Wenner van Jan H Marais-prys bekendgemaak

Prof. Louise Viljoen van Stellenbosch. (Foto: Verskaf)

Prof. Louise Viljoen van Stellenbosch is vanjaar aangewys as die ontvanger van die gesogte Jan H Marais-prys.

Viljoen word erken vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Die toekenning sal later vanjaar tydens ʼn funksie op Stellenbosch aan haar oorhandig word.

Dr. Johan van Zyl, oudrektor van die Universiteit van Pretoria en ook oudbestuurshoof en -voorsitter van Sanlam, wat voorsitter van die keurkomitee vir die prys is, het die besluit Vrydag bekendgemaak.

“Haar navorsing lewer by uitstek blyke van haar kapasiteit om voortdurend op die hoogte te bly van die jongste internasionale ontwikkeling in die literatuurwetenskap, en hierdie inhoude dra sy sonder uitsondering in suiwer, maar altyd helder Afrikaans aan Afrikaanssprekende vakgenote en studente oor,” sê die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) luidens ʼn verklaring.

“Op hierdie manier word teoretiese begrippe in Afrikaans gevestig en gesirkuleer. Min akademici binne die Afrikaanse literatuurwetenskap kan haar dít nadoen.”

Dié prys, wat sedert 2015 jaarliks deur die SA Akademie uitgedeel word, word vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans toegeken. Die prysgeld beloop R750 000.

Die Jan H Marais-prys is in 2015 geskep deur ʼn besluit van die Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit Stellenbosch.

Al drie hierdie instellings het hulle ontstaan te danke aan die vêrsiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.

Die prys vir ’n uitnemende bydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die SA Akademie.

Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff. Albert Grundlingh (Stellenbosch), Gerhard Lubbe (Stellenbosch), Ena Jansen (Amsterdam en Johannesburg), Ian Dubery (Johannesburg), Ilse Feinauer (Stellenbosch) en dr. Johan van Zyl (vroeër van Pretoria en ook Sanlam).

Meer oor prof. Louise Viljoen

Viljoen is in 1954 gebore. Sy studeer aan die Universiteit Stellenbosch (US) en behaal agtereenvolgens die grade BA (1975), BA Hons (cum laude, 1976), MA (cum laude, 1979) en D. Litt. (1988) in Afrikaans en Nederlands.

Haar loopbaan het soos volg verloop: Sy word in 1978 aangestel as lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US. In 1999 word sy bevorder tot professor en van 2014 tot en met haar aftrede aan die einde van 2019, beklee sy die posisie van uitgelese professor.

Sy tree by verskeie universiteite in Suid-Afrika en die Lae Lande (Amsterdam, Leiden, Groningen, Leuven, Diepenbeek [Hasselt] en Gent) as gasdosent op. Vir ʼn gedeelte van 2019 is sy hoogleraar in die leerstoel Zuid-Afrika: Talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit Gent in België.

Van 1996 tot 2013 dien sy in die Letterkundekommissie van die SA Akademie (as voorsitter van 2007-2013), en hiernaas ook in verskeie ander nasionale en internasionale komitees en rade.

Sy dien ook op die redaksiekomitees van verskeie Afrikaanse literatuurwetenskaplike vaktydskrifte soos Stilet, Tydskrif vir Letterkunde en LitNet Akademies. Haar navorsingsoeuvre bestryk al drie tradisionele terreine van die literatuurstudie, naamlik literêre kritiek, literatuurgeskiedenis en literêre teorie en omvattende onderwerpe soos postkolonialisme, gender, identiteit en transnasionalisme.

Sy publiseer sowat 60 artikels in vaktydskrifte, 30 hoofstukke in boeke en drie boeke. Studente wat onder haar studeer het, het ook meer as 40 artikels uit hulle meestersgraad-tesisse en doktorale proefskrifte onder hulle eie naam gepubliseer.

Verder lewer sy meer as 50 referate by nasionale en internasionale kongresse (heelwat as hoofspreker), en tree by tientalle ander geleenthede op. Wat haar statuur onteenseglik as literêre vakkundige toon, is dat sy genooi word om bydraes oor die Afrikaanse letterkunde in internasionale publikasies te lewer.

Haar bydraes tot SA Lit. Beyond 2000 en The Cambridge History of Literature is boonop uitgesonder en aangeprys in internasionale resensies van hierdie twee boeke.

’n Ander belangrike bydrae tot die groter Afrikaanse literêre stelsel is dat daar oor die jare ’n groot getal resensies in koerante, tydskrifte en aanlyn publikasies van haar verskyn, waarvan verskeie sedert haar aftrede. Louise speel dus ’n sleutelrol in hierdie stelsel: Haar resensies laat mense lees, maar leer hulle ook hoe om te lees. Sy resenseer alle genres: prosa, poësie, dramas en selfs nie-fiksie.

Erkenning vir haar vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit haar ontvangs van onderskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Literêre Kritiek van die SA Akademie (2016), en die ATKV-SA Akademie-prys vir die beste wetenskaplike artikel in Afrikaans (in 2012 en weer in 2019).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Baie geluk! Maar is dit n goeie idee om dit so wyd te versprei dat sy so baie geld gewen het??

Charles ·

Nie eintlik so baie geld nie. In 1985 en terug was dit n fortuin.

Delia ·

Ja jy is reg. Dit is nie so baie. Daar vind deesdae so baie ontvoerings plaas. Vandaar my kommentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.