Werk die masjien wat rybewyse druk nou, of nie?

(Foto: Maroela Media)

Wanneer gaan die masjien wat gebruik word om Suid-Afrikaners se rybewyse te druk, weer werk?

Kallie Kriel, hoof van die burgerregtegroep AfriForum, het ʼn brief aan die minister van vervoer geskryf waarin hy terugvoer vra ná ʼn “kommerwekkende gebrek” aan antwoorde van die departement oor hoe die herstel van die masjien vorder.

Die masjien het vroeg in Mei die gees gegee, minder as ʼn jaar nadat dit ʼn vorige keer ook ingekonk het.

“Die woordvoerder vir die nasionale departement van vervoer het daarna gesê dat die rybewyse weer binne twee tot drie weke gedruk sal word. Meer as vier weke het nou verloop en jou departement het steeds geen terugvoer gegee oor die kwessie of die masjien intussen herstel is nie,” lui Kriel se brief aan min. Sindisiwe Chikunga.

Kriel sê AfriForum se meer as 310 000 lede, asook die res van die land, verdien antwoorde en duidelikheid oor die lewering van hierdie kritieke diens.

In sy brief aan die minister vra Kriel haar om bevestiging daaroor te gee of die masjien reeds herstel is. Indien dit nie herstel is nie, versoek hy ʼn tydsraamwerk vir wanneer dit gedoen gaan word.

AfriForum sê binne die raamwerk van hierdie “regeringsmislukkings” en die daaropvolgende agterstande sal die organisasie in Augustus in die hooggeregshof in Pretoria wees om onder meer ʼn verklarende bevel te eis. In hierdie bevel vra AfriForum dat die vyfjaar-geldigheidstydperk van rybewyse ongrondwetlik verklaar word en dat alle boetes wat opgelê word vir vervalde lisensies ongrondwetlik is.

“Die Suid-Afrikaanse regering is nie in staat om basiese dienste soos lisensiehernuwing doeltreffend te lewer nie. Daarbenewens blyk dit dat die regering ook nie oor die vermoë of die begeerte beskik om lede van die publiek op hoogte te hou van wanneer ʼn probleem, wat deur die regering veroorsaak is, opgelos gaan word nie.

“Dit is presies hoekom AfriForum bestaan – om aan lede van die publiek se kant te wees wanneer die regering nie is nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte van strategie en inhoud by AfriForum.

Die DA het ook al voorgestel dat die proses om rybewyse te druk en uit te reik tot op provinsiale vlak afgewentel moet word om die doeltreffendheid van die stelsel te verbeter.

Suid-Afrika het klaarblyklik net ʼn enkele masjien wat die rybewyse druk en groot agterstande ontstaan wanneer die masjien breek.

  • Maroela Media het ʼn navraag aan die departement gerig oor vordering met die herstel van die drukker en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elize ·

Hy sal nie antwoord nie want sy voortande is uit kan kan hy nie deur dit lieg nie

JvR ·

Ek wil iets se en ek gaan dit se. Ons ID kaarte word binne n week uitgereik. Sonder fout. Kwaliteit kaart. Hulle is ook toegerus met n chip waarop bv die lisensie gelaai kan word. Maar nee. Dit neem agt weke as jy gelukkig is om jou lisensie te kry. Die drukwerk is onleesbaar en die mees patetiese font word gebruik. Alles lyk of dit gesmeer het.

Koen ·

Jy maak nie sin nie. Weerksprrek jouself. Moenie bang wees nie. Sê as jy iets wil sê.

Pietertjie ·

Ek wonder of die spul ooit weet wat die verskil is tussen ‘n werkende masjien en een wat stukkend is.

Di ·

Dalk die doen die mense wat daar werk nie hulle werk nie, nou word die blaam weer geplaas op die “masjien” wat gebreek het.

Gert ·

Skraap die geldmaak storie. Vervang slegs n bewys van lisensie kaart indien hy beskadig of verlore raak.

Nettie ·

Dankie Afriforum. Lewer asb bewyse aan die hof hoeveel keer daar terugvoer in die verlede aan die publiek was, en hoeveel lisensies verval het tydens die tye wat die masjiene gebreek was, en hoeveel boetes uitgereik is. Asook hoe mens sukkel om afsprake te maak. Ek hoop die hof sal insien hoe onregverdig nie net die 5 jaar is nie, maar die feit dat die departement nie sy basiese pligte na kom nie. En dat daar met oplossings vorendag sal kom. Want mens kan nie meer so sukkel nie. Dis net te erg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.