Werk by wetgewer gekanselleer oor staking

Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Betogers van die Suid-Afrikaanse parlement het Dinsdagmiddag die Nasionale Vergadering verlaat nadat die wetgewer gedwing is om sy sittings te kanselleer.

Daar was ʼn swaar polisieteenwoordigheid in die omgewing rondom die parlement met dosyne lede van verskeie polisie-eenhede, insluitend die openbare-orde-eenheid. Werkers het buite die Nasionale Vergadering gesing en gedans.

Die betogende personeel het die openbare galery omstreeks 10:00 bestorm en die vergadering moes noodgedwonge verdaag. Hulle het geweier om die vertrek te verlaat totdat daar aan hul eise voldoen is, en ʼn tweede sitting vir die dag, wat vir 14:00 geskeduleer is, is ook gekanselleer.

“Die hoofswepe van politieke partye het ingestem om verdere vergaderings vir vandag uit te stel en die program van die Nasionale Vergadering vir twee dae te verleng,” het Stone Sizane, hoofsweep van die ANC, se kantoor in ʼn verklaring gesê.

Sizani het ʼn beroep gedoen op die parlement en die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu)-vakbond om tot ʼn vergelyk te kom.

“Ons bevestig ons ondersteuning vir die reg van werkers om te staak en om arbeid te onttrek om op hul arbeidsregte te staan,” het Sizani gesê. “Die onderbreking berokken egter skade aan die LP’s se grondwetlike reg om hul pligte uit te voer waarvoor hul verkies is.”

Twee stukke wetgewing, die Aansuiweringsbegrotingwetsontwerp en die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste, is in die weegskaal as gevolg van die staking.

John Steenhuisen, hoofsweep van die Demokratiese Alliansie, het gesê dit kon verhoed wees. “Die vraag is waarom sulke belangrike begrotingswetgewing só laat in die jaar voorgehou word, in die laaste dae van die jaarlikse sessie?” Hy het gesê die staking sal ʼn nadelige effek op LP’s en die parlementêre begroting hê. “LP’s is Woensdagaand ingelig dat ons besig is om klaar te maak. Dit beïnvloed vlugte, ens. en daar is ook ʼn koste verbonde aan die sittings. Daar is geen waarborg dat môre [Woensdag] en Donderdag se sittings wel gaan voortgaan nie.”

Werknemers het ook komiteevergaderings onderbreek en LP’s kon nie met hul werk voortgaan nie.

ʼn Senior beampte van die parlement het gesê sommige van die komitees het weer hervat, maar ander kon nie, weens die voortslepende staking.

Die stakers sal weer Woensdag na die parlement terugkeer en het onderneem om verder druk op die bestuur van die parlement toe te pas om aan hul eise vir groter prestasiebonusse toe te gee.

Lees alle vorige berigte oor die parlement op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christo ·

So lyk n piesang republiek as werkers al sover gaan om n Parlement gyselaar te hou, waar in jou lewe het jy al van so iets gehoor, en waar in wereld het jy al so iets gesien? Dis die land waarin ons ons kinders moet grootmaak, pateties verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.