Wêreldwyd ʼn tekort aan onderwysers

onderwys-alfabet-swartbord-boek

Foto: Pixabay/Pexels.com

ʼn Wêreldwye tekort van nagenoeg 69 miljoen onderwysers hou ʼn ernstige bedreiging in vir onderwys as ʼn fundamentele reg vir kinders.

Dit is waarom vanjaar se viering van Wêreldonderwysersdag fokus op die tema, “Die reg op onderwys beteken die reg op ʼn gekwalifiseerde opvoeder”.

Die Verenigde Nasies (VN) vier dié dag wêreldwyd op 5 Oktober elke jaar, maar in Suid-Afrika val die datum egter in die skoolvakansie. Om seker te maak dat plaaslike onderwysers wel die erkenning kry wat hulle toekom, vier die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) Wêreldonderwysersdag in Suid-Afrika op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal. Vanjaar val die datum op 12 Oktober.

“Vanjaar is ook die 70ste herdenking van onderwys as ʼn fundamentele reg ingevolge die universele verklaring van menseregte,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas.

Colditz sê hoewel Suid-Afrikaanse kinders ook ʼn reg op vrye en verpligte onderwys met inklusiewe en billike toegang het, skets onlangse mediaberigte ʼn donker prentjie.

“Derduisende openbare skole in Suid-Afrika is sonder ʼn skoolhoof of adjunkhoof. Die tekort aan onderwysers in klaskamers is selfs nog groter. Dit kom daarop neer dat alle kinders nie billike toegang tot onderwys het nie. Die gevolge hiervan is elke jaar duidelik wanneer ouers desperaat probeer om hul kinders in skole te kry waar hulle wel verseker sal wees van gehalte-onderrig.”

Hy meen teen hierdie agtergrond raak Fedsas se doelwit van gehalte-onderrig in openbare skole selfs nog dringender.

“Dit is nie genoeg om een keer per jaar onderwys as beroep te vereer nie. Inteendeel, die beroep moet weer in ere herstel word. Daarvoor is samewerking tussen alle rolspelers noodsaaklik.

“Jong studente gaan nie kies om onderwysers te word wanneer swak bestuur, administratiewe uitdagings en selfs hulle eie veiligheid in die klaskamer so ʼn ernstige probleem is nie.”

Colditz sê dit is egter steeds belangrik om hulde te bring aan daardie onderwysers vir wie die taak ʼn ware roeping is. “Dit is hierdie mense wat die wiele van die onderwys aan die rol hou, en wat kinders vorm, leer en inspireer en sodoende ʼn nuwe geslag leiers vir ons land slyp.”

Fedsas doen ʼn beroep op oud en jonk om op 12 Oktober hul skool of ʼn onderwyser te kontak en hulle te bedank vir hul onmisbare rol.

Die federasie se personeel van hulle nasionale kantoor in Bloemfontein beplan om dié dag by die Dr. Böhmer-vaardigheidskool in dié stad deur te bring om daar aan onderwysers hulde te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marco polo ·

Is onderwys nie maar n kolonialistiese praktyk nie? Los dit maar vir die lande wie se bevolkings wil leer en werk.

vissie ·

Die trant dat soveel onderwysers in klaskamers aangeval word,selfs vermoor word met kinders wat nie dissiplinne ken of opgevoed wil word nie is sekerlik een van die hoof oorsake

Oom Kalahari ·

Met die uitstamp van die Koloniale in Onderwys sal ABC later CBA wees, maar dit het beter geword om liewer tuiste onderrig (tusskool opleiding/home schooling) toe te pas as om jou kind/ers in ‘n konsentrasie kamp te plaas en verdraaide politieke standaarde met verkleinerings meganismes in hul wesens afgedruk word omdat hul wit is en vertel word om hul mede leerlinge van kleur onverskoning te vra oor die verlede. Dit is nie meer opleiding nie maar liewer verdrukking en vertrapping.

AJ ·

“Pêrels voor die swyne!”

Dit is wat die situasie is met onderwysers wat klein barbaartjies moet probeer beskaaf maak.

Goeie onderwys is so kosbaar dat dit nie op die vulgêre massas vermors kan word nie.

Massa onderwys in staatskole het verander in ‘n markplein waar gesonde kinders infekteer word met al die peste en plae van die liggaam en die gees,

Gee liewer tuisonderrig!

Anita ·

Solank daar geen respek, dissipline en Christelike norme in land en in ouerhuise geld nie, is onderwysers vasgevang in ‘n onbegonne taak. Onderwys het lankal ontaard in dieselfde futiele speletjie wat in meeste beroepe in SA gespeel word: kom ons maak asof alles eintlik wonderlik en reg is.
Indien ouers nie wil weet wat opvoeding gegrond op Christelike norme inhou nie, en nie hul verantwoordelikheid wil aanvaar nie dan kan onderwysers nie daardie taak vir hulle vervul én skoolhou nie.
Die onstemmende en onstigtende wangedrag van selfs laerskoolkinders is van so ‘n aard dat tuisonderrig regtig die beste alternatief is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.