Werker deur 8 gewapende mans op kleinhoewe oorval

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Werker op ʼn kleinhoewe in Cullinan moes Vrydag tydens ʼn gewapende roof luister hoe sy aanvallers bespreek hoe hulle hom gaan doodmaak en sy lyk in ʼn dam gooi.

Konst. Connie Moganedi, woordvoerder van die polisie, het gesê die 55-jarige man is omstreeks 18:00 deur drie gewapende mans oorval voor sy huisie op ʼn kleinhoewe in Bynespoort. Hulle het sy hande agter sy rug vasgebind met kabelbinders en die heksleutel vir die hoofhuis op die kleinhoewe geëis.

Die rowers het die man na sy werkgewer se huis gesleep. Die huis was gesluit en niemand was tuis nie, het Moganedi gesê. Nog vier gewapende rowers het by die groep aangesluit, terwyl ʼn agtste rower by die hek wag gehou het. “Hulle het ʼn stortvenster oopforseer en ingeklim. In die huis het hulle die veiligheidshek in die kombuis en die twee kluisdeure oopgesny,” het Moganedi gesê.

Die verdagtes het verskeie jaggewere, sakke vol klere en elektroniese toestelle gevat en in ʼn Toyota bakkie gelaai wat op die erf gestaan het. Hulle het die werker ook in die voertuig in boender en na ʼn dam naby Mamelodi Crossing in Pretoria gery.

“Daar het hulle bespreek hoe hulle die werker gaan doodmaak en sy lyk in die dam gooi,” het Moganedi gesê. “Een van die rowers het by die ander gepleit om nie die werker dood te maak nie. Hulle het hom toe vasgemaak en in ʼn beboste gebied gelos.”

Volgens Moganedi kon die werker later daarin slaag om los te kom en na ʼn nabygeleë pad te stap waar hy hulp ontbied het.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het Moganedi gesê. ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stefaan ·

Agt rowers? Was hulle doel nie maar om nog ‘n plaasmoord te pleeg nie? Vra maar net.

Jaco ·

Dankie tog die werker leef nog en dat sy werkgewer nie tuis was nie, ons kon n hele ander storie hier gelees het. Die mense van die kleinhoewe moet wakker wees, die skottels mag dalk terug kom.

Fanie ·

Ja en nou is daar weer wapens gesteel om meer “crime” te pleeg. Dit is mos nou weer Desember.

Gideon ·

Fanie nou wat moet mens maak met ons wapens? Mens mag nêrens gaan met wapens nie, by winkelsentrums, banke orals word mens deursoek. So ons laat dit tuis veilig toegesluit sodat mens dit kan gebruik as misdadigers opdaag!

adriaan ·

Dink nogsteeds dit sal n goeie idee wees om absuluut almal bo 21 te laat wapens dra, en opgely word, en dan kyk ons oor n maand of wat hoeveel boewe oor is.

Irene Myburgh ·

Adriaan so ‘n mond moet jam kry. Ek stem 150% saam.

Boervrou ·

Dit maak mens so hartseer… elke dag moet ek en my dogters voor ons by ons plaas stop bid, vining stop rond kyk deure oopmaak toemaak tot ons in ons huis is, deur die nag kan mens nie eers meer rustig slaap nie want jy het die vrees van as jy jou oë oopmaak dat daar ‘n gedoente voor jou staan en jy nie betyds is vir jou vuurwapen nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.