Wêreld belê steeds in SA – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa verlede maand by die bekendstelling van Toyota se aanleg vir plaaslik vervaardigde hibriede motors. (Foto: Verskaf)

Hoewel die tempo waarteen beleggings in Suid-Afrika gedoen word weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie verstadig het, is die land se beleggingsprogram opnuut besig om stoom op te bou.

Pres. Cyril Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief talle groot beleggers – plaaslik en internasionaal – gaan voort met reusebeleggings in die land. Die vierde Suid-Afrikaanse Beleggerskonferensie sou vandeesmaand gehou word, maar is na Maart volgende jaar verskuif weens verskeie ander groot byeenkomste wat in dié tyd plaasvind.

Dit het ingesluit die land se plaaslike verkiesing, die COP26-klimaatberaad en die Intra-Afrika-handelsuitstalling wat volgende week in eThekwini begin. Ramaphosa sê teen volgende jaar sal meer mense ook reeds teen Covid-19 ingeënt wees, wat reise en byeenkomste sal vergemaklik.

Selfs ten spyte van die uitdagings wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het, en te midde van die geweld en verwoesting wat in Julie vanjaar in Gauteng en KwaZulu-Natal in grootskaalse oproer gesaai is, soek talle maatskappye steeds na beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika, sê Ramaphosa.

Tydens die eerste beleggingskonferensie in 2018 het die regering ʼn doelwit gestel om R1,2 biljoen se nuwe beleggings oor vyf jaar te lok en tot dusver is meer as R770 miljard in beleggingsverbintenisse in verskeie sektore gemaak.

Verlede jaar is R120 miljard se beleggings na konstruksie- of uitbreidingsprojekte gekanaliseer.  Ramaphosa sê dit beteken sowat 38% van die totale beleggingsondernemings – sowat R290 miljoen – het tot dusver die land ingekom. Sommige belegging is egter vertraag, veral in sektore soos eiendomsontwikkeling en toerisme, hoofsaaklik vanweë die koronaviruspandemie.

Ramaphosa was verlede maand by die opening van Toyota se vergrote produksieaanleg in eThewkini, waar Suid-Afrika se eerste plaaslik vervaardigde hibriede motor geproduseer word. Die belegging was die gevolg van ʼn R2,4 miljard-onderneming wat die maatskappy in 2019 by die konferensie gegee het.

In KwaZulu-Natal vergroot Tetra Park ook sy bedrywighede met ʼn belegging van R500 miljoen.

Ramaphosa sê Aspen Pharmacare het ook onlangs danksy ʼn belegging die Gqeberha-vervaardigingsaanlegte in die van die wêreld se grootste vervaardigingsentrums vir narkose omskep. Meer as 100 miljoen dosisse van die Johnson&Johnson-entstof teen Covid-19 word ook daar vervaardig.

Die Biovac-instituut in Pinelands. (Foto: Twitter)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Suid-Afrika – en die Biovac-instituut wat hier gesetel is – ook aangewys as ʼn vervaardigingsentrum vir die mRNA-entstof in ʼn ooreenkoms tussen die openbare en private sektor.

Ramaphosa sê in die energiebedryf gaan die 25 voorkeurbieërs in die land se program vir onafhanklike groenkragverskaffers, gesamentlik nagenoeg R50 miljard in die ekonomie belê. Die toename in die lisensiëringsdrempel tot 100 MW gaan na verwagting ook lei tot beduidende private belegging in kragopwekkingsprojekte.

Verlede week het ʼn groep welvarende landw onderneem om minstens R130 miljard se steun aan Suid-Afrika te gee om die land te help oorskakel na ʼn laekoolstof-ekonomie.

“Die beleggings in energie gaan ons help om die verlammende beurtkrag wat die land tans ondervind te bowe te kom wanneer nuwe opwekkingskapasiteit aanlyn kom.”

Eskom het die naweek aangekondig dat beurtkrag tot minstens Saterdag sal geld weens die kragvoorsiener se onvermoë om in die vraag na elektrisiteit te voldoen. Eskom het boonop gewaarsku dat hoër fases van beurtkrag moontlik ingestel sal moet word. In hierdie stadium geld fase 2.

Nuwe beleggings in datasentrums en ondersese kabels gaan volgens die president ook nuwe beleggings lok, en gaan die infrastruktuur verskaf wat nodig is om die tegnologie- en telekommunikasiebedrywe te laat groei.

“ʼn Belangrike deel van ons beleggingsveldtog is die verreikende hervorming wat ons op die gebiede van energie, telekommunikasie, water, hawens en spoorwee aanpak. Die hervorming gaan doeltreffendheid en mededingendheid verbeter, die koste verminder om sake in Suid-Afrika te doen en groter private belegging in ons ekonomiese infrastruktuur aanmoedig,” sê Ramaphosa.

Die land het ook reeds 24 sogenaamde spesiale ekonomiese sones, waar beleggers spesifieke ondersteuning kry. Die sones is aanloklike vervaardigingbasisse vir maatskappye wat aan plaaslike en internasionale markte wil verskaf. Dit word verder versterk deur die vestiging van die Afrika-vryehandelsooreenkoms (ACFTA) wat amptelik aan die begin van die jaar afgeskop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Belinda ·

Ja die wereld sal in ons land bele, want hulle weet ons is te arm om dit terug te betaal, So kan hul ons land stuk vir stuk vat omdat dit dan die enigste manier gaan wees om die skuld te delg.

KB ·

Soos die hoof-belegger China, en Noord-Korea op sy hakke. Gaan vang ‘n haan, CR.

Pieter ·

Jou chinese broers bele in jou anc land. As jy skrik skrik net wakker.

Misky ·

Ramamparra is besig om ons ‘te verkoop’ aan die buiteland en hy noem dit beleggings.

Dup ·

Sonder die “buiteland” beteken SA nie veel nie.
Die ironie is egter dat sekere partye,soos die rooipette,niks met die sogenaamde ou koloniale lande en die VSA te doen wil hê nie.
Indien hulle beleggings sou opdroog,sal SA net op lande soos China en Sowjet Unie kan staatmaak.
Dit sal SA se uiteindelike einde beteken.

Jakes ·

Ek twyfel baie sterk of sy bewering oor beleggings waar is want as ek na SA kyk dan sien ek n land wat deur diewe en plunderaars oorweldig is en as hierdie sogenaamde beleggers bereid is om hul geld in die water te gooi, kry vir hulle.

Hettie ·

Snaak dat net CR al hierdie ” beleggings” sien. Werklooshied word net meer, as daar beleggings was moes dit minder geword het !

Mariana ·

Ja hulle belê want hulle word belieg en bedrieg en julle het hulle in die sak. Moenie trots voel oor julle bedrog nie. Ons, die mense in die land, is wie op die einde die spit afbyt terwyl julle sakke vol gestop is. Jy moet jou liewer skaam vir jou gebedel

Pieter ·

Natuurlik. Die wat belê het 2 oogmerke: 1. Neem infrastruktuur af indien wanbetaling voorkom en 2. Ko.rrupsie vier hoogty, ste.el en deel saam.

H.A. ·

Lande wat hier wil beleggings doen, steun kommunisme onder die tafel deur.

Nie Verbaas ·

Wêreld moet hulle kop laat lees of is dit eerder n saak van Ramaphosa wat besig is om Suid Afrika aan ander lande te verkoop?

Niklaas ·

Belê in SA ? Ja , as mens dit glo…Kersvader en die Paashaas gaan ook weer kom kuier

Etienne ·

Ons sal NOOIT weer regkom nie….skrif is al lankal teen die muur!

Frank ·

Ramaposa moet tog net wakker word,dink hy werklik almal is so onnosel soos hy.

Jeffrey ·

Ek glo ook die buiteland sal aanhou om hier te belê, hulle het dan die ANC gehelp om aan bewind te kom en wou dit so hê, so die buiteland het al hul vertroue in die huidige regering, indien hulle hul bellegings sou onttrek is hulle mos “hipocrites” of hoe?

john ·

Ja die beleggings is seker net die Chinese road and belt program gemik nie op terugbetaling maar op die oorname van lande se bates soos hawens en minerale. Geen regte belegger sal in SA bele nie solank hy nie van eiendoms reg verseker is nie en aan all die belaglike reels moet vodoen soos BEE etc.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.