Wenner van een van SA se gesogste pryse aangewys

Prof. Jean Sonnekus (Foto: Jan Potgieter/verskaf)

Die Jan H Marais-prys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies van hoë gehalte in Afrikaans word vanjaar toegeken aan die regsgeleerde, prof. Jean Sonnekus, van Johannesburg.

Die prysgeld van R500 000 as erkenning vir sy lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans sal later vanjaar ná die einde van Covid-19-afsonderingstydperk by ’n funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig word.

Sonnekus is Dinsdagoggend as die wenner aangewys deur die voorsitter van die keurkomitee, prof. Andreas van Wyk, oudrektor van die Universiteit Stellenbosch.

Prof. Sonnekus, een van Suid-Afrika se bekendste akademiese regsgeleerdes, is in 1951 in Pietermaritzburg gebore. Hy behaal die BA-graad in die Regte in 1970 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Dieselfde instelling ken in 1972 ’n LLB-graad cum laude aan hom toe, waarna hy sy nagraadse studie aan die Rijksuniversiteit Leiden in Nederland voortsit, soos vele Suid-Afrikaanse regsgeleerdes oor die jare heen. In April 1976 promoveer hy daar as doktor in die regsgeleerdheid met ’n proefskrif oor die privaatregtelike beskerming van die huwelik.

Sy loopbaan as akademikus begin hy met ingang 1976 in Johannesburg aan sy alma mater as senior lektor in privaatreg. In 1981 word hy daar tot medeprofessor en in 1984 tot professor bevorder. Van 1996 tot 1999 tree hy op as voorsitter van die Departement Privaatreg. Aan die einde van 2016 het hy met amptelike pensioen uitgetree by wat intussen die Universiteit van Johannesburg geword het.

Jean Christoph Sonnekus het oor die afgelope 45 jaar 18 boeke of hoofstukke in boeke en meer as 300 wetenskaplike artikels geskryf, vele daarvan internasionaal en grotendeels in Afrikaans. Hy het hom deurgaans, ook as redakteur van die Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, sterk beywer vir Afrikaans as regstaal.

Vir sy werk is prof. Sonnekus deur die Nasionale Navorsingstigting as ’n B1-navorser gegradeer vir die internasionale erkenning wat hy geniet as ’n vooraanstaande internasionale kenner van die huweliksgoederereg en die sakereg. In 2002 ontvang hy die Toon van den Heever-prys vir Regswetenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en twee keer die ATKV-prys vir die beste artikel in Afrikaans in ’n vakkundige tydskrif (2013 en 2019).

Jean Sonnekus is getroud met Liesbeth en die egpaar het vier kinders.

Die jaarlikse Jan H Marais-prys is in 2015 ingestel deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch, wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.

Die Jan H Marais-prys vir ’n lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff. Andreas van Wyk (Stellenbosch), Albert Grundlingh (Stellenbosch), Christof Heyns (Pretoria en Genève), Debra Meyer (Johannesburg), Piet Steyn (Stellenbosch) en dr. Johan van Zyl (vroeër van Sanlam). Dit is die laaste jaar dat prof. Van Wyk in hierdie rol sal optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.