reguleer voorsiening maak dat sekere medisynes geregistreer moet word vóórdat dit verhandel mag word.

“’n Belangrike aspek van die verbod op ongeregistreerde medisyne is dat ongeregistreerde medisyne nie outomaties onwettig is nie. Daar is ’n plig op die reguleerder om eers ’n kennisgewing in die Staatskoerant te publiseer. Dié kennisgewing gee aan medisyneverskaffers en apteke, of farmaseutiese maatskappy wat wil aanhou om ’n bepaalde medisyne te lewer, ses maande tyd om die medisyne te registreer,” verduidelik Spies.

Dit is dus eers wanneer die tydperk van ses maande ná kennisgewing in die Staatskoerant verstryk het dat ’n ongeregistreerde medisyne onwettig raak. “Medisyne is dus nie outomaties bloot onwettig nie. Dit moet eers afgekondig word as ’n registreerbare medisyne, en eers wanneer dit opgeroep word en nie geregistreer is nie raak dit onwettig.”

Barend Uys (Foto: Verskaf)

Die organisasie en Strydom sê dit is dus duidelik dat ivermektien ’n middel is wat ingevolge wetgewing wel vrylik deur ’n dokter voorgeskryf mag word.

AfriForum gaan daarom voort met sy hofsaak om ’n verklarende bevel te bekom.

“Ivermektien is veilig, is reeds deur ander regerings vir die behandeling van Covid-19 goedgekeur en bewyse dat dit doeltreffend is, word al meer,” sê Barend Uys, AfriForum se hoof van navorsing.

Volgens Uys is daar geen rede waarom dokters verhoed moet word om hul oordeel aan die dag te lê en dit as behandeling vir Covid-19 te gebruik nie.

“Elke dag wat verbygaan sonder dat ivermektien optimaal in die stryd teen Covid-19 aangewend kan word, kos die lewens van geliefdes. Ons wil verhoed dat dieselfde fout met ivermektien en Covid-19 herhaal word as wat destyds met antiretrovirale middels vir die behandeling van MIV/vigs gemaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Robert ·

So… Saphra lieg die heeltyd, my vraag is hoekom?
Welgedaan aan almal wat die saak aanhangig gemaak het, dit behoort nou meer lewens te red.

Anti-Verkramp ·

Hannes lyk nou baie kwaaier as wat hy ooit in sy speeldae gelyk het (ook baie frisser).

Anti-Verkramp ·

Kan jy ‘n middel vir enige iets gebruik as dit geregistreer is?

Pieter ·

Gaan als net oor geld vir die brein dood ANC. Hulle dink die land is china al is die ANC soos die chinese

Samuel ·

Hoe skelm kan ons minister van Gesondheid wees?? Hy en SAPHRA lieg so saam-saam. ANC wil alles sentraliseer en die finale woord spreek oor ons gesondheid!!

DieKriek ·

Ivermectin is geregistreer om kopluise in mense te behandel, nie om virusse te beveg nie. Ek sê nie dit werk nie vir COVID nie maar dit is nog nie behoorlik getoets daarvoor nie. Ek kan egter nie sien hoekom die regering mense moet weerhou daarvan om dit te gebruik nie want dit is alreeds veilig bevind vir menslike gebruik.

Anti-Verkramp ·

So as jy dit vir covid wil gebruik is jy eintlik ‘n proefkonyn. Maar stem saam, as mense hul gesondheid in moontlike gevaar wil stel as proefkonyne laat hulle maar.

Dirk Mostert ·

Jy is ‘n proefkonyn as jy jou laat inent. Het jy al?

Anti-Verkramp ·

Die verskil is dat die entstowwe vir ‘n spesifieke doel vervaardig is en duisende toetse gedoen is om te verseker dat dit aan die spesifieke doel voldoen. Dan praat ons nog nie eers van die 300 000 000 inentings wat al sonder probleme toegedien is nie. Sover die entstowwe betref, is ons reeds ver verby die proefkonyn-fase. Ek sal die entstof onmiddellik neem as ek kan.

Dirk Mostert ·

Jy weet maar net nie van al die sterftes en allergiese reaksies na inentings wat reeds op rekord is nie.

Yvonne ·

Hoekom baklei teen iets wat werk en lewens kan red…wat skuil hier agter?

Sandra ·

Vat so! Julle is bleddie klomp skelms, dit kon my ma se lewe gered het. Kom ons hoop dat geregtigheid nou Sal geskied en dat diegene wat dit nodig het, vinnig geholpe Sal raak.

Nie Verbaas ·

Saphra, julle weet natuurlik wat dit nou aan julle geloofwaardigheid doen. Welgedaan vir die wat betrokke was om Saphra bloot te le.

Tanniepetoors ·

Dis mos nou so helder soos daglig. Hoekom nog aangaan met die hofsaak? Doen die papierwerk reg en kry Invermektien in die land vir die wat dit wil gebruik. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Dirk Mostert ·

Die bevolking se beste belang speel altyd tweede viool teenoor die owerhede (wereldwyd) se agenda.

Karina ·

Die ANC kabinet ens ens lieg nog altyd en sal vir altyd vir die publiek lieg. Dit is onaanvaarbaar.

Gert ·

Mkize en vriende het seker weer een of ander geleentheid vir korrupsie gesien. As hulle dit kan reguleer dan kan hulle dit ook beheer en geldmaak.
Intussen gebruik hulle die geld en fasiliteite wat invermektien kon toets om een of ander toordokter se konkoksie vir gebruik teen Covid 19 te toets. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om daardie brousel goedgekeur te kry.

Winnie ·

Nou toe nou. Ons kan dit al lankal gebruik het en die siekte onder beheer gebring het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.