Werker ‘gee lewe’ toe lodge brand

Ivan Lebentlele (37) het sy lewe vir die lodge gegee [Foto: Verskaf]

Ivan Lebentlele (37), ’n werknemer van die Borrelskop-lodge by Delportshoop in die Noord-Kaap, het altyd gesê hy sal sy lewe vir die lodge gee. Dit is toe ook presies wat hy gedoen het toe ’n brand Saterdagaand in dié historiese gebou uitgebreek het.

Lebentlele, wat die afgelope 11 jaar reeds hier werk, was Saterdag aan die voortou van pogings om die gebou van die vlamme te red. Ondanks sy en ander weldoeners se verbete pogings is die gedeelte van die lodge waar die brand uitgebreek het, egter heeltemal in die brand verwoes.

Die lodge word as historiese gebou bestempel en is een van die oudste geboue op Delportshoop.

Volgens Minnie Steinmann, die eienaar van die lodge, was dié geboue op die plek waar die dorp Delportshoop sy ontstaan gehad het.

Die brand het kort voor middernag in die een gedeelte van die lodge uitgebreek waar die linnekamer, kroeg, twee konferensievertrekke en die restaurant geleë is.

Een gedeelte van die lodge is heeltemal in die brand verwoes [Foto: Verskaf]

Steinmann vertel die plaaslike buurtwag het haar omstreeks middernag gebel en van die brand in kennis gestel. Sy het die aand in haar dorpshuis oornag. Sy slaap gewoonlik in haar huis by die lodge.

“Die buurtwag het gesê daar kom rook uit die agterkant van die lodge. Ek het vir Ivan gebel om te gaan kyk wat aangaan. Toe ek daar aankom, was die een gedeelte van die lodge heeltemal in vlamme gehul,” vertel Steinmann.

Volgens Steinmann het die brand vermoedelik in die linnekamer uitgebreek, maar dit kan in dié stadium nog nie bevestig word nie.

Steinmann vertel die boer van die plaas langsaan die lodge was eerste op die toneel en het met emmers en tuinslange die brand probeer blus.

“Terwyl ons die brand probeer blus het, het die krag afgegaan. Die lodge se water is afkomstig van ’n boorgat en toe die krag afgegaan het, kon ons ook nie meer water kry om die brand te blus nie.”

Etlike oomblikke later het talle boere en gemeenskapslede daar aangekom en met brandbestrydingstoerusting die brand help blus.

Die eienaar van die lodge, Minnie Steinmann, sê haar hart is gebreek oor die afgebrande lodge [Foto: Verskaf]

Volgens Steinmann het sy sedert haar aankoms by die lodge nie vir Lebentlele met ’n oog gewaar nie. Sy het sy 15-jarige seun buitekant gekry en hom gevra waar sy pa is. Hy het gesê dat hy ’n dakplaat by die kroeg losgemaak het om in die gebou te gaan.

“Hy het vir sy seun gesê hy moet kyk waar die rook vandaan kom en hy moet dit keer. Hy het egter nie weer uit die gebou gekom nie.

“Ivan se liggaam is naby ’n venster – wat nie diefwering het nie – gevind. Ons vermoed hy wou deur die venster klim, maar die rook moes hom oorweldig het.”

Steinmann sê haar hart is gebreek oor Lebentlele se dood omdat hy vir haar soos ’n seun was. Hy was die afgelope 11 jaar Steinmann se regterhand by die lodge.

“Hy het my met alles by die lodge gehelp – van krane regmaak tot loodgieterwerk doen. Ek kon hom in die dag of nag bel en hy sou onmiddellik reageer en help. Hy was ’n jack of all trades en hy het altyd gesê: ‘Moenie worry nie, Ma, ek is MacGyver, ek kan als doen.’”

Volgens Steinmann was Lebentlele só toegewyd om die gebou te red dat hy in die proses sy lewe verloor het.

“Ek het twee weke gelede vir Ivan gevra of hy Borrelskop ooit sal verlaat. Hy het vir my gesê: ‘Ma, ek sal nooit weggaan van Borrelskop nie. Ek sal my lewe vir die plek gee.’”

Steinmann sê hulle beplan om vandeesweek ’n gedenkdiens vir Lebentlele by die lodge te hou.

“Dít was sy huis en ek dink nie hy sal enige ander plek gegroet wil word nie.”

Kimberley MAC’S Familia 1313-motorfietsklub het Sondagoggend ’n gebedsdiens voor die afgebrande lodge gehou.

Oor die pad vorentoe kan Steinmann nog nie veel sê nie. Al wat sy nou kan doen, is om stadig maar seker die stukke op te tel.

“Ek is platgeslaan. Soveel gedagtes maal in my kop oor wat my nou te doen staan.”

Steinmann sê die reddingspan kon darem die brand betyds in bedwang bring voordat dit na die ander gedeeltes van die lodge – waar die gastekamers is – kon versprei. Die lodge bestaan uit 16 gastekamers. “Van die toerusting in die restaurant, soos die pizza-oond en ’n paar tafels, kon darem ook gered word. Ek het ook die gordyne in die konferensievertrekke betyds afgeruk.”

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die oorsaak van die brand ondersoek word.

“Die polisie ondersoek of dit brandstigting was of weens natuurlike oorsake ontstaan het.”

Die brand het Saterdag omstreeks middernag in die lodge uitgebreek [Foto: Charne Steinmann, Facebook)

’n Groot gedeelte van die historiese Borrelskop-lodge het afgebrand [Foto: Verskaf]

 

Die brand het kort voor middernag in die een gedeelte van die lodge uitgebreek waar die linnekamer, kroeg, twee konferensievertrekke en die restaurant geleë is [Foto: Verskaf]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Phillip ·

Ai baie strekte en ook aan die eister van julle Regterhand wat om gekom het

Robert ·

Aaai, so hartseer. Ivan Lebentlele se soort is dun gesaai in hierdie wereld.

Rudolph ·

Ek dink om te sê ‘gee sy lewe’ is disrespekvol en laat dit klink asof dit aanvaarbaar is. Hy het sy lewe verloor, nie gegee nie.

Mariana ·

Ek dink dit gaan meer oor sy woorde dat hy sy lewe vir die lodge sou gee. Dat hy dit toe verloor het is hartseer.

Mariana ·

RIV Ivan. Sterkte aan sy familie en ook die lodge eienaar.

Margaret ·

Siestog, dit is baie hartseer. So jammer dat Ivan sy lewe verloor het, n dapper man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.