Wêreld raak al beter, meen kenners op Woordfees

Elizabeth Sidiropoulos. (Foto: saiia.org.za)

Dit is dalk ʼn ongelyke proses en dit gebeur met stampe en stote, maar die wêreld raak ʼn beter plek, het drie uitnemende kenners van die wêreldpolitiek Woensdag tydens ʼn bespreking op die Woordfees op Stellenbosch saamgestem.

Gister se bespreking in die diskoersreeks het gehandel oor die vooruitsigte vir die wêreldpolitiek, en Suid-Afrika se rol daarin. Die deelnemers was die kenners Elizabeth Sidiropoulos, dr. Ismail Lagerdien en dr. Greg Mills, met Tim du Plessis as gespreksleier.

Sidiropoulos het die bespreking ingelei met die stelling dat die wêreldorde eintlik wordend is en dat dit nie presies seker is hoe dit uiteindelik vorm gaan aanneem nie. Die verkiesing van pres. Donald Trump en die uitwerking van Brexit sowel as die opkoms van Rusland en China, laat die wêreld anders lyk as wat dit teen die einde van die Koue Oorlog gelyk het.

Sy het dit vergelyk met die nuwe wêreldorde wat aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog vorm aangeneem het, maar meer as ʼn kwarteeu en nog ʼn wêreldoorlog geneem het om finaal beslag te kry.

Volgens haar het internasionale organisasies nog nie hul aard en vorm by hierdie wordende wêreldorde aangepas nie, en sal hulle een of ander tyd moet.

Op ʼn vraag van Du Plessis of die gevolge van Brexit en Trump se verkiesing “reggestel” kan word, het Lagerdien geantwoord dat hy nie so dink nie. Hy het ook verwys na Francis Fukuyama se stelling in 1991 met die ontvriesing van die Koue Oorlog dat “die einde van die geskiedenis” aangebreek het, waarby hy bedoel het die liberale kapitalisme was die enigste opsie oor vir wêreldmoondhede.

“Dit was ʼn optimistiese era, maar toe volg die een ekonomiese krisis op die ander, van Mexiko tot Suidoos-Asië, die dotcom-borrel, die mislukking van die Doha-onderhandelinge en die 9/11-aanval op die VSA,” aldus Lagerdien.

“Globalisering en oop markte as liberale ideaal het nie gewerk nie. Dit het op baie plekke gelei tot die huidige teenreaksie van etno-nasionalisme en konserwatisme; onder meer ook in Brasilië, die Filippyne en selfs in sekere kringe in Suid-Afrika.”

Mills het gewaarsku teen die neiging om elke verwikkeling tot ʼn tendens te verklaar – die verkiesing van George W. Bush tot Amerikaanse president is destyds as begin van ʼn tendens geëien, wat toe nie so was nie, want Barack Obama het hom opgevolg. En toe kom Donald Trump aan die beurt….

Mills het daarop gewys dat welvaart wêreldwyd toeneem, hoewel nie gelykmatig nie, sodat dit waar is dat globale ongelykheid toeneem. Ook in Afrika raak dinge al beter – in 1980 was daar op die hele vasteland net twee demokrasieë. Tans is daar 32, waarvan tien as volkome vry samelewings geklassifiseer word.

Mills het gesê hy weet nie of hierdie eeu die Chinese eeu gaan wees soos sommige beweer nie, maar het geen twyfel nie dat dit die Asiese eeu gaan wees. Mills voer aan Afrika moet kyk wat Asië reg doen, en probeer om hulle dit na te doen.

Sidiropoulos het saamgestem dat die wêreld ʼn al beter plek raak. Soms, soos met Brexit, tas die kiesers egter mis. Hulle sal dit nog agterkom, maar dis ʼn teken dat mense maklik uitgelaat voel.

Sy het aangevoer dat geen duidelike alternatief vir die kapitalistiese model al ontwikkel is nie.

Oor Rusland het Lagerdien uitgewys dat die land geen ervaring van die liberale demokrasie gehad het voor 1991 nie, en uitgewys dat die kapitalisme daar staanplek gekry het voor demokrasie.

“Rusland soek nog na sy rol,” het Lagerdien gesê.

Waaroor Mills wonder, is wat vir Rusland voorlê ná die huidige ampstyd van pres. Wladimir Poetin. Gaan daar weer ʼn Medvedev-opsie wees – ʼn mag agter die troon?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Afrikaner ·

Die wêreld buitekant die grense van Suid-Afrika (Afrika). Ja, en dan moet Afrika kyk wat Asië reg doen en hulle na-aap.

Amy ·

Ek dink ons lewe in twee verskillende wêrelde, want die wêreld waarvan hulle praat, ken ek nie…

John ·

So, hierdie drie is kenners, in wie se oè… hul eie. Hierdie soort menings is wat mens fake-speaking kan noem. Tim waar is die Afrikaner en swart man in die groepie van slimmes? Die Stellenbosch-‘taalfees’ nogal… klink meer soos ‘n voorafgekeurde meningsgroep… Kry volgende jaar Soros as spreker dan hoor ons dit uit die ou voorperd se eie bek.

Afrikaner ·

Ek wou nog hier bo ook iets oor Europa en die instroming uit Afrika kwytraak, toe besef ek dis ‘n woordfees waar hulle is. En Deon ja hulle speel met woorde, toe dwaal hulle af noord.

Tobie Klarens ·

Uitnemende kenners van wereldpolitiek?????? Hoe op hierdie aarde is daar tot daardie gevolgtrekking gekom? Verstommend belaglik !! Die absolute teendeel, is veel nader aan die waarheid .

Arnoldus ·

Liberale kapitalisme? Enigeiets liberaals is soos kanker, dit vernietig die identiteit van mense, hulle kultuur en wil die wereld in ‘n grys mengelmoes verander onder die idee van “globalisme”.

Mens kan sien die gewone mense, is moeg vir die liberale trends, en Trump en brexit is ‘n goeie voorbeeld daarvan.

Wat is fout met “etno-nasionalisme” ? Ek stel nie belang in ‘n grys wereld met dom ekonomiese slawe wat net hulle “nuwe wereld orde” meester onmenslik ryker maak nie.

Die 3e wereld oorlog kom, en die 4e een gaan met stokke en klippe geveg word.

Realis ·

Wonder hoe bepaal hulle wereld word beter. Ek sien n algehele agteruitgang. Geen waardes almal net op hulle troontjie en wil net staan op menseregte. Alles gaan ooe EK

Wêrelds ja ·

Snaaks, want ek sien moord, aanranding, verkragting, aborsies wat wettig is, godsdiens wat verlore gaan, natuurlike bronne wat tot nuut gaan…
Mense wat kinders en oumense en diere mishandel. Mensehandel. Haat onder rasse en kulture.
Weet nie waaraan meet hulle dit nie

KaterinaKat ·

Daar is miskien n paar lande waar dit oor die algemeen redelik goed gaan, maar Suid Afrika is nie een van hulle nie. In Europa gaan dit oor die algemeen slegter as n dekade gelede, volgens wat ek lees op die net. Weens die instroming van hordes der hordes mense van Midde Oosterse en Noord Afrika lande.

The UK sounds like an Orwellian politically correct nightmare. In Amerika is daar hordes mense wat reken dat n burger oorlog baie waarskynlik is, omrede die Demokrate en kommunisties globalistiese linkses die kluts kwyt geraak het na Trump as president verkies is.

Ek lees daagliks wyd en syd op die net, nuus+ aktualiteits werwe, besprekings webwerwe waar mense van n menigte lande hul mening lug en praat oor hul lewens en omstandighede.

En ek kan jou vertel, wat ek daagliks lees laat my glo daar is Bloedweinig lande waar dinge beter gaan vir die “average citizen”. Maar nerens is dit so erg soos in hierdie helhool Suid Afrika nie.

Stephen Namibia ·

Amper gedink Piet Croukamp was ook op die paneel. Ongelooflik dat geleerde mense sulke twak kan kwytraak.

Dries Moolman ·

Ag asseblief. Gaan vra julle skoolgeld terug ‘slim mense’. Die wereld se hulpbronne raak by die dag minder, en die bevolking raak by die dag meer. Daar le net nag voor.

Therese van Schalkwyk ·

Tim du Plessis se vraag, of “die gevolge van Brexit en Trump se verkiesing ‘reggestel’ kan word”, is taamlik vreemd aangesien die drie uitnemende kenners van wêreldpolitiek saamstem dat die wêreld eintlik ‘n beter plek raak.
Vanwaar die kommer oor spesifiek hiérdie twee onderwerpe?
Is die kookpot van ellende in die res van die wêreld nie ‘n veel groter bron van kommer nie?

Groot waardering vir Jan-Jan Joubert se puik verslae oor Woordfees-gesprekke.

Kloekie ·

Wat?! Hul rook seker hul sokkies. Tipies Stellenbosch om so polities korrek te wees.

BM ·

Dit lyk of US nou UCT se rol probeer oorneem as die broeiplek van die sosialiste. Nadat studente klaar is met hulle studies op US, neem dit hulle jare om uit die troebel waters van hulle leermateriaal weer die wêreld in ‘n ander lig te sien. Die kommentaar hier bo gee egter baie hoop.

Brutus ·

Grootste klomp twak wat hul kwytraak, wereld word glad nie beter nie maar erger eerder.

Grassie ·

Vir liberale “vrydenkers” waarvan hierdie paneel ooglopend ‘n deel is, word die wêreld inderdaad ‘n beter plek. Solank die wêreld voortgaan om etnisiteit, godsdiens, behoudende waardes, volksliefde, kuisheid – in kort, alle waardes en tradisies wat verskillende volke tot nou in stand gehou en laat oorleef het – af te breek en te vernietig is hulle tevrede want dit is telkens ‘n stap nader aan hul ideaal, die nuwe wêreldorde. Hulle wil die wêreld omskep in ‘n grys mengelmoes soos Arnoldus hier bo tereg sê. Vir ons, gewone burgers, word die wêreld al vinniger ‘n slegter plek wat weg beweeg van alles wat vir ons lief en dierbaar is soos ons liefde vir ons Skepper, ons taal, ons kultuur, ons tradisies, ons eie identiteit. Ek stem saam met John dat hierdie hierdie ‘n voorafgekeurde meningsgroep was. Dit klink vir my hulle wil graag die wêreldgemeenskap sien as ‘n gesiglose, geslagslose , kleurlose grys massa wat slaafs onderdanig is aan hul nuwe leiers, die heersers van die nuwe wêreldorde.

Jannie ·

Moet ek skaterlag of huil? Nee, dis meer ontspannend om liewer net te lag!! LOL!! LOL!! LOL!!

wonder ·

Vertel my waar is daai wereld want ek wil daar gaan Bly asb?????????

Andre C ·

Nogal 3 uitmuntende kenners !! ,volgens wie se standaarde gemeet?

Andre C ·

Nogal 3 uitmuntende kenners !! ,volgens wie se standaarde gemeet? Kan iemand lig werp op die Stellenbosch Woordfees .wie bedryf die fees ?

Haan ·

Die wêreld raak al beter mits jy wêrelds is. Indien jy jou níe begewe aan die giere van stoflike genot… Dan sou ek sê die wêreld raak al slegter. Maar onthou: die wêreld is ons woning nie

Sandy ·

Jammer kenners, ek ervaar nie wat julle van praat nie. Dit wil vir my voorkom of die wereld besig is om mal te word.

Judge Dredd ·

Kom ons wees maar eerlik – indien die wereld beter is, dan is dit nie as gevolg van wereld politiek nie – maar eerder tegnologiese vooruitgang.

Jerry ·

Hoe op dees aarde hierdie kenners die ware stand van sake so blatantweg verdraai deur te kan reken dat die wereld n beter plek raak terwyl die aarde uitwissing in die gesig staar agv plundering van natuurlike hulpbronne, lug, see, land en water besoedeling wat erge hongersnood en oorlog tot gevolg gaan he, soos deur omgewingskundiges verklaar is, grens aan verstommende domastrante ideologiese blindheid. Afrika is n beter plek omdat daar meer demokrasiee is, regtig? Afrika se mense het nie werk nie, Afrika se mense gaan dood van honger, siektes, besoedeling en onderdrukking, Afrika se mense immigreer in miljoene na SA om asblikke en ashope te plunder ten einde te kan oorleef en van hulle vlug na Europa waar daar kos is, maar nie werk nie! SA self is nie n beter plek nie, want SA is deur sy eie demokratiese verkose regering geplunder en moet nou bakhand staan vir geld van die buiteland wat moet probeer help om die ekonomie te red. Duisende Suid Afrikaners het reeds gedwonge gevoel om demokratiese Suid Afrika te verlaat omrede dit n slegter plek geword het en het na lande in die buiteland toe emigreer waar welvaart nog nooit agv plundering in gedrang was nie, maar wel ook nou aardse verwarming agv besoedeling die hoof moet bied. So, ja nerens raak die wereld regtig beter nie, miskien ideologies, maar geensins andersins nie!

Dries du Toit ·

Jerrie ons verskil baie maar telkemaal bewys jy maar net dat daar meer ooreenkomste as verskillle in ons uitkyk van die lewe is. Sal jou kommentare baie mis. Hou so aan en dankie

waarheid ·

Die sogenaamde ‘kenners’ het nie ‘n benul waarvan hulle praat nie.
Probeer gesig koop my mede ‘kenners”. Dis al waaroor dit gaan.
Wat ‘n vervelige spul wat pligsgetrou alles ignoreer met waarde , morilatiteit rugraat, ens.
Hierdie lot ken dit nie – vir hulle gaan net oor hulself en die eie ek.

leser ·

Ag asseblief – hierdie lot maak my siek want dit is net Ek, Ek, Ek, hoor wat se Ek die ‘kenner”.

Die eie Ek wat hard praat………………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.