‘Werkende mense uitgesluit by deelnameverhore oor onteiening’

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die mediakonferensie. Foto: Reint Dykema

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê dit is onaanvaarbaar dat werkende Suid-Afrikaners uitgesluit word van die openbare deelnameproses wat deur die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee gereël word oor onteiening sonder vergoeding.

Dít kom nadat die komitee bekend gemaak het dat alle openbare deelnamevergaderings om 11:00 in die oggend sal afskop.

Die burgerregte-organisasie sê hy het vroeër aan die komitee geskryf en gewaarsku dat die organisasie weens ’n verskeidenheid ooglopende prosedurele gebreke regsadvies sal inwin oor die proses wat gevolg word om met die publiek te konsulteer.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het in ’n brief aan die voorsitters van die parlementêre komitee gesê die gevolg hiervan is dat werkende mense – en diegene wat mees waarskynlik eienaars van privaat eiendom is – van die proses uitgesluit word.

“Dit is onverstaanbaar dat ’n proses van openbare deelname georganiseer word met die doel om die publiek se insette oor onteiening van privaat eiendom te kry, terwyl die einste mense wat die risiko loop om hul eiendom te verloor by die proses uitgesluit word,” het Roets gesê.

Roets sê dit kom vir die organisasie voor of die proses “op ’n bepaalde wyse gestruktureer en gemanipuleer word” met die doel om ’n bepaalde uitkoms te verseker – naamlik ’n uitkoms wat strook met die standpunt van die regerende party.

Die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee oor onteiening sonder vergoeding het Sondag gesê hy gaan ʼn verskaffer inkontrakteer om te help om die meer as 700 000 insette te analiseer. Insette waarvan die outeur nié geïdentifiseer word nie, sal as ongeldig verklaar word.

Die komitee sal ook van 27 Junie tot 4 Augustus openbare verhore in al nege die land se provinsies hou om die voorgestelde wysiging te bespreek. Die verrigtinge skop glo dié week af in Limpopo en op 27 Junie in die Noord-Kaap.

Mondelinge vertoë sal van 7 tot 17 Augustus in die parlement aangehoor word. Daarna sal die komitee oor sy konsepverslag beraadslaag wat na verwagting op 11 September 2018 gereed sal wees, waarna aanbevelings aan die Nasionale Vergadering gemaak sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Grassie ·

Die hele proses is net een groot blufspel. Die ANC het mos reeds besluit dat die proses sal voortgaan – hul president het dit mos al herhaaldelik hier en in die buiteland verkondig. Al wat hulle nou probeer bereik is om die buiteland ‘n rat voor die oë te draai met die storie dat die oorgrote meerderheid van die “peoples” dit so wil hê en dat dit dus hul demokratiese plig is om die wil van die burgers van die land uit te voer. Dit is dan ook die rede waarom die byeenkomste op plekke en tye gehou gaan word waar dit vir die wittes moeilik en selfs gevaarlik gaan wees om by te woon terwyl die ander in busvragte vol aangery kan word. Dit is opmerklik dat al hierdie dinge inderhaas voor die verkiesing deurgestoomroller word.

Hanna Hoekom ·

“Openbare deelname” is maar net n term om ons heuning om die mond te probeer smeer en buitelandse beeld te probeer beskerm: die besluit is reeds geneem! Werkende mense het darem n idee van “werk vir wat jy het en/of benodig” en dit is beslis nie die ANC se grootste kiesersbasis nie. Go figure…

HPV ·

Met die eerste onteiening sonder vergoeding sal ‘n lang nag vir Suid Afrika aanbreek. Geen maar geen buitelandse beleggers, geen Rand waarde, ergste sanksies ooit, uittog van SA burgers, duisende meer werkloses, totale anargie, genoeg gesê…

Eish ·

Dit moet nou maar kom en klaarkry.
Die nag is gewoonlik op sy donkerste net voor die dag breek.
Ek hoor nie dieselfde klas van besware van Agri SA, die boeregemeenskap se verteenwoordger nie.

Johan ·

Met die EFF op die paneel weet ek nie of enige iemand wat met hulle saam stem nie…n gleentheid gaan kry om enigsins iets te sê oor die nie…..ek verwag gaos soos in die parlement…..hou die spasie dop….

Tyd en geografies uitgesluit ·

Dit is nie net tydsgewyse uitsluiting nie maar ook geografies want die gesprekpunte is in areas ver van grondeienaars en naby sentrums van mense wat kommunisme voorstaan. Dit is uitsluiting in ergste graad en ons sal dit nie aanvaar nie.

Boervrou ·

Ons sal sover moontlik dit moet bywoon ons gaan nie weer kans kry nie glo my.
Indien nie gaan hul net eenvoudig sê jy’t nie protes gaan aanteken nie. Dit word aanvaar jul stem saam.
Is daar iemand wat die lys van vergaderings en datums kan verskaf. Afrisake het gevra almal moet woensdag by Coro Creek Nylstoom bymekaar kom , het iemand inligting daaroor asb.

Skepties ·

Waarom is die vergaderingvenues gekies om ver van die wat benadeel sal word en naby die wat dink hulle gaan bevoordeel word gehou?

Rupert Ashford ·

En jou fisiese veiligheid sal nie gewaarborg kan word nie want die opgeswepe massas sal heel waarskynlik enigiemand wat hom teen die konsep uitspreek fisies aanrand.

Kommissie self waarsku ·

Ja die kommissie het vandag openlik op tv gese hulle kan nie fisiese veiligheid waarborg nie, dis mos intimidasie en ongeldigheid wat die internasionale gemeenskap van moet hoor hoe ‘demokraties’ die nuwe sa is.

1+1 ·

Daar moet geen twyfel wees oor die’ party se werkswyse tydens onderhandelinge nie. Hulle is toneelspelers by uitstek wat ‘n mengsel van manipulering en intimidasie in onderhandelingsprosesse gebruik. Ons het dit in die meeste sektore van die samelewing gehoor en gesien waar dinge nou “skeefloop”, Hierdie is ‘n direkte gevolg van nie “in goedere trou”, onderhandel nie. Ek kan nie glo dat dit moontlik is dat daar ‘n gebrek aan onderhande-lingsintegriteit is nie. Dit wil voorkom of die “wortel” van die probleem steeds nie ge-identifiseer en aangespreek word nie.

Jo ·

Voor hulle als van ons vat moet orania uitgebrei word om ons te akkomodeer.

Alida ·

Ek dog jy is al daar Jo!!! Laat weet vir ons asb of daar werkgeleenthede is.

Elizabeth ·

Orania is lankal oorlede. Ons het meer as ‘n jaar probeer om soontoe te gaan, maar hulle antwoord nie telefone of e-posse nie en indien mens hulle wel in die hande kry, kan hulle jou nie help nie. Daar is reeds baie Afrikaners in plekke soos Jeffreysbaai, ens. Kan ons nie almal soontoe gaan nie?

Elizabeth ·

Het julle al gekyk na Orania se reëls? Dit is net so inperkend as wat ons tans op ander plekke leef.

Liebenberg ·

Ons kan gaan waarheenookal maar ons moet gou besluit waarheen want binnekort gaan ons ons grond en besittings verloor.

Casper Labuschagne ·

Dit is gewoonlik die rede hoekom die kommuniste triomfeer want hulle praat en praat en praat totdat werkende mense uit frustrasie opgee en eerder gaan doen wat hulle die beste kan doen, naamlik om geld te maak en beduidende werk te skep. Geldmaak en om beduidende werk te skep is twee dinge wat die immer pratende kommuniste nog nooit kon regkry nie.

koos vorster ·

N mens sou vir wag dat so n belanrike saak soos n verandering aan n land se grondwet ,n referendum deur enige regdenkende mens as noodsaaklik beskou sou word sodat elkeen sy/haar stem in die geheim sou kon uitbring
Ons gelowiges sal verseker hier die bedruiging vir ons en die land, aan ons
Hemels Vader wat in beheer is. Opdra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.