Wenk ontvang oor PTA-paartjie wat glo saam wegloop

Kim Swart (15) en Awian van Schalkwyk (17)

Kim Swart (15) en Awian van Schalkwyk (17)

Awian van Schalkwyk (17) en Kim Swart (15) wat sedert Sondag vermis word en vermoedelik saam weggeloop het, bevind hulself moontlik in Centurion.

Dana Wannenburg, DA-raadslid in Tshwane, is in kontak met die twee tieners se gesinne en het Donderdag aan Maroela Media gesê die gesinne het inligting ontvang dat die twee vermoedelik in Centurion kan wees.

Swart se ma, Irene, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit is die eerste keer sedert Sondag dat hulle ʼn positiewe wenk ontvang. Sy sê hulle hoop en bid dat haar dogter en Van Schalkwyk ongedeerd gevind gaan word. Die gesinne werk tans saam met die polisie om die wenk op te volg.

Volgens Swart is Awian en Kim al agt maande lank in ʼn verhouding. “Ons het glad nie vermoed dat die twee beplan het om weg te loop nie,” het sy gesê. “Ons voel so magteloos. ʼn Mens weet nie wat om in so ʼn situasie te doen, of waar om te begin soek nie. Ons hoop en bid nou net vir ʼn gelukkige einde.”

Missing Children South Africa, ʼn organisasie wat hom beywer om vermiste persone op te spoor, het Donderdag aan Maroela Media gesê Van Schalkwyk se ouers het hom laas gesien toe hy Sondag omstreeks 13:00 sy huis in Doringkloof, Centurion, op sy motorfiets verlaat het. Hy bestuur ʼn swart Honda CBR 125-motorfiets. Hy het donkerbruin oë, swart hare en ʼn brandmerk op sy bors. ʼn Vermistepersoon-saak word deur die Lyttelton-polisiestasie ondersoek. Mense wat hom sien kan die polisie by 012 644 8600 of Missing Children by 072 647 7464 bel.

Kim het groenblou oë en lang, donkerblonde hare. ʼn Vermistepersone-saak word deur die Pretoria-Noord-polisie ondersoek. Mense wat haar sien kan die stasie by 012 353 5609 bel of met Missing Children in verbinding tree.

Die tieners het vermoedelik saam weggeloop. Hul selfone is sedert Sondag afgeskakel. Kim se ouers het hulle Sondag laas saam gesien by hul huis in Amandasig in die noorde van Pretoria.

Lees ook:
‘Vermiste’ kinders loop glo saam weg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Grassie ·

Daardie mannetjie behoort goed gemo(k)er te word waneer hulle opgespoor word. Vir die meisie het ek nie raad nie.

Ria Maritz ·

Sy kort self ‘n loesing ! Maar nou-ja, vandag se kinders mag nie lyfstraf kry nie.

Marlene ·

Sy kort n warm poker. En ja vandag mag jy nie jou kind slaan of n pak gee nie dis n oortreeding geen wonder die kinders is so onhebbelik vandag nie. Geen respek. Kinders van vandag dink dis maklik daar buite net rook sex en drank maar wag tot die werklikheid intree. So word misdadigers net meer en meer en meer.

Anita ·

Jul kan ook “the Pink Ladies” kontak. Hul help baie met vermiste kinders en is suksesvol. Sterkte aan die ouers. Die twee weet duidelik nie watter gevare daarbuite is nie. Hoop hul is gou veilig terug by hul huise. Ek stel voor die ouers registreer “tracker” op die kinders se selfone as hul terugkom. Natuurlik moet hul dit nie weet nie. Dit werk soos n bom.

ansie hamman ·

mense julle moet begin by die kinders se skole, vriende se vriende, in die skool self, ons het dit ook gehad met n meisiekind wat vir 3dae weg was, die polisie het niks gedoen ni, ons het self skool toe gegaan en saam met die hoof leidrade opgespoor, en kinders ondervra, en het haar dieselfde dag nog self by n woonstel gekry! Sterkte vir die
ouers dis hel om deur te gaan.

calvin ·

mens moet maar nie te gou se wat moet gegebeur as die twee gevind word .Dalk het hulle nie eers besluit om weg te loop en is hulle dalk ontvoer . Hoop hulle word gou opgespoor bid en wag maar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.