Wenke: Hoe gemaak as ’n hond jou aanval?

Argieffoto ter illustrasie

ʼn Hond word as die mens se beste vriend beskou, maar somtyds ook as die mens se grootste vyand. ’n Hond kan binne ’n breukdeel van ʼn sekonde aanval en daarom moet ʼn mens ten alle tye paraat wees.

Maroela Media het vroeër die week berig oor twee vroue wat in Amanzimtoti deur honde aangeval is. Die soort aanvalle laat ʼn mens vra: wat laat honde aanval, hoe kan dit gekeer word en wat moet ʼn mens doen as jy wel aangeval word?

Die nooddienste ER24 en Netcare911 het die volgende raad verskaf:

Honde en kinders

Volgens Samantha Walpole, ʼn dieregedragskonsultant van Animal Behaviour Consultants South Africa, loop kinders die grootste risiko om deur ’n hond aangeval te word en daarom moet ouers en kinders ingelig wees om so ’n aanval te voorkom.

Hond en kind (Foto: Pixabay)

“Kinders word oor die algemeen deur honde aangetrek. Waaiende sterte trek kinders se aandag. Dit is egter onwaar dat dit veilig is om ’n hond met ’n waaiende stert te nader. Kinders word ook verkeerd geleer dat hulle sommer enige hond vrylik kan omhels en soen as ’n vorm van liefde,” sê Walpole wat in die gedrag en opleiding van honde spesialiseer.

Walpole sê omdat mens en dier nie dieselfde taal praat nie, is dit van kardinale belang dat honde-eienaars hul honde se lyftaal en gedragspatrone noukeurig moet bestudeer en probeer verstaan. Kinders moet ook van ’n jong ouderdom af ingelig word oor ’n hond se spesifieke gedragspatrone en hoe om teenoor honde op te tree.

ER24-woordvoerder, Russel Meiring, doen ’n beroep op honde-eienaars om goed na hulle honde om te sien deur te verseker dat hulle van kleins af aan kinders gewoond is en goed opgelei is.

Meiring verseker dat honde selde uit die bloute iemand sal aanval. “Daar is sekere tekens van aggressie wat nie ignoreer moet word nie soos wanneer ’n hond byvoorbeeld grom, knor of na jou hap,” sê Meiring.

Waarom val ’n hond aan?

(Foto: Pixabay)

Honde sal meestal aanval as ’n vorm van selfverdediging wanneer hulle in ’n sekere situasie bedreig voel. In ander gevalle sal die hond aggressief raak omdat dit ongemaklik voel en sy persoonlike spasie ingedring word. “In baie rare gevalle sal ’n hond aanval omdat dit siek of in pyn is. In ander gevalle weet die hond nie hoe om ’n sekere situasie te hanteer nie, en hulle eerste reaksie sal wees om aan te val,” sê Walpole.

Volgens Walpole doen mense nie die moeite om die hond se lyftaal te probeer verstaan nie.

Wenke om ’n honde-aanval te verhoed

Walpole het slegs ’n paar wenke gegee wat honde-eienaars ingedagte moet hou om te verhoed dat ’n hond aggressief raak:

  • Behandel jou hond met respek.
  • Leer om jou hond se lyftaal en gedragspatrone te verstaan. Deur ’n hond se lyftaal dop te hou, kan jy gou agterkom wanneer die hond ongemaklik of bedreig voel.
  • Voldoen aan al jou hond se behoeftes deur te leer waarvan jou hond hou en nie hou nie.
  • Moenie ’n hond uitlok deur hom te stamp of sy stert te trek nie.
  • Moet nooit ’n hond in ’n hoek probeer vasdruk nie.
  • Moenie ’n hond berispe as dit grom nie.

Wanneer ’n hond jou aanval

ER24 moedig mense aan om vreemde honde eerder te vermy en om dadelik ’n verdwaalde hond aan die toepaslike owerhede te rapporteer.

Meiring gee die volgende wenke wanneer jy ’n vreemde hond teëkom:

  • Moenie die vreemde hond aanmoedig om jou te nader nie.
  • Probeer om so kalm as moontlik weg te stap.
  • Moet nooit jou rug op die hond draai nie, maar probeer eerder om jou lyf sywaarts na die hond se rigting te draai.
  • Probeer om ’n visuele versperring (draad, hek of kar) tussen jou en die hond te kry.

Walpole en Meiring gee ook verdere wenke vir wanneer ’n hond jou fisies aanval:

  • Probeer om so kalm as moontlik te bly.
  • Moenie skree, weghardloop of jou rug op die hond draai nie.
  • Probeer om nie met die hond oogkontak te maak nie omdat dit as uitdagend kan voorkom.
  • Hou jou arms naby jou lyf gevou en staan doodstil totdat die hond wegskram.
  • As jy kos by jou het, breek dit in kleiner stukkies op en gooi dit na die hond se kop. Wanneer die hond begin eet, gaan voort om kos te gooi terwyl jy stadig na ’n veiliger plek wegbeweeg.
  • Indien dit moontlik is, plaas ’n item soos ’n stoel of rugsak tussen jou en die hond.
  • Wanneer die hond op jou begin spring, bly kalm en hou jou gesig weg van die aanvallende hond.
  • Indien die hond jou na die grond toe afruk, krul in ’n fetale posisie en bedek jou kop en nek deur jou hande bo-op jou kop te plaas. Lê baie stil.

Wat om te doen as ʼn hond jou byt

“Wanneer ’n persoon deur ’n hond gebyt word, moet die insident onmiddellik by die polisie aangemeld word,” sê Walpole. Volgens Walpole is dit belangrik dat die persoon wat gebyt is dadelik vir ’n mediese ondersoek gaan om seker te maak dat die persoon nie enige infeksies of selfs hondsdolheid opgedoen het nie. Indien die hond mishandel of verwaarloos lyk, moet die DBV ook dadelik in kennis gestel word.

Laai Netcare911 se gids van hoe om honde se gedragspatrone en lyftaal beter te verstaan, hier af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Andreas ·

Skuus ek is sinies, klomp jaar gelede, toe ons in JHB gewoon het, het bure wat met vakansie was, se wit bullterrier dit reggekry om teen hul draadheining aan die anderkant van die ‘precast’ muur uit te klim, oor te spring en het die dier ons probeer aanval. Jammer, maar ek het twee slegte ondervindings twee keer beleef. Daar is nie ‘n manier hoe die bostaande raad my sou help nie.

Andreas ·

Per geleentheid, ook oor ‘n naweek toe die bure nie tuis was nie, hulle het ook ‘n maltesie gehad, hoor ons die Sondagoggend vroeg ‘n gekerm van die maltesie, later was dit so erg dat ons oor die muur in die agterplaas gaan loer het wat aangaan. Toe ons daar aankom het die wit bull terrier die maltesie al amper opgevreet.

ZAR ·

Dankie vir die artikel ek wil net byvoeg dat kinders en volwassenes baie versigtig moet wees as hulle sien iemand ry by hul oprit se hek in of uit. As dit gebeur, moenie in die tyd wat die hek nog oop is verby loop of hardloop nie. Staan doodstil ‘n afstand weg. Dis die grootste oorsaak van hond aanvalle op fietsryers en drawwers.
As ‘n bestuurder, hou jou honde op ‘n ander manier toe, sodat hulle nie toegang kan kry na buite as jy vanuit jou oprit ry nie, indien dit nie moontlik is nie, maak seker daar is nie mense wat loop as jy uitry nie.
Jou hond is dalk die vriendelikheid vanself, maar hulle het sterk beskermingsdrange en mag dalk dink jou lewe is in gevaar as iemand verby loop.

Jack Russl ·

Dis nie jou probleem nie, gaan voort soos jy nou doen. Dis maklik om na die tyd te sê die hond eienaar moes dit of dat gedoen het, maar dan is die skade klaar aan jou gedoen.

Gebruik eerder jou gesonde verstand en vermy situasies wat gevaarlik kan wees. Dit kan jou baie pyn en ongemak spaar, en selfs nog jou lewe ook.

As jy by ‘n voetoorgang is loop jy tog nie net oor sonder om te kyk of dit veilig is nie. Ja, die bestuurder moet kyk en stop. Dit help niks om na die tyd te sê die bestuurder moes gestop het nie, jy het klaar gebreekte bene. Nee wat, in hierdie land moet jy eers na jouself kyk en nie verwag ander mense gaan altyd die regte ding doen nie

Lief vir honde maar......... ·

Dit is harsteer dat mens geleer moet word wat om te doen as hond-se-kind jou wil aanval, maar dis realiteit…….dit gaan nie net oor “hoe die hond groot gemaak word” of “oor watter tipe ras” die hond is of “aan watter omstandighede die hond blootgestel is nie”. Honde het steeds wild in hulle. Daardie instink bly baie sterk maak nie saak hoe mak die hond is nie. Ek is baie lief vir honde, maar ek is ook baie bang vir hulle, veral ander mense se honde. Ek weet hoe om my eie te hanteer, maar selfde geld nie vir ander se honde nie. Dit is honde-eienaars se verantwoordelikheid om te sorg dat hul honde veilig toe is en ook nie in die strate rondloop nie.

Ralf ·

Baie insiggewend dankie!
Leer jou hond ken soos jy jou kind leer ken sodat jy weet wat hul afsit en wat nie. Wees betrokke.

Andreas ·

Ek, my vrou en haar ma het paar jaar gelede, hier waar ons nou woon, een oggend gaan stap. So 100 meter van die huis af bestorm ‘n bullterrier ons blindelings, een van daai wittes, ek kry dit reg om die hond met die regterhand agter die nek te gryp, die linkerhand onder by die keel, terselfdertyd lig ek die hond heel van die grond af tot seker my skouerhoogte. Die eienaar het vervaard uit die erf aangekom en het ek die hond in sy sorg gelaat. Dit in kort.

Nettie ·

“Bottomline” – op my werf geld een reël: EK is die ALPHA hond en die res van hulle is deel van die trop. My hekke kan wawyd oopstaan, as ek gesê het “BLY!” dan blý my honde in my erf. Maar ek kan nou nie verantwoordelikheid daarvoor vat as ek met my motor uitkom, en die kinders die honde staan en terg nie …….

Vlooi ·

As jy wil honde aanhou, moet jy ook die verantwoordelikheid aanvaar om hulle binne in jou erf te hou, uit en gedaan. Dit is vir my interessant, dikwels as ‘n hond wel ‘n kind byt, is die eienaar se eerste verweer die kinders het die hond geterg. Dit is nonsens. As jou honde in jou erf is en nie kan uitkom nie, kan hulle ook nie onskuldige voetgangers in die straat aanval nie.

Asjas ·

Vlooi, nou een oggend in die vakansie gaan ons honde vreeslik tekere, ek gaan kyk want dis nie hul gewone blaf nie. Wat kry ek? Drie laaities staan oorkant die pad en tart die honde!! Ek het hulle vriendelik aangeraai om iewers anders verveeld te gaan wees. Weet ouers waar is hulle kinders in skool vakansies en watse goed jaag hulle alles aan?
Ons oorlede hond was die liefdevolste dier, het selfs stertswaaiend saam met die inbrekers van vertrek tot vertrek gestap, 4 van hulle. Maar mense onder in die straat se seun wou hy net gryp, hoekom?? Hy het hom geterg, ELKE dag wanneer hy hier verbystap. Ons bure het oor dieselfde ding gekla en hulle het ‘n klein Poedel gehad …

Francois Joubert ·

Vlooi, ja dit is ‘n gemaklike verskoning maar die tergery is ‘n realiteit. My broer se honde is so deur die heining geterg. Eendag storm die groot hond en die seun spring terug en word deur ‘n motor dood gery. Kinders moet geleer word om nie honde te terg nie. Kyk net tot watter tragedie dit kan ly.

Kalf ·

Druk die hond se neus toe wanneer die hond besig is om iemand te byt. Hy moet ook asem haal. Ons kon al n paar katte so red…

Dries du Toit ·

Die belangrikste raad word nie genoem nie. Maak seker jy skaf die regte hond aan 90% van honde kan byt maar net 10% honde verskeur en maak dood. Meeste honde is dierbare skepsel van God en is nie naastenby so wreed as mense nie. As n hond jou byt is daar gewoonlik n goeie rede om hom te verskoon en vas te stel hoekom JY gestraf is.

Dieter ·

Ek is nie eens aan kinders gewoond nie, so hoe kan jy verwag my honde moet aan kinders gewoond wees?

Piet ·

Nou het ek als gehoor. Dat die mens tot die hond se vlak moet daal. Honde bly n pes en ek hoop die 5 word vrek geskiet.

Michael Bouwer ·

Sjoe, dat jy nie die geluk beleef wat n hond in jou lewe bring nie. Ek kry jou jammer.

Valerie ·

Michael Bouwer, daar is ‘n miljoen beter, veiliger, skoner, en minder raserige maniere van jou “geluk” te kry as deur honde.

Zombie ·

Honde word ook soos volg gebruik:
Gidshonde
Om mense met geestesversteurings te herinner om hulle psigotrope medikasie te neem.
Voorkoming van selfmoord.
Voorkoming van ander selfbeserende gedrag soos mense wat hulleself sny.
Ondersteuning tydens angsaanvalle.
Ondersteuning tydens depressiewe episodes.
Opspoor van kanker.
Waarskuwing teen diabetiese koma.
Verbetering van leesprobleme by kinders.
Medeterapeute in psigoterapie.
Opsporing van dwelms en plofstowwe.
Spoorsny
Ondersteuning van polisie.
https://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=5725
Ensomeer

Anne ·

Oningeligte mense wat duidelik neigings het van geweld irriteer my nou weer. Gaan lees boeke oor honde, hul opleiding, wanopvattings oor hulle gedrag, ens. En as jy dit gedoen het, dan kom probeer jy weer. Ek het al my huiswerk oor honde gedoen, want ek het ‘n kursus gedoen in opleiding en gedragsterapie met honde. Ek wens almal wat diere judge wil net bietjie leer en nie self vir mense rondom hulle ‘n verpesting word nie.

Jannie ·

Maklik hou eienaars van honde verantwoordelik vir hul honde se optrede en plaas swaar strafreëls in indien honde iemand beseer.
Ordentlike siviele eise sowel as publisiteit rakende eienaars van honde wat mense byt se straf sal honde-eienaars laat besef hulle het ń verantwoordelikheid om toe te sien dat hul honde nie onskuldige mense byt en/of aanval nie.

Oujongvrou ·

????Dieter ek is saam met jou op daai een. Veral deesdae se kinders

Andreas ·

Komaan, ek daag julle veghonde eienaars en verdedigers uit om my op my ondervindings soos hier bo beskyf aan te vat!

Een keer kan mens nog verskoon en rede voor soek, maar 3 uit 3 gevalle wat ek met hulle mee te doene gekry het, dis 100%, hoe verklaar julle dit?

Andreas ·

Die veghond eienaars is soos die manne wat met renosters ‘boer’. Maar ek het nog nie gehoor van iemand wat met ‘n olifant ‘boer’ nie.

Maggie ·

Ja…. en toe ek vir die Bure langsaan gaan sê het hulle hond het my in my erf gebyt (hy het hoog oor die beton mure en deur die pallisades bo-op gespring) het sê hulle net hulle kan dit nie glo nie. Ek gaan toe Polisie toe en hulle haal ook net hul skouers op. Vandag sit ek met die lestsels en daar het niks van gekom nie. Ons het die heining maar hoog gelig, maar die hond probeer nog oorkom. Ek is te bang om in my eie tuin te werk.

Alida ·

Bly en hou kinders uit vreemde honde se pad. Dit is tog nie so moeilik nie.

jhbmeisi ·

Ek weet nie hoe die raad gaan help nie.Baie van ons stap in ons woonbuurte rond en hoe loop jy weg of kruip vir n hond weg agter iets as hy jo wil aanval en jy kan nerens heen gaan.
Ek gaan verseker nie op krul en laat hy my byt nie

Leslie ·

Ek het ń vrees vir honde. Ek ys as ek in straat stap en ek sien ‘n hond. Hoe mak ookal. Gaan kuier gladnie vir familie tensy hul honde nie toegemaak is nie. Al té veel gevalle gesien van kolegas wat aangeval was en veloorplantings moes kry! ! Een vriendin het permanent geen gevoel in haar ken nadat sy aangeval was en in haar gesig gebyt was.

Vicky ·

Ek voel ons as mense is grootliks deel van hierdie honde wat ons anval! Mense crossbreed te veel veral di agresiewe rasse. Party mense gan ook uit hulle pad om di diere te tart. Asb moet my ni verkeerd verstaan ni dis bitter hartseer as ( a man’s best friend) jo anval.

Grys ·

Was op n plaas met ń vriend en my german sheperd op n leash, vir die bosvarke te jag (suikerriet in kzn) vriend het n .303 geweer gehad. Uit nerens kom n varkhond, baie sleg gelyk, val ons hond aan, ons slat die ding, my vriend skiet op die hond, op die skedel niks minder as 5meter weg nie, die hond het aanhou en toe weg gehardloop, die goed is gevaarlik, daar moet strenger opgetree word deur honde eienaars wat nie hulle honde in beheer hou nie en ook wat veroorsaak dat hulle so agrisief is.

Adri ·

Daardie raad is seker goed maar nie 1 het vir my gewerk nie ek is 3x al deur honde wat in straat loop gebyt terwyl ek geoefen het elke keer moes ek hospitaal toegaan vir steke en die polisie in ons dorp se hul kan ni n saak maak nie hul weet nie of ek hond aangehits het nie ja kan jy glo maar sterkte ek hoop d raad werk vir jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.