Werker sterf in kombuisbrand by natuurreservaat

ʼn Werker is dood nadat ʼn brand die afgelope naweek in ʼn gemeenskaplike kombuis by die personeel se blyplek by die Hluhluwe iMfolozi Park-natuurreservaat uitgebreek het. (Foto: Verskaf)

ʼn Werker by Ezemvelo KZN Wildlife is dood nadat ʼn brand die afgelope naweek in ʼn gemeenskaplike kombuis by die personeel se blyplek by die Hluhluwe iMfolozi Park-natuurreservaat in KwaZulu-Natal uitgebreek het.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, sê die brand het Vrydagoggend uitgebreek, vermoedelik weens gas wat gelek het. Die vrou was ten tyde van die brand in die kombuis en het 90% brandwonde oor haar lyf opgedoen.

Dit is as ʼn fratsvoorval bestempel.

“Sy is kort ná die ongeluk, omstreeks 07:00 Vrydag, met ʼn helikopter na die Richardsbaai-hospitaal geneem. Sy het twee dae later aan haar wonde beswyk,” sê Mntambo.

Die voorval is by die provinsiale departement van arbeid en indiensneming aangemeld en ʼn interne ondersoek is reeds van stapel gestuur.

“Die uitkoms van hierdie ondersoek sal nie net die werklike oorsaak van die brand bepaal nie, maar ook aanbevelings maak oor hoe soortgelyke voorvalle voortaan voorkom kan word.”

Ntsikelelo Dlulane, waarnemende uitvoerende hoof van Ezemvelo KZN Wildlife, het sy medelye met die vrou se familie betuig.

“Dit is altyd hartseer as ons een van ons personeellede so verloor. Ons dink aan haar familie en vriende en bid dat God aan hulle die vertroosting sal gee wat hulle in hierdie tyd nodig het,” sê Dlulane.

Dlulane sal ook die vrou se familie saam met lede van die instelling se welstandseenheid besoek.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om haar familie te ondersteun.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Franz ·

Wonder maar net of dit n gas geiser is wat op die laaste foto is,wat binne in die gebou is,dit mag mos nie.

Tanniepetoors ·

Die gasbottel is buite te sien op die eerste foto. Waar wil jy die geyser hê? Ook buite? Wat is die doel dan. Gasgeysers binnenshuis is heeltemal wettig indien die gasbottel buite is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.