Wêreldrenosterdag gevier

Argieffoto (Foto: Nel Botha/Pixabay)

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het Sondag gesê die strategie om plaaslike gemeenskappe te betrek by natuurbewaring moet ʼn sentrale deel wees van die regering se planne om renosterstropery te bekamp.

Sondag, 22 September, is die negende Wêreldrenosterdag – ʼn dag wat deur die Wêreldnatuurfonds (WWF)-Suid-Afrika in 2010 onder die tema “Five Rhino Species Forever” van stapel gestuur is. Dié dag word nou jaarliks wêreldwyd gevier en werp lig op die impak wat stropery op die voortgesette oorlewing van die spesie het.

“Ons sal ons pogings verskerp om seker te maak dat gemeenskappe, wat op die grense van ons parke woon, voordeel trek uit bewaring en die biodiversiteitsekonomie sodat hulle nie kwesbaar is vir werwing deur renosterstroop-sindikate nie,” het Creecy in ʼn verklaring gesê.

Wêreldrenosterdag is ʼn geleentheid om ʼn kultuur van verantwoordelike burgerskap onder gemeenskappe te bevorder, het sy gesê.

Suid-Afrika is al jare lank op die voorpunt van die stryd teen renosterstropery en onwettige handeldryf. Die samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe, staatsdepartemente, privaat renostereienaars, nieregeringsorganisasies en ander belanghebbendes, is die belangrikste rede vir die voortgesette afname in renosterstropery in Suid-Afrika.

“Dit is op hierdie Wêreldrenosterdag dat die regering, NRO’s, maatskappye, gewone burgers, gemeenskappe, die jeug en bewaringsorganisasies byeenkom om die vyf oorblywende spesies van renosters te vier – die swartrenoster, witrenoster, Javaanse renoster, Sumatraanse renoster en Indiese renoster.”

Die gevolge van samewerking om ʼn sleutellid van die Groot Vyf en ikoniese spesie van uitwissing te red, is duidelik uit die suksesse wat die afgelope jaar aangemeld is. “Renosterstropery het weer afgeneem en ons suksesse in die hof is ook noemenswaardig.”

Tussen Januarie en Junie 2019 is 318 renosters landwyd gestroop. Dit is ʼn afname in vergelyking met dieselfde periode in 2018 waar 386 renosters vir hul horings gestroop is.

Altesaam 190 renosters is in die Krugerwildtuin gestroop.

“Alhoewel die stryd nog lank nie verby is nie, is ons trots om te sê dat ons pogings, as ʼn regering, privaat renostereienaars, en besorgde burgers, vrugte lewer,” het Creecy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda Cloete ·

Vir meer insae, kyk op 22 September die rolprent ‘Stroop – journey into the rhino horn war’ om 21:40 MNet, kanaal 101 en 23 September om 20:00 kanaal 104. “Stroop is ’n emosionele wipwarit tussen Afrika en Asië wat reeds met 20 toekennings wêreldwyd bekroon is en vir die programme van 28 internasionale filmfeeste gekies is. Die twee filmmakers, Bonné de Bod en Susan Scott, plaas hulself in die spervuur van die renosterstropingskrisis om eksklusiewe insae in hierdie oorlog te kry.”

Amanda ·

Ek wou dit nie kyk nie, want ek het geweet dit gaan my ontstel. Ek was nog nooit in soveel wanhoop oor SA soos ná hierdie film nie. My hart is stukkend. Ek gaan nooit die beelde van hierdie stukkende, verminkte diere, en die angswekkende wreedheid van die gedrogte wat hulle vermoor uit my kop kry nie.

Die gehuil van die wesies langs hulle dooie ma’s. Die nagmerries en angsaanvalle wat hulle kry ná die trauma wat hulle beleef, maar die ergste, ergste is die verminktes wat bloeiend en in pyn, opgekap, gestroop van hulle horings, lê terwyl hulle nog lewe. Dit is om van mal te word!

God behoed Afrika, want hier is mense wat geen menslikheid het nie; daar kan in jou geen hart of siel wees as jy ‘n dier so kan martel en vermink nie.

Attie. ·

Hoe kry jy mense aangrensend aan die wildtuin om te besef dat bewaring van renosters tot hul voordeel is. Selfs in rykmans woonbuurtes soos Waterkloof pleeg inwoners se kinders dan misdaad. Ons sal eers die renoster van uitwissing red wanneer ons ons nie aan Cites steur nie en die renosterhoring mag verkoop aan enigeen wat die prys wil betaal, op ‘n vraag en aanbod sisteem. Dan sal die verbruikers dit nog gebruik maar die juwelemark sal in duie stort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.