Wêreldkoorspele eindig op effense vals noot

wereldkoorspele-program

‘n Skermskoot van die Wêreldkoorspele se program. Foto: Verskaf.

ʼn Herrie het Sondag op sosiale media ontstaan nadat gebruikers aangevoer het ʼn omstrede strydlied is Saterdagaand tydens die afsluitingseremonie van die tiende Wêreldkoorspele gesing.

Die departement van kuns en kultuur het ʼn videogreep van die omstrede lied op Twitter geplaas met dié inskrywing: “Kyk hier na die massakoor van die Wêreldkoorspele se voortreflike uitvoering van ‘Thina Sizwe’.”

Sosialemediagebruikers het hulle na Twitter gewend en aangevoer die woorde van die lied handel oor “mkhonto wat die boere dood maak”.

Oudpres. Jacob Zuma het die struggle-lied al dikwels by ANC-byeenkomste en by een van die oudpres. Nelson Mandela se roudienste gesing.

Lede van die EFF sing ook graag dié lied by debatte oor grondhervorming en -onteiening.

Vrylik vertaal sê die lied:
Thina sizwe esimnyama (Ons die swart nasie)
Sikhalelela izwe lethu (huil oor ons grond)
Elathathwa ngabamhlophe (wat van ons weggevat is deur die wit mense)
Mabayeke umhlaba wethu (laat hulle ons grond teruggee)
Mabayeke umhlaba wethu (laat hulle ons grond teruggee)

ʼn Lid van een van die kore wat aan die geleentheid deelgeneem het en op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, beweer nie een van die Europese en Amerikaanse gaste of koorlede het geweet wat hulle sing nie. Hy het aangevoer die afsluitingsgeleentheid het in ʼn propaganda-veldtog ontaard omdat Nathi Mthethwa, die minister van kuns en kultuur, die geleentheid bygewoon het.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het homself Sondag sterk teen die sing van ʼn verdelende politieke strydlied uitgespreek.

“Selfs al aanvaar ek die versekering dat die betrokke lied nie gegaan het oor moord op wit boere nie, is dit steeds totaal onaanvaarbaar dat ʼn strydlied oor wittes wat swart mense se grond afgevat het op ʼn internasionale koorfees gesing word. En dit in ʼn klimaat van oplaaiende spanning oor die grondvraagstuk in ʼn tyd waar moorde op boere al meer woede veroorsaak, in ʼn koorfees van kinders wat hierdie gevegte nie veroorsaak het nie. Dit is vernederend en mensonterend.”

Buys het gesê die Solidariteit Beweging verwerp alle vorme van rassisme en het bygevoeg dat die meeste mense in Suid-Afrika steeds goeie menseverhoudinge het en wil hê die land moet slaag sodat daar saam aan ʼn toekoms vir almal gebou kan word. “Kom ons hou dit so. Kom ons leef in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek. Ons land en al sy mense verdien beter as handelaars van haat.”

Die Wêreldkoorspele is hierdie jaar vir die eerste keer in ʼn Afrika-land aangebied. Dit word as die Olimpiese Spele van koorsang beskou en altesaam 16 000 sangers in sowat 300 kore uit 60 verskillende lande het aan die kompetisie van 4 tot 14 Julie in Pretoria deelgeneem.

Kore van Suid-Afrika het skoonskip gemaak in die kompetisie en 76 medaljes tydens die geleentheid opgeraap.

Die Wêreldkoorspele se amptelike Facebook-blad beskryf dié spele as ʼn geleentheid wat gebou is op die ideale om mense aan mekaar te verbind en deur musiek vreedsaam te verenig.

Nie die plaaslike óf internasionale organiseerders van die koorfees was teen die plasing van hierdie artikel beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

ANDRE ·

As hulle dan nou so ernstig voel oor rekonsilliasie en mense gevoelens en uit respek vir n ander , laat hulle dan die toekenning terug gee……….I don’t think so.

Skandelik ·

Kom ons draai dinge om ……… WAT SOU JULLE GEDOEN HET AS ‘N AFRIKAANSE SKOOL DIE OU STEM GESING HET? hOE SOU JULLE DAAROOR VOEL? Hoekom word ons wittes steeds onderdruk, verneder en sleggemaak en gedreig met die dood en dit deur ‘n KOOR??? DIE EFF sou die koor ingewag het by die lughawe en weer alles gebreek en gebrand het en demand het dat die koor VERBAN word .. hoekom sit ons alweer stil.??? “Waar is die menseregtekommissie nou ??????

zoom zoom ·

Was SA se koor so goed om so baie medaljes te kon wen of wad dit vooraf beplan deur ‘n sekere minister om hom goed te laat lyk. Kan net my kop skud oor hierdie gemors.

Vermeendes ·

Dan kan ons mos nou maar die stem voor die ganse wereld sing!

Disselboom ·

Dit word gesing terwyl nog oumense aangeval is, een egpaar moontlik met kookwater verniel. Kan die joernaliste bietjie die organiseerders uitvra en sover kry om iets te sê? Maar toemaar, in hierdie land neem almal graag die eer en die geld, en niemand neem verantwoordelikheid nie. Los maar. Maar die onreg bly nie ongestraf nie.

Witbanker ·

Hoe jammer dat hierdie hele storie, nou die harde werk en insette van duisende koorlede van reg oor die wêreld oorskadu. Nee, ek stem nie saam met die sing van hierdie lied nie en ek persoonlik voel dat dit ongeskik was om sulke groot dele van die opening en afsluiting in ‘n taal was wat ons gaste nie verstaan het nie. Hierdie kompetiesie is deur internasionale musiek kenners beoordeel, ek kan nie dink dat enige uitslae gemanipuleer kon word nie. Die wat dit wel bygewoon het kan getuig van bande en vriendskappe wat ontwikkel het. Die kore het mekaar onderling ondersteun soos ek nog by geen ander kultuur of sport byeenkoms beleef het nie. Nee, ongelukkig het ek nie self deel geneem nie maar ek was self daar om verskeie familie en vriende te ondersteun. Dis jammer dat die negatiewe altyd die posetiewe moet onder druk.

NEE NEE NEE Witbanker ·

Neewat jammer, jou betrokkenheid cloud jou judgement .. die EFF en ANC sou ‘n wit koor tot in die grond afgebreek en verneder en verban het as hulle dit sou waag om ‘n liedjie te sing wat mense van kleur offend. ongelukkig gaan dit oor die groter prentjie . hulle moet verband word en klaar . harde werk of te not .. die mense het geweet wat die woorde beteken . .. dis AFSKUWELIK. Bande van vriendskap? Seker net omdat die wittes nie verstaan het dat hulle met die DOOD gedreig word nie .. dis regtig afstootlik.

Mrs H ·

Klink in elkgeval hirribaal! Diskwalifiseer hulle van die kompetisie! Maak n mens se ore seer. Is die koor nie TE kolloniaal vir hulle nie?

elizna ·

Elke skool en koor van SA wat n medalje gewen het bekoort die medalje terug te gee. Indien nie kan die publiek aanbaar dat daar die skool die ideologie aanvaar van grond teruggee en swart teen wit. Dan moet geen skool weer kla indien die regering diskrimineer. Ek skaam my om te dink enige skool jubel oor n sogenaamde tweederangse medalje. Weereens n gemors wat deur ons amptenare opgedis word. Ek hoop alle borge onttrek. 76 medaljes deur een land is in elk geval verregaande.

Disselboom ·

Disselboom deel @elizna se gevoel – maar ons dop die toets nog maar gedurig om eer en glorie in sport en kunste te soek soos ‘n volk sonder selfvertroue en nog nie raak te sien hoe ernstig die situasie in ons land nodig het dat daar baie sterker standpunt ingeneem moet word nie. Dis nou soos iemand wat ‘n boek oor die plaasmoorde skryf en hewig in die nuus is oor hierdie verskriklike saak, maar net na die boekbekendstellingdaarna foto’s twiet (of is dit nou tweet), van boeklees by die kaggel, bier drink in Oxford, whiskey-versameling in Skotland besoek… Disselboom wonder of ons regtig ernstig is oor die oorlewingstryd?

Rupert Ashford ·

Ongelukkig moet mens se “wat anders het mense verwag”.

Hugo ·

“n lid van die een van die kore”. Liewe vader Maroela- versorg asseblief julle artikels taalkundig voor plasing.

Tania Heyns ·

Dagsê Hugo

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Johan H ·

Ons kind het saam die Noordwes jeugkoor deelgeneem. Ons het n paar kompetisie geleenthede bygewoon asook van die gratis vertonings. Die optredes was van uiters hoë standaard. Hierdie was soos n kunswedstryd waar medaljes in plaas van diplomas toegeken is. Meer as een koor kon n goue medalje in n kategorie kry. Ons land se kore het pragtig gesing. Terwyl die land brand en moorde gepleeg word is daar hierdie verposing van lig, helder en skoon musiek. Kry die organiseerders voor stok en los die kinders uit.

Keelvol ·

My kind was in een van die SA kore wat ‘n goue medalje gekry het. Ek kan julle verseker die kompetisie was van hoogstaande gehalte. Vir julle wat so oordeel: die kinders het letterlik ure se oefening en opoffering ingesit en verdien hulle toekennings. Die massakoor by die afsluitingseremonie het bestaan uit verskeie kore waarvan baie wit was. Hulle het voorgeskrewe stukke gekry wat gesing moes word. Die betekenis van die lied is eers na die seremonie aan hulle bekend. Glo my, hulle is baie ontsteld. Die opening- en sluitingseremonie was in elk geval glad nie verteenwoordigend van SA nie. Ek het my geskaam dat die wereld dit moes sien. Baie van ons wit kore het tydens die openingseremonie uitgeloop voor dit klaar was.

Ekke ·

Ek stem saam met Johan H en Keelvol.
Ons kind het ook deel geneem en het die hele ondervinding en koorsangers van reg oor die wereld werklik geniet na al die harde werk wat ingesit was, behalwe vir die opening en aflsuiting seremonies. Hulle was een van die kore wat voor die seremonie klaar was uitgeloop het omdat dit patetiese vermaak was. Die seremonies was defnitief nie verteenwoordigend van SA nie en dit het voorgekom of die organiseerders vreeslik polities korrek wou wees en hulle eensydige stempel af te forseer in die mense se kele af. Die res van die kompetisie en koorsang was van die hoogste gehalte en die kore wat iets bereik het verdien dit. Die organiseerders het gelukkig geen seggenskap gehad oor wie enige medaljes of diplomas kon kry in die kompetiesie nie. Die “vermaak” met die opening en aflsuiting seremonies was 100% die organiseerders se toedoen, dus pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.