Wenners van gesogte kykNET-Rapport-boekpryse bekend

Oudregter Andries Buys wat skryf onder sy skrywersnaam, Lodewyk G. du Plessis.

Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse is Saterdagaand in Stellenbosch bekend gemaak.

Die pryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe werk insluit, word toegeken vir die beste Afrikaanse fiksie en niefiksie wat in 2018 verskyn het.

In die kategorie vir fiksie het oudregter Andries Buys, wat skryf onder die naam Lodewyk G du Plessis, met sy debuutroman, Die dao van Daan van der Walt, met die louere weggestap.

“Die beoordelaars beskryf die reeds veelbekroonde Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis as ’n bedevaart vir leesvermoeides, ’n lewenswerk wat wysheid waaraan ’n leeftyd versamel is, adem; ’n boek wat met die mooiste Afrikaanse sinne denkbaar walgooi teen verlies en verganklikheid; een wat die komplekse verhoudings wat ons ondermaanse staning so kosbaar (en kostelik) maak, huldig,” lui ʼn verklaring oor die toekennings.

Die ander benoemdes in hierdie kategorie was Charl-Pierre Naudé met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey en Ingrid Winterbach met Die troebel tyd.

Jeremy vannie Elsies, geskryf deur Jeremy Vearey, is met die niefiksie-toekenning bekroon.

“Jeremy vannie Elsies” deur Jeremy Veary is benoem vir die kykNET-Rapportprys: niefiksie. (Foto: Verskaf)

“[Die boek] het die beoordelaars getref as ’n belangrike boek vir ons tyd, een wat hulle as lesers tot dieper en selfs nuwe insigte gebring het. Dit is ’n vars en kosbare bydrae tot die Afrikaanse letterkunde se oorverteltradisie uit ’n omgewing wat hopeloos te lank afgeskeep is.”

Ingrid Jonker: ʼn Biografie geskryf deur Petrovna Metelerkamp en Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd was ook op die kortlys.

Kinnes, waarmee Chase Rhys vanjaar die rolprentprys wen, het die beoordelaars gaande gehad met sy vars aanslag, literêre meriete, en relevante en ontroerende eietydse storie geskryf in lewendige Afrikaapse dialoog. “Die filmiese beelde wat dit oproep, doem glashelder in die leser se verbeelding op – ‘net soes in ’n movie’.”

Die ander titels op die kortlys was Prooi deur Deon Meyer en Stormkind deur Riana Scheepers.

Die Jan Rabie-Rapportprys vir ʼn debuut of tweede prosawerk in Afrikaans het gegaan aan Naudé met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Volgens die beoordelaars is Naudé se roman benewens magies realistiese satire, kwasi-speurverhaal en vernuftige metafiksie ook ’n boek wat die leser gaandeweg oortuig dat die idee van een kenbare werklikheid verregaande is – veral in ’n land waar soveel mense as ’t ware in parallelle werklikhede rakelings aan mekaar verbyleef.

“In die beoordelingsproses vir vanjaar se kykNET-Rapportpryse moes die beoordelaars rekening hou met verrassende tekens van vernuwing, verruiming en innovering. Hulle het gevind dat vanjaar se oes Afrikaanse boeke in die geheel ’n antwoord probeer bied op die vraag: Hoekom lees ons? Ons doen dit uiteraard om te ontsnap van die alledaagse, sin te probeer maak van die lewe, om dit beter te verstaan,” het Hettie Scholtz, sameroeper van die boekpryse, gesê.

Scholtz het gesê om uiteindelik die wenners te kies was geensins maklik nie en om te wen ook geen gelukskoot nie.

Die boekresensente Deborah Steinmair, Jean Meiring en Elzette Steenkamp is ook vir hul werk vereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.