Wenkbroue lig oor doodskis op Takealot

Die doodskis is as een van die gewildste items op die webtuiste Takealot gelys (Foto: Skermgreep)

Suid-Afrikaanse verbruikers was verbaas om Woensdag ʼn doodskis as een van die gewildste items op die webtuiste Takealot gelys te sien. Dié kis word boonop teen ʼn afslag geadverteer.

Die doodskis, gemaak van egte hout, word nou vir R4 899 op Takealot verkoop. Dit is met 11% afgemerk; die gewone prys is R5 500.

Die kis se styl word op Takealot beskryf as “een van die gewildste en mees tradisionele kisstyle” waarvan die hout met ʼn “masjien gesny” en met die “hand afgewerk” is om die unieke effek op die hout te kry. Die kis kan bo of onder oopmaak.

Alhoewel aflewering gratis is, kan die kis nie na die pakhuis teruggestuur word nie.

Sosialemediagebruikers was aan die gons oor dié doodskis, veral te midde van die Covid-19-pandemie.

“Moet ons bekommerd wees oor Takealot wat begin kiste verkoop? Beteken dit die koronavirus is hier om te bly?” lui die een inskrywing op Twitter.

“Covid-19 verwoes ons lewens. Ons besef dit nie nou nie, maar daar gaan later ’n groot aanvraag na kiste wees,” sê nog ʼn Twitter-gebruiker.

Takealot se bemarkingspan het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle is bewus daarvan dat die kis op hul webtuiste aandag trek en heelwat kommentaar op sosiale media uitlok.

Volgens die bemarkingspan is die kis deur een van hul derdeparty-verkopers op Takealot gelys en nie deur Takealot self nie. “Dié verkoper is self verantwoordelik om die prys van die produk vas te stel,” het die bemarkingspan bevestig.

Die bemarkingspan sê dit is nie die eerste keer wat doodskiste op ʼn e-handelsplatform soos Takealot geadverteer word nie. “Daar is al in die verlede doodskiste op internasionale e-handelsplatforms soos Amazon verkoop.”

Volgens die bemarkingspan sal die verkoop van die kis soos enige ander item op hul webtuiste verwerk word en is dit onderworpe aan hul standaardbepalings en -voorwaardes. Bemarkers wou nie uitbrei oor hoeveel kiste tot dusver op Takealot verkoop is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stefan ·

Maar hoe lank vat hulle om af te lewer?
Of koop mens dit maar ‘by voorbaat’?

Hekwag ·

Sien nie wat die probleem is nie. Mens betaal deur jou ore vir ‘n kis by ondernemers, so, as die een se prys beter is, why not?!

Tanya ·

Ek stem saam. Dis waarskynlik net begrafnisondernemers wat “wenkbroue lig”

JohanR ·

Miskien is dit die Suid Afrikaanse ekonomie se doodskis, en nogal teen ‘n afslag! Dankie ANC dat dit julle net 26 jaar gevat het om ‘n land totaal OP TE BOGGER! Kan of Takealot vra om die kus by LootFreely Huis af te laai? Daai vreksel Carl Niehaus kan hom namens die ANC in ontvangs neem!

Tanya ·

Nou waarom is dit ‘n probleem? Daar is tog mense wat weet dat hulle sterf en selfs al weet jy nie, dis ‘n goeie prys. Ons moet almal sterf.

Leon ·

Die ou mense het destyds (1838 tot 1930’s) ‘n doodskis op die solder gehad. Hoekom nie maar weer nie. Die begrafnis ondernemers buit die mense uit met die prys van doodskiste, so koop solank een. Dood is verseker. dit sal gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.