‘Werkende mense uitgesluit by deelnameverhore oor onteiening’

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die mediakonferensie. Foto: Reint Dykema

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê dit is onaanvaarbaar dat werkende Suid-Afrikaners uitgesluit word van die openbare deelnameproses wat deur die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee gereël word oor onteiening sonder vergoeding.

Dít kom nadat die komitee bekend gemaak het dat alle openbare deelnamevergaderings om 11:00 in die oggend sal afskop.

Die burgerregte-organisasie sê hy het vroeër aan die komitee geskryf en gewaarsku dat die organisasie weens ’n verskeidenheid ooglopende prosedurele gebreke regsadvies sal inwin oor die proses wat gevolg word om met die publiek te konsulteer.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het in ’n brief aan die voorsitters van die parlementêre komitee gesê die gevolg hiervan is dat werkende mense – en diegene wat mees waarskynlik eienaars van privaat eiendom is – van die proses uitgesluit word.

“Dit is onverstaanbaar dat ’n proses van openbare deelname georganiseer word met die doel om die publiek se insette oor onteiening van privaat eiendom te kry, terwyl die einste mense wat die risiko loop om hul eiendom te verloor by die proses uitgesluit word,” het Roets gesê.

Roets sê dit kom vir die organisasie voor of die proses “op ’n bepaalde wyse gestruktureer en gemanipuleer word” met die doel om ’n bepaalde uitkoms te verseker – naamlik ’n uitkoms wat strook met die standpunt van die regerende party.

Die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee oor onteiening sonder vergoeding het Sondag gesê hy gaan ʼn verskaffer inkontrakteer om te help om die meer as 700 000 insette te analiseer. Insette waarvan die outeur nié geïdentifiseer word nie, sal as ongeldig verklaar word.

Die komitee sal ook van 27 Junie tot 4 Augustus openbare verhore in al nege die land se provinsies hou om die voorgestelde wysiging te bespreek. Die verrigtinge skop glo dié week af in Limpopo en op 27 Junie in die Noord-Kaap.

Mondelinge vertoë sal van 7 tot 17 Augustus in die parlement aangehoor word. Daarna sal die komitee oor sy konsepverslag beraadslaag wat na verwagting op 11 September 2018 gereed sal wees, waarna aanbevelings aan die Nasionale Vergadering gemaak sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Grassie

Die hele proses is net een groot blufspel. Die ANC het mos reeds besluit dat die proses sal voortgaan – hul president het dit mos al herhaaldelik hier en in die buiteland verkondig. Al wat hulle nou probeer bereik is om die buiteland ‘n rat voor die oë te draai met die storie dat die oorgrote meerderheid van die “peoples” dit so wil hê en dat dit dus hul demokratiese plig is om die wil van die burgers van die land uit te voer. Dit is dan ook die rede waarom die byeenkomste op plekke en tye gehou gaan word… Lees meer »

Hanna Hoekom

“Openbare deelname” is maar net n term om ons heuning om die mond te probeer smeer en buitelandse beeld te probeer beskerm: die besluit is reeds geneem! Werkende mense het darem n idee van “werk vir wat jy het en/of benodig” en dit is beslis nie die ANC se grootste kiesersbasis nie. Go figure…

Lana

Spesifiseer wat jy bedoel.

Vergadering klug

In my dorp, Middelburg in Mpumalanga, word dit in ‘n klein gemeenskaps-saal gehou in die middel van die lokasie. Nie eers die munisipaliteit het al ooit een van hul vergaderings daar gereël nie, maar reël dit altyd in die groot saal in die dorp, langs die munisipaliteit self. Ek sal nooit veilig voel om vrou-alleen na die middel van die lokasie te ry na ‘n saal waar ek nie eers plek sal kry om te sit/staan nie, selfs al vat ek af van die werk.

HPV

Met die eerste onteiening sonder vergoeding sal ‘n lang nag vir Suid Afrika aanbreek. Geen maar geen buitelandse beleggers, geen Rand waarde, ergste sanksies ooit, uittog van SA burgers, duisende meer werkloses, totale anargie, genoeg gesê…