Wenke van ʼn voormalige kaper: Só bly jy veilig

Argieffoto

Jy het jou dalk al ingedink hoe jy sal reageer indien jy ooit die slagoffer van ʼn kaping word, maar dit is moeilik om vooraf te weet of jy in staat sal wees om koelkop te bly in só ʼn lewensgevaarlike situasie.

Volgens statistieke deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) gebeur daar ongeveer 34 880 kapings elke jaar in Suid-Afrika. Dit is een kaping elke 15 minute.

Hoe gaan kapers te werk, waar slaan hulle toe, en wat is die beste manier om te vermy dat ʼn kaping in iets baie ernstiger verander? Die beste persoon om dié vrae te antwoord – die kaper self.

Dialdirect het gaan kyk na inligting wat ʼn voormalige kaper, net bekend as “Bra T”, met teenmisdaad-aktivis Yusuf Abramjee in ʼn onderhoud op Crime Watch gedeel het. Abramjee het Bra T uitgevra oor hoe kapers te werk gaan, hoe slagoffers gekies word, en wat motoriste kan doen om te vermy dat hulle ʼn slagoffer word.

Volgens Bra T sal ʼn span van vier kapers, dikwels onder die invloed van alkohol en dwelms, saam werk om motors te kaap – tot so tussen 30 en 40 motors per dag. Bra T verduidelik kapers werk volgens kliënte se “inkopielyste” wat spesifiseer watter fabrikaat en model motor hulle wil hê, hoeveel van die motors hulle wil hê en teen wanneer die motors gelewer moet word.

Hy verduidelik kapers fokus op gebiede waar daar ʼn groter kans is dat hulle die spesifieke motor sal kan kry wat hulle nodig het, sonder om hulself in gevaar te plaas dat hulle gevang kan word.

Mense wat op pad terug is van winkelsentrums is ideaal, omdat hulle gewoonlik kontant of kaarte by hulle het wat dien as ʼn “ekstra bonus”. Kapers sal dan dikwels hul slagoffer dwing om hul PIN aan hulle te gee sodat geld uit hul rekeninge onttrek kan word.

Bra T verduidelik wanneer kapers op ʼn slagoffer besluit het, sal hulle die motor van ʼn afstand af volg en later nader beweeg en dikwels by ʼn verkeerslig toeslaan. Hy sê ʼn taktiek wat gereeld gebruik word, is om van agter teen die slagoffer se motor vas te ry sodat die motoris dink ʼn ongeluk het gebeur en hulle dan stilhou en uit hul motor klim.

Opritte is ook ideale plekke vir kapings, omdat die kapers die motoris in die oprit kan vaskeer voordat die toegangshek heeltemal oopgemaak het.

‘n Skermskoot uit kringtelevisiebeeldmateriaal van ‘n kaping in Mayfair, Johannesburg.

Maanda Tshifularo, hoof van Dialdirect Insurance, gee die volgende wenke om ʼn kaping te vermy, of ongedeerd daarvan af te kom indien jy wel ʼn slagoffer raak:

– Wees altyd bewus van jou omgewing en wees op die uitkyk vir enige iets verdag. Die gevaarlikste tydperk is wanneer jy by jou bestemming aankom. Fokus op wat om jou aangaan en moet nie toelaat dat jou aandag afgelei word nie.

– Wees paraat wanneer jy brandstof ingooi, veral wanneer dit donker is. Hou jou deure en vensters toe en gesluit en maak slegs die venster oop om te betaal. Wees op die uitkyk vir verdagte beweging om jou, veral in jou motor se blindekol.

– Gebruik jou foon se navigasiestelsel om te verhoed dat jy verlore raak. Mense wat ooglopend lyk of hulle nie weet waar hulle is nie, is maklike teikens. Stel iemand by jou bestemming in kennis van jou beplande tyd van aankoms.

– Maak gebruik van ʼn opsporingstelsel vir jou motor – verkieslik een met ʼn paniekknoppie en ʼn bystand-opsporingstelsel wat steeds werk wanneer die hoofopsporingstelsel verwyder word.

– Wanneer jy by verkeersligte stilstaan, hou jou kop op en maak oogkontak met die voetgangers rondom jou.

– Wanneer jy ʼn rooi verkeerslig nader, begin al vanaf ʼn afstand stadiger ry sodat jy nie heeltemal tot stilstand hoef te kom voordat die lig oorslaan nie. Dit is veral nuttig wanneer jy laat in die aand ry.

– Indien jy moet stilhou, gee jouself genoeg ruimte voor jou motor om te verhoed dat jy vasgekeer kan word. Jy moet die voertuig voor jou se bande kan sien.

– Wees op die uitkyk vir verdagte voertuie wat jou agtervolg. Indien jy vermoed dat jy agtervolg word, maak ʼn paar draaie indien nodig en ry na die naaste polisiestasie. Indien jy onseker is of ʼn motor wat jou wil aftrek werklik ʼn amptelike polisievoertuig is, bly kalm, sit jou waarskuwingsligte aan om te wys dat jy bereid is om jou samewerking te gee, en ry na die naaste polisiestasie.

– Indien iemand van agter teen jou vasry, ry na ʼn polisiestasie of besige gebied om die skade te besigtig.

– Maak seker jy parkeer altyd in ʼn veilige, goedbeligte area.

– Wanneer jy by die huis aankom, hou in die pad langs jou oprit stil terwyl jy wag vir die hek om oop te gaan, en ry eers in wanneer die hek heeltemal oop is. Sodoende kan jy wegjaag indien nodig.

– Hou jou deure en vensters altyd gesluit en moenie ry met waardevolle items oop en bloot langs jou of in die motor nie. Bêre dit waar dit nie gesien kan word nie.

– Kyk dat daar niemand by jou agterste sitplek skuil nie wanneer jy in die motor klim, selfs al het jy die voertuig gesluit toe jy dit verlaat het.

– Indien jy wel die slagoffer van ʼn kaping word, bly kalm en moet nie met die kaper argumenteer nie.

– Gebruik jou hand naaste aan jou sitplekgordel om dit los te maak en beweeg rustig sonder om enige skielike bewegings te maak.

– Vermy oogkontak met die kaper, doen wat daar vir jou gesê word en moenie probeer om ʼn held te wees nie – ʼn voertuig kan vervang word, jou lewe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

HPV ·

Nou praat jy my taal! 45 ACP, 100% stop krag, ek trek dit daagliks aan, deel van my kleredrag.

Ella ·

Dit sou beter klink as die opskrif was:
” Wenke van n gevonnisde voormalige kaper”
Ten minste het ons dan geweet hy kan nie gou weer n “aktiewe kaper” word.

Weet min ·

Weet nog steeds nie wat 45acp is nie. Beskrywings is vaag. “Pil” of ammunisie?

nella ·

Sjoe!!! Baie dankie vir diè insiggewende raad. Sal probeer om van dit te memoriseer. Dankie Maroela.

Salamander ·

Amper soos ‘n Disprin vir krims. Net sekere apteke hou dit aan, gewoonlik in verpakking van 50.

Sophia ·

Dis soos kpp poeiers can ouds net in soliede vorm. Dis slaan hard daar sal geen hoofpyn wees na dit nie.

Werner ·

45 is die kaliber acp automatic colt pistol dit is n vuurwapen en as jy nog nie een het nie begin solank die proses om jou bevoegdheid sertifikaat te kry terwyl jy spaar om een te koop

wilma ·

wanneer ek lees van al die misdaad dan wonder ek hoeveel van wetsgehoorsame mense oor alle rasse verlang trug na ou SA

Jacques ·

Dit is n vuurwapen kaliber, anders gestel, dit is die diameter van die punt van ammunisie. .45 is 0.45″ wat 11.43mm is.

Kerrie ·

.45 ACP Automatic Colt Pistol is die ammo….

….maar die pistool is semi-automaties.

Jana ·

Ek wil weet wat om te doen wanneer my kinders saam met my in die kar is. Hoe keer mens dat hulle met jou kind in die kar wegjaag?

Eliz ·

Wanneer jy jou gordel losmaak spring jy na die sitplek waar jou kinders sit, so het ek gehoor, glo dis al kans wat jy het want as jy eers uit die kar is kan jy hulle nie help nie.
Ek wil graag weet as my kar n groot stamp in die deur het maak dit hom minder aantreklik vir kapers?

DG ·

HI Jana. Tydens ‘n teenkaping program wat ons by die werk gehad het, het hulle ons meegedeel dat jy sover as moontlik moet probeer om nie die voertuig te verlaat met die kinders nog in die kar nie. Kapers sal ook verkies om nie kinders tydens die kaping te ontvoer nie, want dit sal dinge net vir hulle moeiliker maak. Jy moet baie kalm probeer bly en die kaper laat weet dat jy net jou kinders wil uitkry, hy is welkom om die kar te vat. Hulle moet dan so gou moontlik van agter af vorentoe bo-oor jou klim om by die bestuurder kant uit die voertuig te klim. As hulle almal uit is klim jy uit. Gelukkig nog nie self nodig gehad om te toets hoe effektief dit is nie, maar dit maak vir my sin. Hoop dit help.

Joez ·

Nou nie juis nuwe wenke nie, maar die standaard Anti Highjacking pamfeltjie inligting. Hier’s nog een, wanneer jy by jou huis kom, en jy wag vir jou hek, sit jou kar in reverse sodra jy stil hou (99% van die mense hou nogsteeds stil voor hul hekke anyway)

JohanL ·

Sit en “wag voor die hek” vir my impliseer dat die hek gemotoriseer is. As dit so is, wil ek verder gaan en aanbeveel – jy wag nie voor jou hek nie.

Eerstens (indien moontlik want dit hang af van hoe besig die straat is waar jy woon) sorg dat geen motor agter jou is nie. Maak dan hek oop as jy nog besig is om te ry na jou woning, sodat as jy by jou hek kom, hy oop is en jy net kan inry. Maak hom dadelik weer toe.

In ‘n stil straat sal bogenoemde optrede die kans drasties verminder op ‘n kaping. In ‘n besige straat kan hierdie strategie steeds gevolg word, die waarborg is net natuurlik kleiner.

Die belangrikste ding wat mens moet leer is om oplettend te wees en “comon sense” te gebruik. Dan sal motorkapings by die huis baie minder plassvind. By verkeerslig en winkelsentrum is dit natuurlik ‘n totaal ander storie.

marous ·

As daar elke 15 minute 4 kapers dood geskiet word en die regstelsel se subjektiewe houding teenoor die reg op self beskerming ophou , sal die gemors binne ‘n dag einde kry . Punt.

B Scheepers ·

Almal lees hierdie raad. Skelms ook. Ons word aangeraai om stilweg die voertuig oor te gee. Hule weet dit ook. So maklik. Ek sê nee. Hou vuurwapen naby en beleid moet wees. VAT MY KAR AS JY KAN !. Dan sal hul ophou om sommer net te VAT.

Kobus ·

Die somme werk nie. Elke15 minute ń kaping. Bra T kaap 30 tot 40 ń dag. Hy en sy makkers kaap dus 2 tot 3 van alle karre wat per dag in SA gekaap word. ń Produktiewe spannetjie!

marous ·

G is korrek . Aanvanklik .45 in 1904 vir Browning . Daarna .45 Colt M1911 . ( Militere uitreiking) “Automatic Colt Pistol ” rondte .

Attie. ·

Indien jy voor jou hek stilhou sal jou honde jou kom verwelkom. Let op na hul gedrag, indien daar probleme is sal hulle jou beslis vertel. Indien hulle nie na die hek toe kom nie moet jy nie ingaan nie. Ek kom enige tyd van die nag huistoe en my twee natneuse wys nog altyd vir my dat daar nie probleme is nie. Daarby het ek ook ‘n sukuriteitsstelsel buite en binne my huis en buitegeboue. Ek lek n skelm blink wat dit regkry om hier in te kom want behalwe soos reeds genoem is hier ook engele wat my plek oppas en hulle is die meeste werd.

Jana ·

DG, dankie vir jou raad. Ek dink dis meer op toepassing van kleiner kinders? My kinders is tieners… ek wil dit nie eers hardop se of daaraan dink nie, maar ek het dogters. Ek dink daaraan dat hulle kan wegjaag met hulle, en die ondenkbare kan doen. Met my kan hulle doen wat hulle wil, as hulle net my kinders uitlos. Het julle iets geleer van dit? Wat as die kinders uit die kar spring en die gemors skiet hulle? Ek weet my man se altyd wat ookal gebeur, moenie toelaat dat hulle met jou wegry nie, maar hoe ver vat mens dit? Ek haat dit dat ons in ‘n wereld bly waarin jy oor hierdie goed moet dink. Dit maak my letterlik naar op die maag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.