‘Werk- en loonvooruitsigte in SA bly swak’

Argieffoto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is in die weegskaal, met ambivalente mark- en politieke tendense wat ʼn rol speel en ekonomiese heil in die komende jare aansienlik kan bepaal. Só sê Solidariteit Maandag ná hy die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkindeks (AMI) vir die vierde kwartaal van 2017 bekendgestel het.

Die AMI, wat deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkverslag wat in samewerking met ETM Macro Advisors saamgestel word, is ʼn aanwyser van werk- en loonsekerheid in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.

Die AMI het tot net onder ʼn neutrale vlak van 50 gestyg, wat daarop dui dat sowel positiewe as negatiewe kragte die Suid-Afrikaanse arbeidsmark beïnvloed.
Volgens Gerhard van Onselen, senior ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, berus die K4 2017-indeks op data wat opgestel is voor die belangrike politieke gebeure wat in K1 van 2018 afgespeel het. “Dit sluit in die aanstelling van pres. Cyril Ramaphosa, ʼn kabinetskommeling en die kontroversiële parlementêre mosie oor onteiening sonder vergoeding.”

Van Onselen meen die K4-resultate behoort met omsigtigheid vertolk te word. “Die indeks het oor die afgelope paar kwartale in die rigting van neutrale vlakke begin grens en dit staan tans op 49, wat steeds onder die 50 is. Op ons indeks behoort ʼn gesonde ekonomie wat aan die verbeter is in AMI-lesings van 55 tot 65 te reflekteer. Die K1 2018-indeks sal huidige politieke verwikkelinge in aanmerking neem en dit kan ons moontlik ʼn beter aanduiding gee van hoe politieke tendense op werk- en loonsekerheid asook op sakevertroue inwerk.”

Van Onselen het bygevoeg hoewel sakesiklustendense ietwat fermer was in K4 2017 in vergelyking met 2016 – hoofsaaklik te danke aan buitelandse herstel, verbeterde kommoditeitspryse en ʼn sterker rand – dui onlangse sakesiklustellings steeds op stram saketoestande.

Die AMI het in K4 2017 tot 49 gestyg van ’n onaangepaste 48 in K3. Van die indeks se drie subkomponente het die werknemersvertroue-indeks se skerp styging tot 50 in K4 van ʼn vlak van 45 in K3 die grootste bydrae tot die algehele styging in die indeks gelewer. Arbeidsbekostigbaarheid het van 42 in K3 tot 43 in K4 gestyg, wat ook tot die algehele styging bygedra het. Die komponent van die sakesiklusindeks het van 56 in K3 tot 53 in K4 teruggesak, wat die algehele indeks afgetrek het.

Vir werknemers is die lae telling vir arbeidsbekostigbaarheid, wat die indeks steeds terughou, veral van groot belang. “Lae tellings vir arbeidsbekostigbaarheid dui daarop dat dit onwaarskynlik is dat aansienlik verbeterde indiensneming- en vergoedingstoestande sal realiseer tensy die positiewe buitelandse ekonomiese momentum opgevolg word met behoorlike markgedrewe en beleggingsvriendelike hervormings in regeringsbeleid,” het Van Onselen gesê. Solidariteit meen ook talle kwartale van groei sal nodig wees om die ekonomiese skade en stagnasie voortspruitend uit die Zuma-jare ongedaan te maak.

Solidariteit het met kommer kennis geneem van die parlement se aanvaarding van die mosie van onteiening sonder vergoeding omdat dit daarop dui dat die Ramaphosa-regering bereid is om met die idee van breë nasionaliseringsbeleidstellings en die drastiese verswakking van privaat besitreg in Suid-Afrika te flankeer.

“In die lig van die rampspoedige gevolge van die nasionalisering van grond in talle ander lande, is dit slegs redelik om te verwag dat plaaslike en internasionale beleggers ernstige voorbehoude hieroor sal hê,” het Van Onselen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Oom ekonoom ·

Globalisering veroorsaak grootskaalse verskuiwing van winste na die superrykes, en uitdruk van kleinder ondernemings as gevolg van kompetisie, en dit is die hoofoorsaak vir die middelklas en laerklasse se verdriet. Oplossing is om verbruikers hiervan bewus te maak en hulle aan te moedig om by plaaslike besighede in plaas van nasionale en globale reusemaatskappye te koop.

Kannaland ·

Ja die grootste rede waarom ons jongmense nie meer werk kry nie is omdat groot maatskappye van die stad en buiteland ons kleiner plaaslike besighede insluk. Dis nie BEE nie, dit is globalisering. Daarom is dit so belangrik om plaaslik te koop.

Selfbeskikking ·

Ek sien geen ander opsie as selfbeskikkingsonderhandelings met ons regering sowel as die buiteland nie. Die VN en groeiende konserwatiewe massas in VSA en Europa sal ons help met onderhandelings.

Hoop op ·

Ons kan maar net hoop CR gaan dinge verbeter maar wats die kans? Niks. Wats die kans dat die DA gaan wen? bittermin. Ons moet eerder kyk na ‘n kombinasie van regeringgesprekke vir selfbeskikking vir die wat wil bly en hulp met massa emmigrasie vir die wat betyds wil vlug.

Kallie kilobyte ·

Jong mense in ons land moet fokus op hoë tegnologie en e-handel, daar is die vraag groot en die regering kan nie in daardie bedryf sonsterk inmeng nie.

Kannaland ·

Wil Maroela nie dalk advertensiespasie verkoop vir ons plaaslike besighede nie, waar ons kan koop in Afrikaans? Lees gerus oom ekonoom se opmerking.

Kannaland ·

Dankie vir die terugvoer. Dit is uitstekend, maar selfs ek wat welbelese is sien dit nou eers. Blootstelling vir hierdie besighede moet baie verskerp word en Maroela is ‘n uitstekende platform daarvoor, en dit kan julle kans gee om advertensiegeld in te win. Alle media win advertensiegeld in, dan kan julle sterker meeding met ander mediareuse, en ons eie sakemense kan meer besigheid kry, en geld kan vermenigvuldig in ons plaaslike gemeenskappe in plaas van om na globale reuse uit te lek. So kan ons onsself weer bemagtig en werk plaaslik skep.

Albaster ·

Ek hoop Oom Ekonoom en Kannaland se opmerkings word raakgesien deur Maroela en die lesers.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.