Wêreld groet loodbevattende petrol

(Argieffoto ter illustrasie.)

Petrol vir gewone motorvervoer sal voortaan reg oor die wêreld loodvry wees.

Dít volg ná die laaste voorraad van loodbevattende petrol deur Algerië opgebruik is. Suid-Afrika het die gebruik hiervan reeds in 2006 gestaak en Algerië was die laaste land wat dié bymiddel in petrol gebruik het.

Die Verenigde Nasies (VN) se omgewingsprogram (UNEP) het Maandag gesê dié mylpaal sal 1,2 miljoen voortydige sterftes voorkom en wêreldekonomieë jaarliks meer as U$2,4 biljoen (sowat R35 biljoen) bespaar.

AFP berig dokters het meer as ’n eeu gelede reeds oor die vergiftende gevolge van loodbevattende petrol gewaarsku.

Lood as ’n bymiddel in petrol is 20 jaar gelede steeds deur meer as 100 lande gebruik, ondanks navorsing wat dit met voortydige sterftes, swak gesondheid en besoedeling verbind het.

“Dít is ’n reusemylpaal vir globale gesondheid en die omgewing,” het die UNEP gesê.

Die organisasie het dit ook as ’n keerpunt in die geveg vir skoner lug bestempel.

Die Vryheidsfront Plus het die aankondiging Dinsdag verwelkom en dit as ’n belangrike mylpaal in die vervoerbedryf beskryf.

“Loodbevattende petrol was een van talle nywerheidsontwikkelings van die 20ste eeu wat aan die een kant werkverrigting bevoordeel het, maar aan die ander kant negatief op die omgewing en menslike gesondheid ingewerk het.

“Loodvrye petrol en loodvervangende petrol (spesiaal vir ouer motors wat nie met loodvrye petrol kon ry nie) was uit die staanspoor duurder as loodhoudende petrol.

“Lande  wêreldwyd het egter besef dat die hoër petrolkoste tot noemenswaardige besparings op ander terreine sou lei. Dit bewys dat langtermynfaktore wel die botoon kan voer,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van minerale hulpbronne en energie.

Boshoff sê die uitskakeling van loodhoudende petrol beteken egter nie dat die petroleumbedryf tans omgewingsvriendelik nie.

“In wese is die gebruik van ru-olie as energiebron die vrystelling van koolstof wat in ’n vorige geologiese era gebind is.

“Daardie binding het die aarde se atmosfeer in ’n gunstige omgewing vir mens en dier met soortgelyke behoeftes omskep. Die ontbinding daarvan het die teenoorgestelde uitwerking.”

Volgens Boshoff het volgende deurbrake wat in die vervoerbedryf verwag word, alles met die gebruik van elektrisiteit te doen.

“In die laat 19de eeu het petrol- en elektries-aangedrewe voertuie sterk meegeding, maar petrol het mettertyd die oorhand gekry. Elektriese voertuie het oor die laaste dekades veld gewen, maar is nog ver agter.”

In elektriese vervoer is die vraag tans wat die beste manier is om energie te berg – wat die beste “petroltenk” is. Batterye wat gereeld gelaai moet word, ding mee met hibriede voertuie wat ’n gewone petrolenjin met batterye kombineer.”

Boshoff sê voorts dat Suid-Afrika se navorsing op waterstofenergie gelyk aan die wêreldstandaard is en ook goeie vooruitsigte bied.

“Ontluikende tegnologie is altyd opwindend, maar dit skep ook risiko’s, veral vir diegene wat dit vroeg aangryp.

“Tegniese probleme kan nog onopgelos wees en ’n bepaalde tegnologie, waarin groot beleggings gemaak is, kan uiteindelik blyk nie lewensvatbaar te wees nie.

“Die party sien nogtans daarna uit om ’n wêreld te beleef waar die ekologiese impak van vervoer veel kleiner is en waar die totale ekonomie plaaslike, hernubare energie kan gebruik, eerder as ingevoerde petroleumprodukte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Die volgende stap om natuurlik die motors elektries te maak en so sal die dag kom dat alle ligte voertuie elektris sal wees en swaar vragmotors sal elektriese/brandstof/waterstof hibriede aandrywing he.

Karina ·

Goeie nuus, maar ek weet nie of met Eskom se krag onderbrekings, elektriese motors in Suid Afrika gaan werk nie. Stop om jou motor te laai, oeps, geen elektrisiteit. Kan hier ‘n probleem wees.

Eclectus ·

Weet nou nie eintlik hoe dokters al meer as ‘n eeu oor lood in petrol waarsku nie as Thomas Midgley eers in Desember 1921 ontdek het dat lood werkverrigting verbeter en die mensdom nog heeltemal onbwus was van wat op hulle wag. Elektriese motors is ook nou nie so wondelik nie. Die eerste een was meer as 20 jaar voor die Ford Model T gebou en sukkel vandag nog om ‘n deurbraak te maak. Hulle mag miskien beter vir die omgewing wees tydens hulle leeftyd maar die bou en skrap proses is meer skadelik. Brandstofenjin tegnologie beleef tans ‘n nuwe bloei en kenners meen die binnebrandenjin gaan ten minste to 2050 nog met ons wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.