Die saak van die jong vrou wat ontvoer en vermoor is toe sy by ʼn Oos-Kaapse landdroshof vir haar man in hul motor gewag het, het ʼn nuwe wending.
Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê ʼn 57-jarige vrouefamilielid van die slagoffer, Noluthabo Maliza (25), is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
“Die Peddie-polisie het die vrou in Mahlubini in hegtenis geneem in verband met Maliza se ontvoering en moord,” het Govender gesê.
Die motief is nie bekend gemaak nie. Die vrou moet Dinsdag in die Peddie-landdroshof verskyn.
Drie mans, onderskeidelik 19, 24 en 27 jaar oud, is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem en gaan na verwagting Vrydag in dieselfde hof om borgtog aansoek doen.
Maroela Media het vroeër berig die drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle die vrou glo verlede Vrydag in Peddie, oos van Grahamstad, ontvoer en vermoor het.
“ʼn Erg geskokte man het die Peddie-polisie genader en gesê hy het by die landdroshof stilgehou en uit hul motor geklim terwyl sy vrou, Noluthabo Maliza (25), in die motor gewag het met sy selfoon en die motorsleutels,” het Govender toe gesê.
Toe die man terugkeer na die plek waar hy parkeer het, was die motor en sy vrou skoonveld.
ʼn Soektog is dadelik na die vrou en die motor van stapel gestuur. Die voertuig is uiteindelik Saterdag in die Qamnyana-omgewing in die Tyefu-polisiëringsgebied opgespoor.
“Die omgewing waar die voertuig gekry is, is gefynkam en die vrou se liggaam is in die omgewing aangetref. Daar was geen sigbare wonde aan haar liggaam nie. ʼn Nadoodse ondersoek is gedoen om die oorsaak van haar dood te bepaal en die uitkoms daarvan sal in die hof bekend gemaak word.”
Die Peddie- en Tyefu-polisie het sake van motordiefstal, ontvoering en moord aanhangig gemaak.
Twee van die mans is Woensdag in Peddie in hegtenis geneem. Die ander een is in Mdantsane opgespoor en in hegtenis geneem.
Dit is net te toevallig dat die Man die sleutels en alles vir haar gelos het en op daardie spesifieke tyd by die hof gestop het? Dink die polisie moet bietjie dieper grou…
Wonder daardie selfde ding. Net te toevallig.
En toe vang slim sy baas.
Maroela Media paragraaf 2 maak vir my glad nie sin nie. Julle se ‘n 57 jare familielid Noluthabo Maliza (25) is sy 57 of 25????
Dagsê MM
Dankie vir jou terugvoer. Soos in die berig vermeld is die familielid wat in hegtenis geneem is 57. Die slagoffer was 25.
Groetnis
Landi nms Maroela Media
As die “familielid” 32 jaar ouer is kan dit net ‘n tante of skoonma dalk wees.
Ek ruik rot, en sommer ‘n grote ook.