Werker erg beseer toe hy kind teen hond beskerm  

ʼn Werker van ʼn Durbanse skool is Dinsdagoggend ernstig beseer toe hy ʼn jong kind teen ʼn hond wou beskerm. (Foto: ALS Paramedics)

ʼn Werker van ʼn Durbanse skool is Dinsdagoggend ernstig beseer toe hy ʼn jong kind teen ʼn hond wou beskerm.

Volgens die nooddiens ALS Paramedics het die voorval omstreeks 07:00 buite ʼn skool in Gordonweg in Windmere plaasgevind. Die kind het saam met ʼn vrou gestap toe die hond glo uit ʼn erf op die meisie afgestorm het.

Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS, sê die pad was reeds gesluit by paramedici se aankoms op die toneel. Die polisie was ook reeds op die toneel.

“Paramedici is na ʼn man in sy 40’s geneem wat verskeie ernstige bytwonde aan sy lyf opgedoen het.

“Hy is deur ʼn pitbull aangeval.”

Volgens Jamieson is gevorderde lewensondersteuningstoerusting ingespan om die man te stabiliseer voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is.

Die jong kind, wie se ouderdom nie bekend is nie, is ook op die toneel behandel en na ʼn hospitaal geneem.

“Volgens inligting het ʼn vrou en ʼn jong kind in die rigting van die skool gestap toe ʼn pitbull by ʼn nabygeleë huis uitgehardloop en op die kind afgepyl het. Die man, ʼn werker by die skool, het die kind beskerm en waarskynlik haar lewe gered.”

Dié aanval kom enkele dae nadat ʼn kleuter in die Durbanse Bluff ook deur ʼn hond – glo ʼn pitbull – aangeval is.

Maroela Media het ʼn navraag oor die jongste voorval aan die polisie gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Dankie vir die man wat probeer keer het. Dit moet vreesaanjaend wees.

Dandeleen ·

Liewe George, wat jy eintlik bedoel is nog ‘n eienaar wat nie seker maak dat sy hond in sy erf bly nie, en ja Ragnarok hulle is baie liefdevol. Ek wens die media wat die soort stories plaas kan aandui of dit ‘n pitbull is of ‘n kruising dit sal baie vir die spesie beteken.

Ragnarok ·

Dandeleen. Ek ken iemand wat n pit / lab kruising het. Oulike hond. Die volbloed gediertes kan mens nie lees. Jy weet nie waar jy met hulle staan nie

hpven ·

Ek was ook aangeval deur ‘n pitbull wat soos ander gevalle ook uit sy erf ontsnap het. Hierdie tipe hond val jou dadelik aan as hy in ‘n straat kom, ander honde blaf net, volg jou en keer dan terug na sy erf. As gereelde drawwer en stapper kan ek getuig daarvan.
Die pitbull wat my aangeval het, het gelukkig net sy tande na ‘n “gunfight” gebring. Dit sal nooit weer iemand aanval nie!

Ragnarok ·

Waarnemer. Pitbulls word ongelukkig gereeld verwar met bullterriers. Lg is lieflike honde. En uit my ondervinding, uitstekend met kinders.

Skappie ·

Dankie vir die werker wat die kind probeer beskerm het. Mag jy herstel van jou beseerings.

Manie ·

Daar is sekere mense wat dink dis ‘n hengse status simbool om pitbulls/kruisings aan te hou en dan nog die vermetelheid het om met hulle sonder leibande te stap. Ek sien dit daagliks in ons woonbuurt. Wanneer jy hulle daaroor durf aanvat, het hulle gewoonlik ‘n bekvol te sê. Sedert ‘n noue ontkoming ‘n paar jaar gelede, stap oom Dirty Harry maar langs my sy.

bolletjie blom ·

Elke hond is nou ‘n pitbull. Ek dink mense sal tot sê dit is ‘n pitbull as dit ‘n poedel was wat aangeval het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.