Wêreld kort gou 44 miljoen onderwysers

Kagiso Maimela is ‘n geografie-onderwyser aan ‘n hoërskool in Noordwes. (Foto: Unesco)

Die wêreld sal oor ses jaar ʼn tekort van 44 miljoen onderwysers ervaar, met die grootste tekort in Suidelike Afrika. Só lui ʼn verslag wat die Verenigde Nasies se onderwysliggaam, Unesco, die afgelope week bekendgemaak het.

Die geskatte tekort aan onderwysers teen 2030 is minder as die tekort van 69 miljoen wat kenners in 2016 voorspel het, maar steeds reusagtig, veral as in ag geneem word dat net meer as 90 miljoen onderwysers tans die wêreld se kinders onderrig.

Die vooruitskatting is gedoen met die vooropstelling dat die wêreld se leerderbevolking sal aanhou groei en met die doel om klasgroottes tot 25 leerders in die laerskool en 40 leerders in die hoërskool te beperk. Klasse in die meeste Suid-Afrikaanse skole is reeds amper dubbel dié getalle.

Die tekort, luidens die verslag, sal veral in hoërskole wees, met ʼn verwagte tekort aan 31 miljoen hoërskoolonderwysers teen 2030. Altesaam 58% van die 44 miljoen onderwysers wat nodig sal wees, is bloot net om onderwysers wat die beroep verlaat, te vervang. Die verslag lys ongure werkstoestande en swak salarisse as redes waarom onderwysers die beroep verlaat.

Teen 2030 sal altesaam 15 miljoen onderwysers net in Suidelike Afrika nodig wees, die meeste van al die wêreldstreke. Die verslag maak nie melding van onderskeie lande se behoeftes nie, maar Maroela Media het in November berig dat kenners bekommerd is oor die verouderde onderwyskorps in Suid-Afrika. Ongeveer die helfte van onderwysers hier sal teen 2035 aftree.

Sentraal en Oos-Asië sal die kleinste tekort aan onderwysers hê, met onderskeidelik 747 000 en 3,2 miljoen bykomende onderwysers wat teen 2030 hier sal nodig wees. Europa en Noord-Amerika sal volgens die verslag ʼn tekort aan 4,8 miljoen onderwysers hê. Dit is waarskynlik weens die stadige koers waarteen dié bevolkings groei.

“Om hierdie tekort aan te pak, is dit nodig om aan die een kant die kapasiteit van opleidingsfasiliteite te vergroot sodat meer onderwysers opgelei kan word, en andersins om die werksomstandighede meer aanloklik te maak ten einde bestaande onderwysers te hou,” lui die verslag.

Salaris, werksomstandighede pla

Die koers waarteen onderwysers die beroep verlaat, wys die verslag, het tussen 2015 en 2022 verdubbel, van 4,6% tot 9%. Dit beteken dat onderwysers gemiddeld nie langer as 10 jaar in die beroep bly nie. Luidens die verslag moet dié koers verkieslik minder as 5% wees.

Mans verlaat die beroep gewoonlik vinniger as vroue. Dit wil ook voorkom of jonger onderwysers makliker van beroep verander as meer ervare onderwysers.

Luidens die verslag kan die “relatiewe lae salarisse” wat onderwysers verdien kandidate wat akademies sterk is, ontmoedig om dié professie te betree. “Onderwysers het boonop min vooruitsigte op bevordering en gepaardgaande salarisverhogings en sal dus maklik die beroep verlaat sodra ʼn meer aanloklike geleentheid hom voordoen.”

Data wat deur Unesco ingevorder is, moes vasstel hoe onderwysers se salarisse vergelyk met dié van mense in ander beroepe, wat min of meer dieselfde kwalifikasies het.

Die data dui daarop dat laerskoolonderwysers in Europa en Noord-Amerika die helfte verdien van wat mense in ander beroepe met soortgelyke kwalifikasies verdien. Laerskoolonderwysers in Suid-Afrika en ander lande in die suide van Afrika is egter heelwat beter af, met onderwysers hier wat gemiddeld 50% meer verdien as hul eweknieë in ander beroepe. Ander lande wat min of meer op dieselfde vlak as Suid-Afrika vergoed, sluit in Luxemburg, Colombië en Singapoer.

“Dit beteken egter steeds nie dat hierdie salarisse genoeg is vir individue en gesinne om gemaklik te kan leef nie,” lui die verslag. “Dit is veral waar vir lande in die suide van Afrika.”

Die verslag wys ook op ongunstige werkstoestande as ʼn rede waarom baie onderwysers die beroep verlaat.

Die verslag maak hier spesifiek melding van Suid-Afrika, waar onderwysers dikwels in ongunstige omstandighede werk. “Veral leerders se gewelddadige optrede teenoor onderwysers en beperkte infrastruktuur kan jong onderwysers uit die beroep dryf.”

Maroela Media het juis ʼn paar weke gelede berig oor die hoof van Primrose Primary School in Germiston wat deur ʼn gr. 6-leerder by die skool geskiet is.

Prof. Irma Eloff, voorheen die dekaan van onderwys in Suid-Afrika en ʼn gesiene leiersfiguur in onderwyskringe, stem saam. “Ons sien gereeld dat jong onderwysers wat ʼn verskil wil maak, met sterre in die oë die beroep betree. Wanneer hulle egter in ʼn wansfunksionele skool instap waar die nodige hulpbronne nie beskikbaar is nie, verlaat hulle die beroep binne die eerste paar jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.