Werk- en loonsekerheid steeds swak

arbeidsverhoudinge

Argieffoto

Werk- en loonsekerheid het in die tweede kwartaal van 2016 swak gebly, vasgevang binne ʼn arbeidsomgewing van dalende werk- en loonsekerheid wat sedert 2011 al byna ses jaar lank voortduur.

Dít is volgens die kwartaallikse Solidariteit-ETM Arbeidsmarkindeks (AMI), opgestel in samewerking met ETM Analytics, wat Maandag bekendgestel is.

Die AMI, ʼn indeks van werknemersvertroue, arbeidsbekostigbaarheid en die ETM sakesiklus-indeks, het marginaal van ʼn opwaarts hersiene 41,2 in die eerste kwartaal van 2016 tot 42,1 in die tweede kwartaal van 2016 gestyg. Ingevolge die AMI is 50 die gelykbreekpunt tussen stygende en dalende werk- en loonsekerheid.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), dui die indeks daarop dat moeilike arbeidsomstandighede in Suid-Afrika voortduur. “Terwyl daar aanduidings is dat die bekostigbaarheid van arbeid moontlik in die siklus ʼn omkeerpunt bereik het, wat verligting vir werknemers kan bring, sal so ʼn omdraai eers in die opvolgende kwartale bevestig kan word,” het Van Onselen gesê.

Die indeks vorm deel van die jongste uitgawe van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport. In dié uitgawe word kwessies soos sogenaamde Skandinawiese sosialisme, Suid-Afrika se swak kapitaalvorming sedert 2007/08 sowel as inflasie bespreek. ʼn Breër makro-ekonomiese oorsig word ook verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.