Werker sterf in Paarl-silo

Die plaaslike nooddienste en brandweer is die Woensdagmiddag na die toneel ontbied (Foto: Verskaf)

ʼn 32-jarige werker wie se naam nie bekend gemaak is nie, is dood toe hy in ʼn silo by ʼn voermaatskappy in die Paarl, Wes-Kaap, geval het.

Die voorval het Woensdagmiddag by Meadow Feeds in die Paarl plaasgevind. Deanna Bessick, woordvoerder van Paarl se plaaslike nooddienste, sê paramedici is net voor 16:00 na die toneel ontbied. Die Paarl-brandweer is ook na die toneel ontbied.

Michael Schmitz, besturende direkteur van Meadow Feeds se voerafdeling, sê die oorledene en nog twee mans was gekontrakteer om die silo skoon te maak.

“Werkers word gewoonlik gekontrakteer om die produkte wat teen die silo se mure vassit, skoon te maak voordat nuwe produkte in die silo gegooi word,” sê Schmitz. “Die oorledene en nog twee mans was gekontrakteer om een van ons silo’s, wat vismeel bevat, se mure skoon te maak.”

Schmitz sê die oorledene is met ’n hystoestel in die silo laat afsak om die vismeel van die muur af te krap.

“Hy het al die normale regulasies gevolg voordat hy in die silo afgedaal het. Dit sluit onder meer ’n suurstoftoets in. Hy het ook ʼn harnas gedra.”

Volgens Schmitz het daar iets tegnies fout gegaan met die hystoestel en die werker het in die silo geval.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die man het na bewering versmoor.

Die plaaslike nooddienste het beheer geneem van die reddingspoging en saam met die brandweer gewerk om die liggaam uit die silo te haal.

Volgens Schmitz kon hulle aanvanklik nie die liggaam van bo die silo gewaar nie en moes die vismeel onder in die silo verwyder word, totdat die liggaam te voorskyn gekom het.

Schmitz het namens die maatskappy sy innige medelye met die oorledene se familie betuig. ʼn Roudiens is Vrydag vir die oorledene gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peetjie ·

Innige simpatie met sy gesin familie en vriende. Dit is n aaklige dood …

Anoniem ·

Simpatie en meegevoel met die familie en Werkgewer, baie sterkte.

MakersMark ·

Die werkgewer is 100% verantwoordelik. Sou graag die risiko analise, “work method and statement” en nood opvolgplan wou sien……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.