Wêreldrenosterdag gevier

Argieffoto (Foto: Nel Botha/Pixabay)

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het Sondag gesê die strategie om plaaslike gemeenskappe te betrek by natuurbewaring moet ʼn sentrale deel wees van die regering se planne om renosterstropery te bekamp.

Sondag, 22 September, is die negende Wêreldrenosterdag – ʼn dag wat deur die Wêreldnatuurfonds (WWF)-Suid-Afrika in 2010 onder die tema “Five Rhino Species Forever” van stapel gestuur is. Dié dag word nou jaarliks wêreldwyd gevier en werp lig op die impak wat stropery op die voortgesette oorlewing van die spesie het.

“Ons sal ons pogings verskerp om seker te maak dat gemeenskappe, wat op die grense van ons parke woon, voordeel trek uit bewaring en die biodiversiteitsekonomie sodat hulle nie kwesbaar is vir werwing deur renosterstroop-sindikate nie,” het Creecy in ʼn verklaring gesê.

Wêreldrenosterdag is ʼn geleentheid om ʼn kultuur van verantwoordelike burgerskap onder gemeenskappe te bevorder, het sy gesê.

Suid-Afrika is al jare lank op die voorpunt van die stryd teen renosterstropery en onwettige handeldryf. Die samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe, staatsdepartemente, privaat renostereienaars, nieregeringsorganisasies en ander belanghebbendes, is die belangrikste rede vir die voortgesette afname in renosterstropery in Suid-Afrika.

“Dit is op hierdie Wêreldrenosterdag dat die regering, NRO’s, maatskappye, gewone burgers, gemeenskappe, die jeug en bewaringsorganisasies byeenkom om die vyf oorblywende spesies van renosters te vier – die swartrenoster, witrenoster, Javaanse renoster, Sumatraanse renoster en Indiese renoster.”

Die gevolge van samewerking om ʼn sleutellid van die Groot Vyf en ikoniese spesie van uitwissing te red, is duidelik uit die suksesse wat die afgelope jaar aangemeld is. “Renosterstropery het weer afgeneem en ons suksesse in die hof is ook noemenswaardig.”

Tussen Januarie en Junie 2019 is 318 renosters landwyd gestroop. Dit is ʼn afname in vergelyking met dieselfde periode in 2018 waar 386 renosters vir hul horings gestroop is.

Altesaam 190 renosters is in die Krugerwildtuin gestroop.

“Alhoewel die stryd nog lank nie verby is nie, is ons trots om te sê dat ons pogings, as ʼn regering, privaat renostereienaars, en besorgde burgers, vrugte lewer,” het Creecy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Linda Cloete

Vir meer insae, kyk op 22 September die rolprent ‘Stroop – journey into the rhino horn war’ om 21:40 MNet, kanaal 101 en 23 September om 20:00 kanaal 104. “Stroop is ’n emosionele wipwarit tussen Afrika en Asië wat reeds met 20 toekennings wêreldwyd bekroon is en vir die programme van 28 internasionale filmfeeste gekies is. Die twee filmmakers, Bonné de Bod en Susan Scott, plaas hulself in die spervuur van die renosterstropingskrisis om eksklusiewe insae in hierdie oorlog te kry.”

Attie.

Hoe kry jy mense aangrensend aan die wildtuin om te besef dat bewaring van renosters tot hul voordeel is. Selfs in rykmans woonbuurtes soos Waterkloof pleeg inwoners se kinders dan misdaad. Ons sal eers die renoster van uitwissing red wanneer ons ons nie aan Cites steur nie en die renosterhoring mag verkoop aan enigeen wat die prys wil betaal, op ‘n vraag en aanbod sisteem. Dan sal die verbruikers dit nog gebruik maar die juwelemark sal in duie stort.