Wêreld se eerste suksesvolle penisoorplanting by US gedoen

Die oorplantingspan Foto: Universiteit Stellenbosch

Die oorplantingspan Foto: Universiteit Stellenbosch

In ʼn baanbrekersoperasie het ʼn span chirurge van die Universiteit Stellenbosch (US) en Tygerberg-hospitaal pionierswerk gedoen deur die eerste suksesvolle penisoorplanting ter wêreld uit te voer.

Die nege-uur lange marathonoperasie, gelei deur prof André van der Merwe, hoof van die US se Afdeling Urologie, is op 11 Desember 2014 by Tygerberg-hospitaal in Bellville, Kaapstad, gedoen. Dit is die tweede keer dat hierdie tipe prosedure aangedurf is, maar die eerste keer in die geskiedenis dat suksesvolle langtermynresultate behaal is.

Die pasiënt, wie se identiteit om etiese redes beskerm word, het ten volle herstel en het alle funksie teruggekry in die nuut-oorgeplante orgaan.

“Ons doel was dat hy teen twee jaar ten volle funksioneel sal wees en ons was baie verras deur sy vinnige herstel,” het Van der Merwe gesê. Die eindresultaat van die oorplanting was dat al die pasiënt se urinêre- en voortplantingsfunksies herstel is.

Die operasie was deel van ʼn proefstudie om ʼn prosedure vir penisoorplantings te ontwikkel wat in ʼn tipiese Suid-Afrikaanse hospitaalteater uitgevoer kan word. “Daar is ʼn groter behoefte in Suid-Afrika aan hierdie tipe prosedures as elders in die wêreld, aangesien baie jong mans elke jaar hul penisse verloor na tradisionele besnydenisse,” het Van der Merwe verduidelik.

Drie jaar gelede moes die 21-jarige pasiënt se penis geamputeer word om sy lewe te red nadat hy ernstige komplikasies ontwikkel het na ʼn tradisionele besnydenis. Alhoewel daar geen amptelike rekord is van die getal penisamputasies per jaar as gevolg van tradisionele besnydenisse nie, het een studie bevind dat daar in die Oos-Kaap soveel as 55 gevalle per jaar is, en kenners skat dat daar soveel as 250 amputasies per jaar landwyd kan voorkom.

“Dit is ʼn baie ernstige situasie. Vir ʼn jong man van 18 of 19 jaar kan die verlies van sy penis baie traumaties wees. Hy het nie noodwendig die sielkundige vermoë om dit te verwerk nie. Daar is selfs berigte van selfmoord onder hierdie jong mans,” het Van der Merwe bygevoeg.

“Die helde in hierdie storie vir my is die skenker en sy familie. Hulle het die lewens van baie mense gered omdat hulle die hart, longe, niere, lewer, vel, korneas en die penis geskenk het.” Om ʼn skenker te vind was een van die groot uitdagings van die studie.

Die beplanning en voorbereiding vir die studie het in 2010 begin. Na breedvoerige navorsing het Van der Merwe en sy span chirurge besluit om dele van die model en tegnieke wat ontwikkel is vir die eerste gesigsoorplanting te gebruik.

“Ons het dieselfde tipe mikrochirurgiese tegnieke gebruik om die klein bloedvate en senuwees te heg, en die sielkundige evaluering van pasiënte was ook soortgelyk. Die prosedure moet volhoubaar wees en moet werk in die omgewing by Tygerberg-hospitaal,” het Van der Merwe gesê.

Die prosedure kan selfs uitgebrei word na mans wat hul penisse verloor het weens kanker of as ʼn laaste opsie vir erge erektiele disfunksie weens die newe-effekte van medikasie. As deel van die studie sal nog nege pasiënte penisoorplantings ontvang.

Van der Merwe is bygestaan deur prof. Frank Graewe, hoof van die Afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie by die FGGW, prof. Rafique Moosa, hoof van die FGGW se Departement Geneeskunde, oorplantingskoӧrdineerders, narkotiseurs, teatersusters, ʼn sielkundige, ʼn etiese kenner en ander ondersteuningspersoneel.

“Dis ʼn massiewe deurbraak. Ons het bewys dit kan gedoen word – ons kan vir iemand ʼn orgaan gee wat net so goed is soos die een wat hy gehad het,” het Graewe gesê. “Dit was ʼn voorreg om deel te wees van die eerste suksesvolle penisoorplanting in die wêreld.”

“Suid-Afrika bly op die voorgrond van mediese vooruitgang,” het prof Jimmy Volmink, dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gesê. “Hierdie prosedure is nog ʼn uitstekende voorbeeld van hoe mediese navorsing, tegniese vernuftigheid en pasiënt-gesentreerde sorg gekombineer kan word in die soektog om menslike lyding te verlig. Dit wys wat kan gedoen word deur doeltreffende vennootskappe tussen akademiese instellings en die regering se gesondheidsdienste.”

Dr Beth Engelbrecht, Wes-Kaapse hoof van die departement van gesondheid, het gesê die departement is baie trots om deel te wees van hierdie baanbreker-wetenskaplike prestasie. “Ons is trots op die mediese span, wat ook deel uitmaak van ons personeel by Tygerberg-hospitaal,” het sy gesê. “Dit is goed om te weet dat ʼn jong man se lewe so betekenisvol verander is deur hierdie komplekse chirurgiese prestasie. Uit ervaring weet ons dat penisdisfunksie en -skending ʼn ernstige sielkundige effek op mense het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Neptunus ·

Wys mens wat gedoen kan word as mens koppe bymekaar sit. Klink of dit ‘n uitgerekte prosedure was.

Paul ·

Miskien is my opmerking nie polities korrek genoeg nie maar as ons kyk na die artikel oor die groot aantal jongmense sonder ‘n toekoms, dink ek eerder die antwoord moet gesoek word by amputaties. Nietemin goeie mediese kundigheid is nog beskikbaar in Suid Afrika.

Kaaiman ·

Almal is bly saam met die pasiënt. Hy moet hom nou net nie om elke hoek en draai uitprobeer nie!

scall ·

Sy naam word beskerm om sy identiteit te beskerm, sy naam is nou jakop regop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.