Wenke: Hoe gemaak as ’n hond jou aanval?

Argieffoto ter illustrasie

ʼn Hond word as die mens se beste vriend beskou, maar somtyds ook as die mens se grootste vyand. ’n Hond kan binne ’n breukdeel van ʼn sekonde aanval en daarom moet ʼn mens ten alle tye paraat wees.

Maroela Media het vroeër die week berig oor twee vroue wat in Amanzimtoti deur honde aangeval is. Die soort aanvalle laat ʼn mens vra: wat laat honde aanval, hoe kan dit gekeer word en wat moet ʼn mens doen as jy wel aangeval word?

Die nooddienste ER24 en Netcare911 het die volgende raad verskaf:

Honde en kinders

Volgens Samantha Walpole, ʼn dieregedragskonsultant van Animal Behaviour Consultants South Africa, loop kinders die grootste risiko om deur ’n hond aangeval te word en daarom moet ouers en kinders ingelig wees om so ’n aanval te voorkom.

Hond en kind (Foto: Pixabay)

“Kinders word oor die algemeen deur honde aangetrek. Waaiende sterte trek kinders se aandag. Dit is egter onwaar dat dit veilig is om ’n hond met ’n waaiende stert te nader. Kinders word ook verkeerd geleer dat hulle sommer enige hond vrylik kan omhels en soen as ’n vorm van liefde,” sê Walpole wat in die gedrag en opleiding van honde spesialiseer.

Walpole sê omdat mens en dier nie dieselfde taal praat nie, is dit van kardinale belang dat honde-eienaars hul honde se lyftaal en gedragspatrone noukeurig moet bestudeer en probeer verstaan. Kinders moet ook van ’n jong ouderdom af ingelig word oor ’n hond se spesifieke gedragspatrone en hoe om teenoor honde op te tree.

ER24-woordvoerder, Russel Meiring, doen ’n beroep op honde-eienaars om goed na hulle honde om te sien deur te verseker dat hulle van kleins af aan kinders gewoond is en goed opgelei is.

Meiring verseker dat honde selde uit die bloute iemand sal aanval. “Daar is sekere tekens van aggressie wat nie ignoreer moet word nie soos wanneer ’n hond byvoorbeeld grom, knor of na jou hap,” sê Meiring.

Waarom val ’n hond aan?

(Foto: Pixabay)

Honde sal meestal aanval as ’n vorm van selfverdediging wanneer hulle in ’n sekere situasie bedreig voel. In ander gevalle sal die hond aggressief raak omdat dit ongemaklik voel en sy persoonlike spasie ingedring word. “In baie rare gevalle sal ’n hond aanval omdat dit siek of in pyn is. In ander gevalle weet die hond nie hoe om ’n sekere situasie te hanteer nie, en hulle eerste reaksie sal wees om aan te val,” sê Walpole.

Volgens Walpole doen mense nie die moeite om die hond se lyftaal te probeer verstaan nie.

Wenke om ’n honde-aanval te verhoed

Walpole het slegs ’n paar wenke gegee wat honde-eienaars ingedagte moet hou om te verhoed dat ’n hond aggressief raak:

  • Behandel jou hond met respek.
  • Leer om jou hond se lyftaal en gedragspatrone te verstaan. Deur ’n hond se lyftaal dop te hou, kan jy gou agterkom wanneer die hond ongemaklik of bedreig voel.
  • Voldoen aan al jou hond se behoeftes deur te leer waarvan jou hond hou en nie hou nie.
  • Moenie ’n hond uitlok deur hom te stamp of sy stert te trek nie.
  • Moet nooit ’n hond in ’n hoek probeer vasdruk nie.
  • Moenie ’n hond berispe as dit grom nie.

Wanneer ’n hond jou aanval

ER24 moedig mense aan om vreemde honde eerder te vermy en om dadelik ’n verdwaalde hond aan die toepaslike owerhede te rapporteer.

Meiring gee die volgende wenke wanneer jy ’n vreemde hond teëkom:

  • Moenie die vreemde hond aanmoedig om jou te nader nie.
  • Probeer om so kalm as moontlik weg te stap.
  • Moet nooit jou rug op die hond draai nie, maar probeer eerder om jou lyf sywaarts na die hond se rigting te draai.
  • Probeer om ’n visuele versperring (draad, hek of kar) tussen jou en die hond te kry.

Walpole en Meiring gee ook verdere wenke vir wanneer ’n hond jou fisies aanval:

  • Probeer om so kalm as moontlik te bly.
  • Moenie skree, weghardloop of jou rug op die hond draai nie.
  • Probeer om nie met die hond oogkontak te maak nie omdat dit as uitdagend kan voorkom.
  • Hou jou arms naby jou lyf gevou en staan doodstil totdat die hond wegskram.
  • As jy kos by jou het, breek dit in kleiner stukkies op en gooi dit na die hond se kop. Wanneer die hond begin eet, gaan voort om kos te gooi terwyl jy stadig na ’n veiliger plek wegbeweeg.
  • Indien dit moontlik is, plaas ’n item soos ’n stoel of rugsak tussen jou en die hond.
  • Wanneer die hond op jou begin spring, bly kalm en hou jou gesig weg van die aanvallende hond.
  • Indien die hond jou na die grond toe afruk, krul in ’n fetale posisie en bedek jou kop en nek deur jou hande bo-op jou kop te plaas. Lê baie stil.

Wat om te doen as ʼn hond jou byt

“Wanneer ’n persoon deur ’n hond gebyt word, moet die insident onmiddellik by die polisie aangemeld word,” sê Walpole. Volgens Walpole is dit belangrik dat die persoon wat gebyt is dadelik vir ’n mediese ondersoek gaan om seker te maak dat die persoon nie enige infeksies of selfs hondsdolheid opgedoen het nie. Indien die hond mishandel of verwaarloos lyk, moet die DBV ook dadelik in kennis gestel word.

Laai Netcare911 se gids van hoe om honde se gedragspatrone en lyftaal beter te verstaan, hier af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andreas

Skuus ek is sinies, klomp jaar gelede, toe ons in JHB gewoon het, het bure wat met vakansie was, se wit bullterrier dit reggekry om teen hul draadheining aan die anderkant van die ‘precast’ muur uit te klim, oor te spring en het die dier ons probeer aanval. Jammer, maar ek het twee slegte ondervindings twee keer beleef. Daar is nie ‘n manier hoe die bostaande raad my sou help nie.

ZAR

Dankie vir die artikel ek wil net byvoeg dat kinders en volwassenes baie versigtig moet wees as hulle sien iemand ry by hul oprit se hek in of uit. As dit gebeur, moenie in die tyd wat die hek nog oop is verby loop of hardloop nie. Staan doodstil ‘n afstand weg. Dis die grootste oorsaak van hond aanvalle op fietsryers en drawwers. As ‘n bestuurder, hou jou honde op ‘n ander manier toe, sodat hulle nie toegang kan kry na buite as jy vanuit jou oprit ry nie, indien dit nie moontlik is nie, maak seker daar is nie… Lees meer »

Lief vir honde maar.........

Dit is harsteer dat mens geleer moet word wat om te doen as hond-se-kind jou wil aanval, maar dis realiteit…….dit gaan nie net oor “hoe die hond groot gemaak word” of “oor watter tipe ras” die hond is of “aan watter omstandighede die hond blootgestel is nie”. Honde het steeds wild in hulle. Daardie instink bly baie sterk maak nie saak hoe mak die hond is nie. Ek is baie lief vir honde, maar ek is ook baie bang vir hulle, veral ander mense se honde. Ek weet hoe om my eie te hanteer, maar selfde geld nie vir ander… Lees meer »

Ralf

Baie insiggewend dankie!
Leer jou hond ken soos jy jou kind leer ken sodat jy weet wat hul afsit en wat nie. Wees betrokke.

Andreas

Ek, my vrou en haar ma het paar jaar gelede, hier waar ons nou woon, een oggend gaan stap. So 100 meter van die huis af bestorm ‘n bullterrier ons blindelings, een van daai wittes, ek kry dit reg om die hond met die regterhand agter die nek te gryp, die linkerhand onder by die keel, terselfdertyd lig ek die hond heel van die grond af tot seker my skouerhoogte. Die eienaar het vervaard uit die erf aangekom en het ek die hond in sy sorg gelaat. Dit in kort.