Werker, makker swaar gevonnis ná moord op vrou

Ina Smuts Marincowitz. Foto: Via Facebook

Louis Baardman (36) en Phillip Nel (41) is Maandag in Stormsrivier in die Oos-Kaap gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan die moord op Ina Smuts Marincowitz.

Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê Baardman en Nel is in die Stormsrivier-streekhof gevonnis in verband met die moord op die 59-jarige Marincowitz drie jaar gelede.

Marincowitz is op 27 Januarie 2014 in Stormsrivier vermoor nadat sy vir Nel aangestel het om opknappingswerk by haar huis te verrig.

“Die hof het gehoor dat Nel en Baardman toegang tot Marincowitz se huis verkry het. Hulle het haar eers aangerand en later haar liggaam in nabygeleë bosse gestort,” het Nkholi Dinsdag gesê.

“Die twee het Marincowitz se voertuig, klere en huisware van nagenoeg R80 000 gesteel en van die toneel gevlug.”

Die polisie het op die dag van die moord Marincowitz se voertuig op die N2-snelweg opgemerk. Die insittendes se optrede was verdag en die polisie wou die voertuig voorkeer. Die bestuurder het weggejaag en die polisie het hulle agternagesit.

“Die bestuurder het sowat 15 km buite Stormsrivier beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan. Die mans is in hegtenis geneem. Die polisie het later vasgestel dat die voertuig gesteel was, waarna Marincowitz se liggaam uitgewys is.”

Die hof het Baardman en Nel Maandag elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van moord. Hulle is ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.

Staatsaanklaer Johan Jansen het tydens die vonnisoplegging gesê hy is tevrede met die manier waarop al die rolspelers in die polisie die saak van die begin af hanteer het.

Brig. John Lebok, bevelvoerder van die Humansdorp-polisiëringsgebied, het die swaar vonnis verwelkom. “Dit sal ʼn sterk boodskap stuur aan dié wat sulke afskuwelike dade wil pleeg. Die vonnis sal ook die gemeenskap se vertroue in die strafregstelsel versterk,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skybird ·

Sjoe! Ek ken nie die omstandighede nie , maar het die kriminele eers vakansie gaan hou om na 3+ jaar eers gevonnis te word ?

Bokkie ·

Wonder net – verdagtes word dieselfe dag in hegtenis geneem – maar vat amper 4 jaar om hulle te vonnis.

Bokkie ·

Wonder ook net – verdagtes word dieselfde dag in hegtenis geneem – neem amper 4 jaar om hule te vonnis. Gratis boarding & lodging?

leon ·

Jip…. 5 ster verblyf met meer regte as die mense (ek en jy), wat vir die sorg, medies, vermaak en etes betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.