Wêreld se grootste renosterplaas binnekort opgeveil

Argieffoto (Foto: Platinum Rhino/Facebook)

Die eienaar van die grootste renosterbewaringsplaas ter wêreld het Maandag gesê dié plaas in Noordwes sal in April opgeveil word.

John Hume (81) van Platinum Rhino sê hy kan dit bloot nie meer bekostig om met renosters te teel nie. “Om renosters te teel is ’n duur speletjie,” erken Hume wat al “30 jaar lank sonder wins” renosters teel.

Hy vertel dat dit hom tot R500 000 kos om ’n renoster tot op die ouderdom van vier jaar te teel en te versorg.

Platinum Rhino is “die grootste van sy soort in die wêreld” met byna 2 000 suidelike witrenosters oor 8 500 ha versprei.

Suid-Afrika is die tuiste van sowat 80% van die wêreld se renosterbevolking. Stropery eis egter ’n groot tol ondanks verhoogde beskermingspogings.

Altesaam 448 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Dit is maar drie minder vergeleke met 2021.

“Die voorkoming van stropery het ’n groot geldelike tol geëis,” sê Hume nou.

Hy is op soek na ’n koper “met ’n passie vir die bewaring van renosters en die middele om die teelprojek aan die gang te hou”.

Hume het verlede jaar planne aangekondig om jaarliks 100 renosters in die natuur vry te laat. Dr. Michelle Otto, die plaas se hoofveearts, het toe gesê “die hele Afrika kan herbevolk word” indien daar voldoende finansiering vir die projek is.

Platinum Rhino is die tuiste van meer as 16% van Suid-Afrika se suidelike witrenosterbevolking, ’n subspesie van witrenosters.

Dié diere word as bedreig beskou met slegs sowat 20 000 oor die hele wêreld heen, volgens die Wêreldnatuurfonds (WWF).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Sjoe dis hartseer! Hoop hulle kry ‘n goeie koper wat regtig ‘n passie het vir hierdie diere.

Astrain ·

Ek is so jammer om die slegte nuus te hoor, hy het werklik hard probeer maar dis ‘n bodemlose put as jy nie iewers die kostes kan verhaal nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.