Wêreldekonomie bloei weens skip in Suezkanaal

Satellietfoto van die MV Ever Given (Evergreen) in die Suez-kanaal (25 Maart 2021) (Foto: Cnes2021, Distribution Airbus DS/AFP Photo)

Die reuseskip wat tans die Suezkanaal versper, rig amper onberekenbare skade aan die wêreldekonomie aan en honderde skepe draai nou om in ʼn poging om die toneel te vermy.

“Dis ʼn gemors. Elke ses minute wat die skip daar staan, is die geld wat lande reg oor die wêreld verloor gelykstaande aan die totale waarde van al die goedere en dienste wat in een dag in Suid-Afrika vervaardig en gelewer word,” sê dr. Roelof Botha, ʼn ekonomiese raadgewer by die Optimum-beleggingsgroep.

Lloyd’s List, ʼn Britse skeepvaartpublikasie, sê die waarde van verkeer wat daagliks in albei rigtings van die kanaal vaar, is ongeveer $9,6 miljard (ongeveer R144 miljard).

Die MV Ever Given, ʼn Taiwannese houerskip wat al sedert Dinsdag dwars in die kanaal vassit, is 400 meter lank en 59 meter breed. Dit is gelykstaande aan vier rugbyvelde agtermekaar staangemaak. “Dit is iets verskrikliks en niemand weet hoe lank dit gaan vat om die skip te bevry nie. Die wêreld het dit beslis nie nou nodig gehad nie,” sê Botha.

Die Japannese president Shoei Kisen aan wie die skip behoort, het Vrydag tydens ʼn perskonferensie gesê daar is geen teken van skade aan die skip se enjins nie en hulle hoop om die skip teen Saterdag te bevry. Masjinerie is reeds ingespan om groot klippe te verwyder in ʼn poging om die skip los te kry.

MV Ever Given in die Suez-kanaal (24 Maart 2021) (Foto: Suez CANAL/AFP Photo)

Tans sukkel 200 vragskepe om verby die skip na hul onderskeie bestemmings te vaar. Dié skepe het miljarde rande se goedere aan boord en die versperring veroorsaak grootskaalse oponthoud in die lewering van veral olie.

Botha sê skepe wat goedere tussen Europa en Suidoos-Asië vervoer word die ergste geraak, daarom is Suid-Afrika in ʼn relatief goeie posisie wat in en uitvoere betref. “Daar kan wel ʼn ontwrigting in die waardeketting ontstaan omdat Suid-Afrika byvoorbeeld nie nou motoronderdele kan invoer of klaar vervaardigde motors kan uitvoer nie.”

Hoewel talle skepe nou omdraai en eerder om die suidpunt van Afrika vaar, meen Botha Suid-Afrika sal minimale voordeel hieruit trek. Van die groot skeepvaartmaatskappye wat dié stap nou oorweeg, is Maersk en die Duitse maatskappy Hapag-Lloyd.

Botha meen die versperring van die Suezkanaal behoort nie ʼn groot invloed op die olieprys te hê nie aangesien ʼn redelike olievoorraad beskikbaar is. “Hoe langer die skip daar vasgekeer is, hoe groter sal die invloed daarvan egter op die olieprys wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Menan ·

Hoe’t hy in die eerste plek daar loop vassit? Wat was die oorsaak?

Menan ·

O dankie Adri, nou net my man gevra toe’t hy ook gepraat van die woeste wind wat dit veroorsaak het. Berig in detail was glo op ‘n ander webwerf wat hy gelees het.

Juffrou ·

Lees die artikel weer! Stormwind het hom van koers af gewaai! ????

Adri ·

Interessante gebruik van “bloei”. Ek dag eers dit beteken die wêreldekonomie blom, toe sien ek dit bloei soos een wat gewond is. Afrikaans is darem ‘n interessante taal.

KhoiKhoi ·

Het beslis ook so gedink.
Veral aan die uitwerking op die Kaapstadse hawe.
My seun woon in Bloubergstrand en het vanoggend – eenuur se omgewing – fotos gestuur wat hy vanaf sy balkon geneem het .
Ons het die artikel oor die moontlike verskuiwing van die Kaapstadse hawe bespreek

Jakman ·

Ja en as die vrugtebome blom dan “bloei” hulle. Dan word die blomme bloeisels genoem. In Afrikaans is baie snaakse gebruike van woorde met 2 of meer betekenisse.

SomeOne ·

volgens mm : “Die Ever Given-vaartuig het Dinsdag gestrand geraak toe ʼn stormwind dit van koers af gewaai het”

Gustav ·

‘n Rugbyveld staan nie, dit lê.
Jy kan nie ‘n rugbyveld “staanmaak” nie.

Dup ·

Die skip se parallelparkering kort skaafwerk…..seker lisensie by PEP gekoop….

Terence ·

Baie spice gold en coke of n suid afrikaanse gekoopte bestuurslisensie..

Terence ·

Hulle gaan nou seker die hele kanaal met ou tyres op die walle uit le of almal laat blaas voor hulle ingaan..

Johan ·

Dryf dit nie meer nie? Sleep dit agteruit, wat n gemors. Indien die kanaal so baie werd is moet ons n rugsteun bou.

losmyuit ·

Hierdie gebeurtenis (“ongeluk”) wys aan ons hoe broos is die wêreld se ekonomieë en watse finansiële skade dit veroorsaak.

Bushy ·

As daai skip in Suid Afrika moes vassit was hy al lankal leeg gestroop en sommer self weer begin float. Skrikwekkend om te dink dat “Kelder n paar skepe daar” en verander die wereld ekonomie vir dekades.
Hulle sal moet kyk om die kanaal breer te maak, veral as ek sien hoeveel geld hulle maak.

Jakman ·

Goeie geleentheid om na die petalje die kanaal dieper te maak en breedte te vergroot.

Karina ·

Dit moes ‘n geweldige wind gewees het om die skip te draai. Waar was die kaptein? Aan die slaap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.