Werk- en loonsekerheid in SA bly onder druk

Solidariteit-AMI-2017-02

Grafika: Verskaf.

Jan en San Alleman bly steeds onseker oor die toekoms van hulle werk en werkgewers het ongelukkig steeds min ruimte om meer geld aan arbeidskoste te bestee.

Dít is die bevindinge van die Solidariteit-ETM-Arbeidsmarkindeks (AMI) wat van 45,3 in die eerste kwartaal van 2017 tot 46,7 in die tweede kwartaal gestyg het. Die verslag is verlede week Woensdag beskikbaar gestel.

Solidariteit doen gereeld navorsing onder sy lede om onder meer te bepaal hoe veilig hulle voel oor hulle werkvooruitsigte. Vanjaar was daar ʼn groot toename in die persentasie van respondente wat gesê het hulle werksekerheid het nie verbeter of agteruitgegaan nie.

Hoewel dit die vyfde agtereenvolgende kwartaal is wat ʼn styging waargeneem word, is dit kommerwekkend dat die indeks steeds onder 50 bly, meen Gerhard van Onselen, ʼn ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut. Die indeks was in 2011 laas bo die gelykbreekpunt van 50 wat ʼn stygende sekerheid in die sektor aandui.

“Dit dui daarop dat werk- en loonsekerheid steeds daal, maar dit gebeur ten minste teen ʼn minder kommerwekkende tempo as vroeg in 2016,” het Van Onselen gesê.

Volgens hom is een van die indeks se subkomponente, arbeidsbekostigbaarheid, ʼn beduidende rede tot kommer. Hy sê ook die stagnerende ekonomiese toestande spoor werkgewers ook nie juis aan om hulle arbeidsbesteding te verhoog nie.

“Hoewel die sakesiklus-indeks daarop dui dat daar marginale verbeterings in Suid-Afrika se ekonomiese toestande vir die derde en vierde kwartaal van 2017 kan wees, is dit nie duidelik hoe maklik en sterk hierdie tendens volgehou sal kan word nie. Net soos in die geval van verskeie ander makro-ekonomiese aanwysers bly die indeks oor die algemeen traag, wat dui op ʼn breër tendens van ekonomiese stagnasie.”

Van Onselen blameer politieke onsekerheid en swak politieke besluite vir die sukkelende arbeidsmarktoestande.

werk-01

Foto: WikiImages/Pixabay.com

“ʼn Politieke omgewing wat vyandig teenoor bedryfsvryheid staan, asook die moontlikheid van toekomstige politieke skokke, plaas waarskynlik ʼn demper op plaaslike beleggings en uitbreidings.

“Algemene politieke onsekerheid en die ANC se nasionale kongres in die besonder gaan waarskynlik in die komende kwartale ʼn uitwerking op indeks hê. Tans ontbreek die wil by die regering om broodnodige deregulering en beleidshervorming van stapel te stuur om die probleem reg te stel. Trouens, dit lyk asof beleidstellings soos die jongste weergawe van die Mynbouhandves hierdie onderliggende tendens van ekonomiese stagnasie vererger,” het Van Onselen gesê.

Van Onselen meen in ʼn poging om hoë werkloosheidsvlakke in Suid-Afrika daadwerklik aan te raak, sal daar moeilike beleidsbesluite geneem moet word soos om algehele vergoedingspakkette in die toekoms afwaarts aan te pas. Hy reken iets soos die minimum loon sal ook ʼn negatiewe bydrae hê en tot verdere druk op die arbeidsmark lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Die skrywer het reeds tot ‘n slotsom gekom en ons ook. Maar mens kan seker hoop en droom dat die regering se paradyslike utopia ver weg dryf van ons grondgebied af hier aan die suidpunt van donker Afrika… ja, ver weg om nooit weer die pad terug vind nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.