Wêreld betreur Annan se afsterwe

Kofi Annan. Foto: Facebook via Kofi Annan.

Huldeblyke stroom steeds in ná die dood van Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN). Dié Ghanese diplomaat wat die sewende sekretaris-generaal van die VN was, is Saterdag in die ouderdom van 80 ná ʼn kort siekbed in Switserland dood.

Die Nobelprys vir vrede is in 2001 aan Annan toegeken.

Antonio Guterres, die VN sekretaris-generaal, het Annan sy goeie vriend en mentor genoem en gesê dat Annan op baie maniere die ideale van die VN vergestalt het.

Emmanuel Macron, die Franse president, het gesê hy bring namens Frankryk hulde aan Annan en die wonderlike man wat hy was.

Angela Merkel, kansellier van Duitsland, het gesê haar gesprekke en vergaderings met hom is vir haar kosbare herinneringe.

Verskeie staatshoofde, onder andere Theresa May, Brittanje se eerste minister; Pedro Sanchez, Spanje se eerste minister; Narendra Modi, Indië se eerste minister, Emmerson Mnangagwa, Zimbabwe se president; sowel as Wladimir Poetin, president van Rusland, het hul medelye betuig.

Tony Blair, voormalige premier van Brittanje, het gesê Annan was ʼn goeie vriend wat hy slegs weke voor sy dood die laaste keer gesien het.

Kofi Annan. Foto: Facebook via Kofi Annan.

In een van Annan se laaste openbare verklarings het hy die dodelike geweld in Zimbabwe ná die historiese verkiesing op 30 Julie in dié land veroordeel. Nelson Chamisa, die Zimbabwiese opposisieleier, het ook Annan se afsterwe betreur.

Die voormalige Amerikaanse pres. Barack Obama het gesê Annan het die VN se missie soos min ander vergestalt.

Ghana se president, Nano Addo Dandkwa Akufo-Addo, het opdrag gegee dat Ghana se vlae van Maandag vir ʼn week halfmas moet hang.

Die vlag by die VN se kantore in New York het Saterdag halfmas gewapper.

Kumi Naidoo, leier van Amnestie Internasionaal, het gesê Annan was warm, deernisvol en intelligent.

Op eie bodem het onder meer die ANC, DA, IVP, die burgerregtegroep Sanco, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), die Thabo Mbeki-stigting en die EFF Annan se afsterwe betreur.

Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het gesê Annan het hom onverpoosd daarvoor beywer om die effek van armoede en onderontwikkeling te bekamp.

Die Nelson Mandela-stigting het in ʼn verklaring gesê dat hy platgeslaan is deur die nuus. “Afrika en die wêreld het ʼn spesiale mens verloor.”

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het gesê hy loof die Here vir Annan se lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ek treur ·

Hierdie man het meer murg in sy pype gehad as meeste Afrika leiers, eerlikheid en opregtheid, wens hy kon SA lei, hy sou ‘n EFF op sy plek sit asook korrupsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.