Wêreld se grootste renosterplaas dié week opgeveil

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Argieffoto/Maroela Media)

Die wêreld se grootste renosterplaas, Platinum Rhino in Noordwes, sal vandeesweek op ʼn veiling aan die hoogste bieër verkoop word.

Die eienaar, John Hume, wat al jare lank renosters bewaar en met hulle teel, het op 81-jarige ouderdom nou besluit om handdoek in te gooi nadat dit vir hom onbekostigbaar geraak het om met sy bewaringswerk voort te gaan.

“Ek het 30 jaar lank al my geld gebruik om die renosterbevolking te laat groei. Die geld het nou opgedroog,” sê hy.

Hume het oor die jare heen sowat $150 miljoen (R2,7 miljard) aan die plaas en sy byna 2 000 suidelike witrenosters bestee.

“Vanuit ʼn renoster se oogpunt was dit beslis die moeite werd. Daar is baie meer renosters op aarde as toe ek die projek begin het.”

Hume sê die aanlyn veiling vir die 8 500 ha-plaas word Woensdag gehou. Die plaas, diere en die masjinerie word alles opgeveil.

“Ek hoop daar is ʼn miljardêr wat eerder die renosterbevolking van uitwissing wil red as om ʼn superseiljag te besit,” sê hy.

“Miskien sal iemand vir wie vyf miljoen dollar per jaar kleingeld is, dit koop.”

Die bod vir die plaas sal by $10 miljoen, oftewel R181 miljoen, begin.

Veiligheid peperduur

Hume sê een van die plaas se grootste uitgawes is sekuriteit, daarom sal voornemende kopers besonder diep sakke moet hê.

Die volle omvang van die veiligheidsmaatreëls op die plaas en die aantal gewapende veldwagters word geheim gehou, maar die heinings om die plaas strek kilometers aaneen, terwyl daar hordes kameras, hitteverklikkers en veldwagters is wat die terrein patrolleer.

Altesame 100 mense werk ook permanent op die plaas.

Brandon Jones, hoof van sekuriteit op die plaas, sê die streng veiligheidsmaatreëls moet stropers ontmoedig om renosters te stroop deur dit duidelik te maak dat hulle hier “nie ʼn kans staan nie”.

Hy sê wel dat dié pogings net gedeeltelik suksesvol is omdat stropers renosters dan bloot net op ʼn ander plaas gaan skiet.

“Ons ontmoedig hulle eintlik net om op ons reservaat te stroop,” sê hy.

“Ons weet dat hulle gebiede sal teiken waar dit makliker is om in te kom en waar die verhouding tussen die risiko vir hulle, en die uiteindelike beloning hiervoor, tot hul voordeel is.”

Horings by dosyne

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD)

Volgens Hume is dit onderhandelbaar of die voorraad renosterhorings wat in sy besit is, by die bod gevoeg sal word.

Sowat 10 ton horings is oor die jare voorkomend afgesny as ʼn manier om stropers te ontmoedig. Die horings is na raming $500 miljoen, oftewel R9 miljard, op die swartmark werd.

Hume glo die horings moet verkoop word om die mark te oorstroom. Dit sal dan ʼn wettige mark vir die horing skep en die vraag daarna verminder. Dit sal boonop ook bewaringsprojekte kan finansier.

“Ek het die oplossing, maar die res van die wêreld en nieregeringsorganisasies stem nie saam nie. Intussen verloor ons die oorlog,” sê hy.

“Ongelukkig is dit waar dat die horing van ʼn dooie renoster op die swartmark steeds meer werd is as een wat van ʼn lewende renoster af kom.”

Suid-Afrika is die tuiste van sowat 80% van die wêreld se renosterbevolking. Stropery eis egter ʼn groot tol ondanks verhoogde beskermingspogings.

Altesame 448 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Dit is maar drie minder vergeleke met 2021.

Stropers het ook al hoe meer reservate in private besit begin teiken. Renosterhorings is baie gesog op die swartmark waar die prys per gewig met dié van goud en kokaïen meeding teen sowat $60 000 (R1 miljoen) per kilogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

TruthDealer ·

Baie dankie Mnr Hume, vir wat jy gedoen het en al die geld wat jy ook daarin gesit het. Die wêreld het meer mense soos jy nodig. Baie dankie.

Amelia ·

Ramaposa sal seker belangstel hy genoeg onder bank (die wat ons nie van weet nie) hoe lyk dit ciril

SjN ·

Die handel in renosterhoring moet gewettig word, dit sal die stropery stop en oom John se droom sal vir geslagte kan voortduur.

Truth2bfree ·

Hul veg al jare daarvoor. Dit sal tog net sin maak. Want renosters se horings sal versigtig afgesny word, boere sal befondsing daarvoor kry en renosters kan in vrede voortleef.

Republikein in die Wes Kaap ·

Korrupte politici en hul makkers wil die mark beskerm en pryse opjaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.